Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier #6


Coenie Kukkuk - 2009-09-23

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in dié kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

  1. Die hoofnuus in Gay Suid-Afrika op die oomblik is natuurlik Joburg Pride wat plaasvind op 3 Oktober 2009 te Zoo Lake. Dis die twintigste herdenking van Pride, en niemand anders nie as Martina Navratilova het ’n spesiale boodskap vir die feesgangers geskryf. Lees gerus haar boodskap in die spesiale Pride-uitgawe van Gayspeak. (Daar is ook op bl 1 ’n lekker kompetisie om ’n wegbreeknaweek in die Laeveld te wen.) Die nuwe Pride-webtuiste bied al die nodige inligting oor die dag hier. Soos in 2. hier onder berig, is dit uiters noodsaaklik dat soveel mense as moontlik hierdie jaar Pride bywoon – nie net omrede dit die twintigste herdenking is nie, maar ook as gevolg van die aanslag op gayregte wat uit nuwe rigtings geloods word.
  2. Daar was nog altyd die vokale teenstanders van gayregte in Suid-Afrika, soos die ACDP, pastoor Jerome Nel in Knysna (wat die Pienk Loerie teenstaan), die Jon Qwelanes van ons land, en Errol Naidoo van die sogenaamde Family Policy Institute, maar hierdie opposisie het nou ’n nuwe dimensie gekry met die toetrede van pres Zuma se selfaangestelde geestelike leier, pastoor Ray McCauley van Rhema, en die stigting van die The National Interfaith Leadership Council, waarin nie minder nie as vier ANC-LP’s dien. Die Council gaan hom beywer vir die afskaffing van “liberale wette”, waaronder wettige aborsie en gay-huwelike. Nog nooit sedert 1994 was daar so ’n gevaar vir gayregte nie, en dit word nie ligtelik gesê nie. Lees gerus die insiggewende artikel in Mail & Guardian. Uit alle oorde behoort gay mense op te ruk en werk te maak om teenstand te bewerkstellig. Daar bestaan reeds verskeie Facebook-groepe wat dit teenstaan en die leser word aangemoedig om lid daarvan te word – hier is een van die groteres, paslik getitel: “Get your hands off my Rights, Ray McCauley!”. Die maklikste manier om teenstand in groot getalle te wys, is om by Joburg Pride op te daag. Verskeie organisasies en gay-kerke gaan daardie dag hul teenstand teen hierdie groepering wys. (Foto: Rapport).
  3. Mika, die flambojante pop-sensasie, het uiteindelik uit die kas gekom – goed, wel, soort van – dat hy moontlik biseksueel is. Volgens Queerlife.co.za het hy gesê: “I've never limited my life, I've never limited who I sleep with. So, whatever. (…) Call me whatever you want. Call me bisexual, if you need a term for me." Ok, Mika, ons glo jou.
  4. Die streeksuitdunne van Mnr Gay Suid-Afrika™ het ten einde geloop met die aankondiging van die wenner in KZN, Tyrone Roberts, en die wenner in Gauteng en Noordelike Provinsies, Jose Rodrigues. Die foto is van Jose. Daar is nog een finalis uit KZN aangewys, en nie minder nie as nog vier uit die Gauteng/NP-streek, om die totaal van sestien in die finaal te vul. Hul foto’s kan op Facebook beloer word. Die publiek kan ook per SMS stem vir hul gunstelinge – sien daarvoor die Facebook-groep asook die nuwe Exit en Pink Tongue. Die finaal is op 28 November in die Opera, Staatsteater, Pretoria en beloof om ’n hoogtepunt van die jaar se gay-geleenthede te wees.
  5. André Schwartz se nuwe reeks konserte, Liefde? Aldan Nie, loop dié week by Montecasino ten einde, maar daar is ’n Kaapse draai by Theatre on the Bay vanaf 3 November – moet dit nie misloop nie. Kaartjies is verkrygbaar by Computicket hier. Lees meer oor die konserte hier. Op die foto is Fulvio De Stefanis en Albert van Schalkwyk van Legends saam met André ná een van die vertonings by Montecasino.
  6. Die Lo-Cal/Gayspeak Groot Verloorder-kompetisie het alreeds ’n hele paar inskrywings – gaan kyk gerus hier. Jy kan R6 000 se dieetkos – wat net opgewarm moet word – wen: ’n hele drie maande se voorraad. Inskrywings is nog oop tot einde Oktober – skryf net aan Hannes Dupper by hannes@lo-cal.co.za met ’n vollengte-foto en kort beskrywing van jouself. Die groot kompetisie sal op ’n latere stadium begin en die persoon wat die grootste persentasie van sy of haar liggaamsgewig verloor, wen ’n lekker kontantprys. Daar word ook bystand verleen deur ’n persoonlike afrigter asook ’n “life coach” vir dié wat meer wil doen as net reg eet.
  7. OUT Well-being in Pretoria bied ’n Inligtingswerkswinkel aan op 17 Oktober om 10 vm met die titel: The role of negative peer norms in sexual risk-taking. Dit is veral gemik op die jonger generasie gays en behoort baie waardevol te wees. Skakel met Jay by prism@out.org.za.
  8. Manfields, die uitspanplek vir gay mans in die Bosveld, het nou ’n totale verbod op naaktheid (selfs om die swembad) geplaas. Daar is ander plekke waar mense wat kaalgat deur die bosse wil hardloop, dit kan doen, en dis nie by Manfields nie. Die Pienk Dossier verwelkom dit en sal binnekort weer ’n besoek daar bring – soos wat al talle kere in die verlede met baie pret en sukses gedoen is. Hul nuwe groot swembad is net reg vir die somer in Bela Bela. Lees meer hier: www.manfields.co.za.
  9. MCQP, die jaarlikse Desember-tema-party in Kaapstad, het die tema vir 2009 bekend gemaak, naamlik The Toolbox Project. Dit vind hierdie jaar op 19 Desember plaas, by The Old Biscuit Mill, Soutrivier. Idees vir kostuums word gegee as “Handyman, Bob the Builder, Screwdriver, Jack Hammer, Level Spirits, T Square, Wright Angle, Rear Router, Hack sore, Blue prints, Circuit Breaker, Plug Hole, Primer Donna” en meer. Gaan gerus na www.mcqp.co.za vir meer nuus.
  10. Ten laaste – hier is ’n splinternuwe manier om Halloween te gedenk: ’n spooktrein – en ’n pienk ene daarby! Bedrock Valley bied ’n nagtelike stoomtreinrit aan vanaf Hermanstadstasie in Pretoria na Bedrock Valley in die Bosveld, met die naam “Get your freak on”. Dit vertrek om 5 nm en kom so net voor 2 vm op 31 Oktober terug. Bespreek jou kaartjies hier: www.bedrockvalley.co.za. Vir meer inligting, raadpleeg Facebook.

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging.