Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika Wiki: Tydlyn van Nelson Mandela se lewe - IV


2009-09-25


Geskiedenis-bronmateriaal: Nelson Mandela-tydlyn - Politieke jare

Lees artikel 1 hier, artikel 2 hier en artikel 3 hier.

Artikel 4 van 4 in hierdie aflewering: Uittrede

Nelson Mandela was die eerste president van demokratiese Suid-Afrika vanaf 1994. Hier volg die tweede aflewering van 'n tydlyn vanaf sy geboorte in 1918 tot 2008.

1999 - Tree af
Mandela tree af en Thabo Mbeki volg hom op as president. Thabo Mbeki is in 1997 verkies as die nuwe president van die ANC.

2000 - Bemiddelaar
Mandela word aangestel as bemiddelaar gedurende die burgerlike oorlog in Burundi.

Hy begin die Nelson Mandela-uitnodigingsgholftoernooi, wat deur Gary Player aangebied word.

Mandela kritiseer die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, se regering.

2001 - Kanker
Gedurende 2001 word Nelson Mandela met prostaatkanker gediagnoseer en met bestraling behandel.

Hy word 'n ereburger van Kanada.

2003 - 46664-Konsert
In 2003 bied Mandela die 46664-Konsert (vernoem na sy gevangenisnommer) in Kaapstad aan. Die doel van die konsert is om mense meer bewus te maak van MIV/VIGS in Suid-Afrika. Bekende internasionale sterre soos Beyonce, Bono en Youssou N'Dour tree by die konsert op.

Mandela kritiseer die VSA en George Bush se besluit om 'n oorlog in Irak te begin.

2004 - Uittrede
Mandela kondig aan dat hy uit die openbare oog gaan tree.

MIV/VIGS-konferensie
Mandela vertrek na Bangkok om by die 15de Internasionale MIV/VIGS-konferensie te praat.

Vryheid van die Stad
Mandela ontvang Johannesburg se hoogste eer toe hy die Vryheid van die Stad toegeken word.

2005 - Nog 'n seun sterf
Mandela se seun Makgatho Mandela sterf weens 'n siekte verwant aan MIV/VIGS. Mandela besluit om bekend te maak dat sy seun VIGS gehad het in 'n poging om die stigma rondom VIGS te verbreek.

2007 - Afgetrede wêreldleiers
Mandela stig die groep "The Elders" saam met wêreldleiers soos Kofi Annan, biskop Desmond Tutu en Jimmy Carter om probleme regoor die wêreld aan te spreek.

2008 - 90 jaar oud
Mandela se 90ste verjaarsdag word in Suid-Afrika asook internasionaal gevier, o.a. met nog 'n 46664-Konsert by Hyde Park, Londen, om geld in te samel vir MIV/VIGS-welwillendheid.