Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Toyota Enviro Outreach: Naomi Bruwer gesels met Gerhard Groenewald


Naomi Bruwer - 2009-09-25

LitNet is vir die volgende paar weke 'n mediavennoot van die Toyota Enviro Outreach - 'n omgewingsprojek wat met 'n klein groepie spesialiste 'n reuse-effek ten gunste van bewaring van ons natuurlike erfenis in Suidelike Afrika bewerkstellig. Naomi Bruwer het op Klipbokkop, 'n bergoord tussen Villiersdorp en Worcester en tuiste van die Klipbokkop Goodyear 4x4 Academy, gaan kuier om Gerhard Groenewald, die meesterbrein agter die projek, uit te vra en agter die kap van die byl te kom ... Min het sy toe geweet dis 'n uiters onvanpaste metafoor.

"Jy sou 'n baie beter mens gewees het as jy net 'n bietjie minder inisiatief gehad het," het Gerhard Groenewald se pa eendag vir hom gesê toe dit duidelik word dat Gerhard hom nie steur aan die ongeskrewe reël, "Mens kan net soveel doen" nie. Nog onbewus van hierdie woorde, was my eerste gevoel toe ek Gerhard se hand druk op Klipbokkop presies dit: Hier is 'n goeie mens.

"Die bobbejane van Klipbokkop het kom probeer help pak aan die toergoed oornag, maar nog opleiding is nodig," verduidelik Gerhard op pad na die konferensiesaal - 'n paar kartonne is ongewens oopgeskeur, maar gelukkig geen skade nie. Die koffieperkoleerder word aangesit en ons raak solank aan die gesels; en kort voor lank is die lus na koffie vergete.

Die projek het oor die afgelope nege jaar gegroei van die 4x4 Eco Challenge tot die Toyota 4x4 Conservation Outreach verlede jaar, en vanjaar is dit verbreed tot die Toyota Enviro Outreach. Ek wonder waar die oorsprong is en Gerhard vertel:

Dit het tien jaar gelede begin, toe 4x4's nie so 'n goeie naam gehad het nie. Mense vergeet dit dalk nou, maar tien jaar terug was dit hoofsaaklik 'n brandewyn-brigade. Klipbokkop Goodyear Academy was betrokke by navorsing vir die laaste 20 jaar, waar ons ondersteuning en logistiek gee vir navorsing. Toe het ons navorsingsprojekte al hoe groter begin raak en ons moes nog mense intrek, maar die mense wat kan goed ry, was baie keer van die wilde span. Ons het mense gesoek wat saggies kan trap. Toe het die besef gekom dat mens moet begin met opleiding. Leer vir mense die respek vir die natuur en kennis van die natuur. Ons het 'n kompetisie daarvan gemaak. Die ou wat die sagste trap en die mooiste kan ry, gaan saam op 'n unieke trip - Kunene-mond, Angola-kus, Luwa-plein - plekke wat toe onbekend was.

Die ding het ontwikkel en gegroei, maar toe het almal met die kompetisie-ding begin. Daar was op 'n stadium nege kompetisies vir 4x4-ry. Ons het besluit dit raak nou 'n massamark en ons wil nie meer deel daarvan wees nie, want die ander kompetisies het weer begin met kyk wie die vinnigste kan ry, wie die hoogste kan spring met 'n voertuig, wie die meeste sand kan opgooi om 'n draai - dit het begin teruggaan na juis dit wat ons probeer verander het. Nou help ons navorsing in Afrika: skoon water, skoon lug - dis waaroor dit gaan; dis die toekoms.

Gerhard is heeltemal gekant teen 4x4-ryers wat wild en woes rondkerjakker, sonder respek vir die omgewing, en sodoende aan almal 'n slegte naam gee. Volgens hom is hierdie tipe 4x4-ryers gelukkig aan die uitsterf:

Vandag is meer as 90 persent van 4x4-ryers reeds ingestel op bewaring. Hulle trap gou 'n ou vas wat uit sy spoor uit gaan. Daar's geweldig groot krag daar buite teen verwoesters.

Afrika het soveel om te bied, maar ongelukkig het jy 'n 4x4 nodig om daarby uit te kom. 'n Ou wat in Suidelike Afrika bly, behoort 'n 4x4 te ry as hy uit die dorp wil kom. Ongelukkig is daar in ons land geen reël wat sê jy moet opleiding hê vir 'n spesifieke voertuig nie, maar 'n voertuig maak 50 keer meer skade as 'n vuurwapen, en weet jy hoeveel lisensies het jy nodig om een vuurwapen te kry? 'n 4x4 kan baie meer skade berokken aan ons erfenis, aan hierdie stukkie aarde waarop ons leef. Al is ons 'n klomp mense wat werk hieraan, gaan ons dit nie regkry sonder opleiding nie. Om dit met 'n storie te probeer verduidelik: Op 'n plek in Namibië het hulle 'n 25-mm-ysterkabel gespan, maar mense het dit met ystersae deurgesaag om daar te gaan 4x4. Tot hulle 'n bord opgesit het wat sê daar is 54 broeipare Damara-sterretjies oor wat nog broei op net hierdie stukkie aarde - toe lê die kabel stukkend en niemand ry daarin nie.

Een van die hoofdoelwitte van die Toyota Enviro Outreach is opleiding. Die South African Wildlife College (SAWC) is een van die hoofvennote in hierdie projek. Opleiding is volgens Gerhard een van die grootste tekortkominge en ook grootste noodsaaklikhede in Afrika, en deur hierdie projek wil hulle juis dit bereik:

Opleiding - dis wat Afrika kort. Ons moet vir Afrika 'n visstok gee en ophou visse uitdeel. Dis presies wat ons met die Toyota Enviro Outreach doen.

In ons toer gaan besoek ons oudstudente van die SAWC wat nou werksaam is in parke regoor Suidelike Afrika. Theresa Sowry (SAWC se uitvoerende bestuurder: Opleiding) maak kontak met hulle, doen evaluasie om uit te vind watter opleiding kort hulle nog, en gee beurse vir verdere opleiding en ook vir nuwe studente. Ons het die afgelope twee jaar gesien die mense wat by die SAWC was, klím nie net die leer nie - hulle spríng hom.

Hierdie opleiding is veral belangrik vir die oorgrensparke. Om 'n klein voorbeeldjie te noem: In die oorgrenspark tussen Botswana en Suid-Afrika is daar nie eens 'n draad nie. Aan daardie kant van die denkbeeldige lyn mag jy hout optel om vir jou 'n vuurtjie te maak; hierdie kant van die denkbeeldige lyn kan hulle jou toesluit as jy uit jou kar uit klim. Daar is nog nie oorkoepelende opleiding om hierdie lugleegte te oorbrug nie. Dit is een van die goed waarmee ons besig is.

Volgens Gerhard kan 'n volhoubare omgewing slegs geskep word indien mense besef dat opleiding nodig is om die regte bestuur te kan toepas. Suidelike Afrika, Suid-Afrika inkluis, het 'n breër visie nodig wat toekomsgerig is:

In Suid-Afrika het ons 'n wonderlike bestuursisteem, met goed wat werk - ons het brandstof, ons het voertuie en ons het kundige mense. Nie een van dié goed wat ons as logies beskou, bestaan orals in Suidelike Afrika nie. Die antwoord in Afrika lê in opleiding, nie in donasies nie. Donasies sal volg as basiese bestuur regkom.

Op die Outreach is daar drie groepe wat gelyktydig opleiding gee: daar is die Wildlife College, 'n tweede groep wat fokus op wilddiefstalbeheer, en 'n groep wat probleemdierhantering aanspreek. Ons het laasjaar in 'n vergadering gesit in die Suid-Luangwa Nasionale Park toe 'n man hom gou verskoon om 'n olifant te loop skiet wat 'n huis bestorm het - hy was terug voor die vergadering klaar was asof niks abnormaal gebeur het nie - alles in 'n gewone dag se werk. Suider-Afrika het 50 000-60 000 olifante te veel. Hierdie mense bestuur waar Suid-Afrika verkrag, want ons is besig om een spesie te beskerm en die res te vernietig. Dis tyd dat mense se oë oopgaan. Organisasies soos Greenpeace doen goeie werk, maar hulle raak onrealisties wanneer dit kom by bestuur. Daar's net twee opsies in Suidelike Afrika: iemand moet begin mense skiet, of iemand moet begin olifante skiet - daar is nie 'n alternatief nie. Die mens is op aarde om te bestuur - as ons wil drade span en parke maak en mense beskerm, moet ons die diere bestuur.

Die tweede hoofdoelwit van die Toyota Enviro Outreach is navorsing. Deur hierdie projek kry navorsers met beperkte fondse die geleentheid, en die regte wiele, om noodsaaklike navorsing op afgeleë plekke te doen. Een van hierdie navorsers is prof Michelle van der Bank van die Universiteit van Johannesburg se Departement Botanie en Plantbiotegnologie, wat besig is met die DNS-kodering van plante om identifisering makliker te maak. Gerhard is opgewonde oor die moontlikhede wat haar navorsing inhou:

Op die oomblik ontbos hulle Afrika teen 'n spoed wat jy nie kan beskryf nie, maar daar is maar iets soos twee mense in Suider-Afrika wie se woord kan aanvaar word in 'n hof dat dit hierdie of daardie boom is. Michelle van der Bank-hulle is besig om 'n masjientjie te ontwikkel wat met DNS-kodering kan sê: hierdie boom kom daarvandaan en dit is dit. Jy het byvoorbeeld toestemming om dennehout te kap, maar jy daag met geelhout by die grens op. Ek gaan nie eens die verskil ken nie. Hoe moet daardie grensposbeampte nou 'n ingeligte besluit neem? En as hy dit doen, gaan dit jare vat om dit in die hof te bewys. As ons hierdie projek kan deurtrek en daar is 'n masjientjie wat dit onmiddellik kan bepaal, kan dit die redding van Afrika wees.

