Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

Simonsig Kaapse Vonkel dra kroon as SA se Beste Cap Classique


2009-09-22

Simonsig wynlandgoed het skoonskip gemaak by die 2009 WINE Magazine Amorim Cork Cap Classique Challenge deur beide eerste en tweede plek te behaal met sy welbekende Kaapse Vonkel.

Die Simonsig Kaapse Vonkel 2005 is as die Beste Oesjaar en algehele wenner gekroon as vanjaar se koning van Cap Classiques en deel die kollig met sy groot boet van dieselfde oesjaar, ‘n 1.5-liter Kaapse Vonkel magnum, as naaswenner.

Hierdie elegante vonkel, wat trots naam dra as Suid-Afrika se eerste bottel-gegiste vonkelwyn wat die wyle Frans Malan in 1971 die lig laat sien het, is geen groentjie as dit by hierdie jaarlikse kompetisie kom nie. In 2002 het Simonsig met sy 1999 oesjaar Kaapse Vonkel die kompetisie se heel eerste titel verower.

Voor die 2009 Cap Classique Challenge, het die Kaapse Vonkel 2005 alreeds op die internasionale front met sy uitsonderlike kwaliteit en delikate smaak beïndruk toe dit aangewys is as die Beste Vonkelwyn (nie-Sjampanje) by die 2007

 ProefschriftWijnconcours toekennings in Nederland - die land se mees betroubare riglyn vir wyne van goeie gehalte teen billike pryse.

 “’n Baie laer opbrengs en ‘n hoër persentasie van Chardonnay as in vorige jare, het gesorg dat die 2005 Kaapse Vonkel oesjaar die kleinste nog was. Maar aan die ander kant is ons beloon met ‘n Cap Classique met ‘n gróót hart wat deur en deur sy staal wys. Dit is ‘n perfekte voorbeeld van hoe kwaliteit bo kwantiteit seëvier,” gesels Simonsig wynmaker Johan Malan wie se blywende passie vir borrels en gesoute wynmaakvernuf na vore spruit in dié baanbreker Stellenbosch wynplaas se bekroonde Cap Classique reeks.                                                                                 

Die 2005 oesjaar is ‘n klassieke simfonie van Chardonnay (55%), Pinot Noir (42%) en Pinot Meunier (3%). Buiten dat dit die land se eerste vonkelwyn is wat gemaak is volgens die tysame Franse tradisie, het Kaapse Vonkel ook die eerste Cap Classique geword wat gemaak is van al drie van die klassieke druifvariëteite wat gebruik word in egte Sjampanje, toe Pinot Meunier in 1997 begin bygevoeg is.

Die Chardonnay verleen ‘n skoon, sielsverkwikkende karakter aan die wyn, terwyl die Pinot Noir die smaak en balans vervolmaak en die aromatiese vrugtegeure van die Pinot Meunier die keurspel met finesse afrond.

Simonsig Kaapse Vonkel, gemaak in ‘n meer voller, vrugtige styl, bekoor met delikate blom aromas met ‘n sweempie sonryp Golden Delicious en sitrus varsheid op die neus. ‘n Klassieke beskuitjie aroma ontwikkel tot ‘n nostalgiese ervaring  van vars gebakte brood op die tong. Die mousse is besonders fyn en romerig en vul die eksotiese smaak van geroosterde amandels in die mond aan.

Dié vonkel verleen elegansie aan die Feesseisoen en is die perfekte geskenk om saam te neem na enige Kersmaal, hetsy dit onder die boom beland of geniet word saam met die ete. Of hoekom sommer nie die Nuwejaar met ‘n groot gemoed begroet deur dit met ‘n Simonsig Kaapse Vonkel magnum te vier nie. 

Die Simonsig Kaapse Vonkel is landwyd beskikbaar by uitgesoekte supermarkte en wynhandelaars, vanaf R76 per 750ml bottel en R170 vir die magnum.

Vir meer inligting of direkte bestelling vanaf die kelder skakel Simonsig by Tel: (021) 888 4915 of besoek www.simonsig.co.za.