Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Nico Koopman se verpolitiseerde Afrikaans


Johannes Comestor - 2009-09-18

Die LitNet-kommentare (deur Theodorus du Plessis en Pieter Duvenhage) op Nico Koopman se lesing vlei hom, want daar word veel meer taalkundige diepte in sy voordrag veronderstel as wat daar is. My vertolking is dat dit vir Koopman wesenlik om die bevordering van ANC-politiek gaan en dat Afrikaans as kapstok gebruik is. Bevrydingsteoloë, waarvan Koopman een is, misbruik godsdiens op 'n soortgelyke manier ter bevordering van politieke oogmerke.

Maar eers die konteks. Waarom sou die Afrikaanse Taalmonument gedenklesings vir Mathews Phosa aanbied? Hy is 'n ANC-politikus wat blykbaar (in soverre 'n mens tussen die hedendaagse vrome reëls kan lees) terroriste Afrikaans geleer het sodat hulle hulle verwoestingswerk doeltreffender kon doen. Behoort blankes hom hiervoor te eer? Daarna het hy 'n klein getal Afrikaanse rympies (nie gedigte nie) van beperkte waarde gepubliseer. Hulle is om politieke redes deur die uitgewer aanvaar en nie vanweë hulle literêre waarde nie. Daar is letterlik duisende mense wat 'n groter bydrae as Phosa tot Afrikaans gelewer het en dus met meer rede met 'n lesingreeks vereer kan word.

Die keuse van Nico Koopman as spreker by die Taalmonument en daarna by die jaarvergadering van die Afrikaanse Taalraad kan ook bevraagteken word. Die teks van eersgenoemde lesing is op Afrikaansdag, 14 Augustus, in Die Burger gepubliseer, terwyl die teks van die ander voordrag, wat grootliks dieselfde is, op LitNet beskikbaar is. Hoewel gespesialiseerde kennis van taalkunde en Afrikaans buite Koopman se deskundigheidsgebied val en daar min is wat aandui dat Afrikaans sy hartstaal is, kan hierdie prominensie verkeerdelik die indruk wek dat sy uitsprake oor Afrikaans gesaghebbend is.

Soos in die geval van Phosa, het politiek 'n deurslaggewende rol by die keuse van Koopman as spreker gespeel. Aan die begin van Junie het ek sy eenogige taalgeregtigheid op SêNet gekritiseer. Nou kom hy met wesenlik dieselfde onding: transformerende Afrikaans. Met albei het hy dit by implikasie baie duidelik gemaak dat ANC-politiek vir hom belangriker is as om pro-Afrikaans te wees.

Soos in sy rubriek oor taalgeregtigheid, begin Koopman sy betoog oor transformerende Afrikaans met die stelling dat Afrikaans maar een van die talle tale in Suid-Afrika is. Dis die meertaligheid-sindroom van die ANC met Engels as die voorkeurtaal. Afrikaans word deur Koopman tot 'n politieke instrument gereduseer. Sy Afrikaans moet 'n nuwe Suid-Afrika bou. Dit moet byvoorbeeld 'n brugbouende woordeskat hê.

Dit is myns insiens dringend noodsaaklik dat almal wat Afrikaans gebruik dit so suiwer moontlik doen, sodat ons trots op ons taal kan wees. Maar wat doen Koopman? Hy doen voorspraak vir hibridiese Afrikaans. Hibridiese etnisiteit word die rolmodel vir Afrikaans. Dus ag hy sepie-Afrikaans, klopse-taal (blykbaar mag 'n mens nie meer van gammattaal praat nie), koeterwaals, ens as net so goed of selfs beter as Standaardafrikaans, afhangend van die politieke nuttigheid daarvan. Sy politieke meesters en sielsgenote, soos Jonathan Jansen, wil sosiale integrasie op almal afdwing. Op 'n soortgelyke manier wil Koopman hê dat nie-Afrikaanse (lees: Engelse) woorde in ons taal verwelkom word.

Afrikaans is glo goed gebruik toe die Belydenis van Belhar daarin gestalte gekry het. Koopman noem, kenmerkend eenogig, andersins niks goed in die ou Suid-Afrika nie. Verontmensliking, onderdrukking, onreg, armoede, ens was aan die orde van die dag. In die nuwe Suid-Afrika het wat sleg was glo wonderbaarlik in die goeie verander: menswaardigheid, vryheid, geregtigheid, ens (maar hy praat darem nie van rykdom vir almal nie). Die Belydenis van Belhar beoog "'n samelewing waar geweld, lyding en mismoedigheid nie meer heers nie, maar waar daar vasberadenheid en hoop, vrede en vreugde is."

Kritiese lesers kan gerus let op hoe bevrydingsteoloë telkens veral twee emosie-gelaaide woorde misbruik: geregtigheid en hoop. Kom ons toets dit aan die werklikheid. In Die Burger (16 Desember, p 12) skryf UWK-dosent: "Dis tragies om daagliks te aanskou hoe Afrikaanssprekende studente moet worstel om hulle in Engels uit te druk." Dis wat gebeur nadat die Universiteit van Wes-Kaapland van 'n hoofsaaklik Afrikaanse tot 'n eentalig Engelse inrigting getransformeer is. Is dit hoe Koopman & kie se geregtigheid, hoop en inklusiwiteit in die praktyk lyk? Wat doen hierdie vrome, teregwysende mense in woord en daad om 'n soortgelyke situasie aan die Universiteit Stellenbosch te voorkom?

Johannes Comestor