Ek het een aand in 'n baie warm gesprek vir 'n ou gesê: "Gee vir my 'n tjekboek, en ek gee vir jou 'n Groot Vyf-plaas." Of jy hom in die middel van die Namib-woestyn wil hê of in die Knysna-woud - dis net die tjekboekdikte wat verskil. Gaan kyk wat hulle in Dubai gedoen het met 'n tjekboek - daar is grootwildplase in die middel van die woestyn. Gee vir my 3 000 jaar en ek gee vir jou 'n plaas met bome. 'n Hardekoolboom het so 3 000 jaar nodig om 'n mooi boom te word; jy mag 'n geelhoutboom eers saag op 300 jaar.

'n Ander navorsingsprojek wat deur die Toyota Enviro Outreach ondersteun word, is rondom suiwer water en die toetsing van watergehalte. In hierdie afdeling staan WESSA (Wildlife and Environment Society of Southern Africa) sentraal. Gerhard verduidelik dat dit een van die navorsingsprojekte is wat die hele gemeenskap betrek:

Bryan Havemann van WESSA gaan spesifiek saam om klein toetsapparaatjies (deur WESSA ontwerp) aan die gemeenskap uit te deel waarmee hulle hul eie water kan toets. Hy het spesiale gemeenskapsprogramme uitgewerk vir hierdie Outreach wat fokus op die mense wat teen die grense van die parke bly.

Die kerngroep van die Toyota Enviro Outreach bestaan uit 22 mense wat spesialiste op hul gebied is; altesaam tien Toyota 4x4's. Tydens die reis sluit media, parkebestuur en spesialiste aan wat die groep tot ongeveer dertig siele laat groei. Gerhard het die logistiek tot op die laaste minuut uitgewerk, sodat daar geen oomblik sonder waarde verby gaan nie, ten spyte van politieke kwessies:

Daar is niemand onnodig op hierdie Outreach nie - ons het dit gesny tot op die been. Mens kan nie net 'n klomp voertuie in Afrika instuur en sê jy gaan nou iets goed doen nie - dit raak 'n sirkus. Ons is tien voertuie met net die nodige mense - elkeen is 'n kenner op sy eie gebied. Elke ou is daar vir 'n job.

Mense vra ons oor Zimbabwe. Ek het niks met Zimbabwe se politiek te doen nie. Zimbabwe deel ons diereryk. Ons diere trek heen en weer. As hulle aan daardie kant jag op ons grense, kry ons gewonde olifante in Kruger wat my vrou en kinders kan doodmaak. Selfde met Mosambiek, selfs Malawi - die hele Suidelike Afrika deel 'n diereryk met Suid-Afrika. Ons werk met ons erfenis en opleiding, en nie met politici nie, maar die politici is ons geweldig goedgesind. Ons kry elke jaar 'n brief vir elke grens - ons het nog nooit 'n probleem gehad dat iemand moeilik is nie; ons het nog altyd wonderlike samewerking gekry.

Die sukses van vanjaar se Toyota Enviro Outreach sal nie net bepaal word deur die langtermyn-invloed op die omgewing nie, maar ook deur die betekenis daarvan vir individue. Volgens Gerhard is dit alles op 'n persoonlike vlak:

My grootste oomblik is as jy weer een van die SAWC-studente ontmoet en van niks af nie het hy 'n veldwagter geraak en van veldwagter af het hy logistieke bestuurder van die park geraak. Dan weet ek ons het 'n visstok gegee en hierdie ou gaan 'n wêreldrekord opstel en aanhou vang vir ewig - dit gee my 'n knop in die keel; dit gee my 'n kick. Dis soos vyf sendelinge wat in Afrika ingegaan het om die Woord te verkondig, en daardie vyf het vyf miljoen geraak. Die paar mense wat ons elke jaar raak, maak 'n volhoubare verskil wat groei. Dis ons borge wat dit moontlik maak; hulle moet al die eer kry - dis die ouens wat dit maak werk.

Gerhard het 'n eenvoudige wens vir sy oudag. Hy wil op die stoep sit en weet hy het iets gedoen wat 'n blywende verskil maak, al weet niemand dis hy wat dit begin het nie. Met die wegry vanaf Klipbokkop dink ek daar's net een manier om Gerhard Groenewald op te som: 'n goeie mens met 'n goeie dosis inisiatief.

Vir meer inligting oor die Toyota Enviro Outreach, besoek www.toyotaoutreach.co.za