Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Die Plymouth slaat ’n ses


Hannes Steyn - 2009-09-16

Jare gelede, toe garagedeure en motors nooit gesluit was nie en hekke permanent gegaap het, het ons uit die bloute besoek ontvang van familie. Uit Rhodesië nogal.

Ons vier laerskoolboeties is halfpad deur die 1963-skoolvakansie uit ons kamer geboender. Om plek te maak vir die Oom en Tannie wat ons van geen kant af geken het nie.

Maar ons het nie omgegee nie. Dit was veel makliker om vanuit die garage vakansie te hou as vanuit die huis.

Ons "gaste" het elke oggend in hul pikswart 1948-Plymouth geklim en wie weet waarheen rondgerits. Skuins voor vyf het hulle dan statig die steil oprit ingery gekom, ons nuuskierige outjies totaal geïgnoreer en die huis in verkas.

Hulle het nooit saans uitgegaan nie. Pleks hulle maar het …

Die ligte in die huis het saans skaars gedoof of ons het die Plymouth betrek. Beurte gemaak om agter die stuurwiel in te skuif en in gedempte opgewondenheid saam met Steve McQueen en sy Bullit die strate ingevaar agter skelms aan.

Dit was al laat dié spesifieke aand. Ons ogies het gedreig om toe te val.

“Ok ek kom. Net gou vir … Spartacus gaan groet," het die elfjarige Tinus gefluister en die wiel hard begin rondruk. Ek, die oudste het ’n dreigende vinger in sy rigting geskud en saam met die ander begin wegdrentel.

Die volgende oomblik hoor ek ’n sagte “O fok” gevolg deur ’n deur wat toeklap.

Ons stop tegelyk, kyk saam om en … ek sterf sewe soorte dode! Tinus het hurkende op die gras langs die oprit gesit. Die kar was besig om op sy eie agteruit te hol. Al hoe vinniger! Dit was soos ’n horror-fliek wat in stadige aksie voor my afspeel.

Terwyl dit op die oop hekke afgepeil het, het ons by die garage ingehardloop. Tinus op ons hakke. Daar het ons met groot oë na mekaar gestaar en gewag vir die slag.

Wat nie gekom het nie.

Hoe ons dit reggekry het om aan die slaap te raak daai nag, weet Vader alleen.

Vroeg die volgende oggend is ons wakker gemaak toe die garagedeur met mening oopgepluk word. Dit was Pa. Met ’n erg bedonderde Oom Rhodesië aan sy sy.

“Wie de duiwel het julle bliksems die reg gegee om met die Oom se kar te gaan kerjakker?" het hy gebulder en sommer so tussen ons begin slaan.

“Wat … wat bedoel Pa?” het ek probeer skerm. “Ons was die heelaand net hier. By die huis. Ek … ek sweer voor een He…”

“Dan lieg jy nog vir my ook,” het hy my onderbreek. Klap … skop … ore trek … skop ... "En nie eens die ordentlikheid gehad om die kar weer in te trek nie! Kom, laat ek bietjie julle geheue verfris.” Hy het ons in die rigting van die straat gestamp.

Dit was … ongelooflik. Ek kry nou nog rillings as ek daaraan dink. Reg voor die huis, met sy linkerwiele styf teen die randsteen van die sypaadjie vasgewig, het die '48-Plymouth gepryk. Nie eens Boet Lourens, Westdene se top-spietskop daai tyd, sou so kon parkeer nie!

Ons was so verlig dat ons maar die leuen uitgeleef het. Vir Pa vertel dat ek kussings onder my alie ingeskuif het en my boeties net om die blok geneem het. Dat ons bang was dat ons dalk die kar teen die hekke sou skraap en toe maar buite geparkeer het.

Pa het ons gatvelle behoorlik afgetrek, maar ek twyfel of hy ons weergawe geglo het.

Snaaks, maar hy en Ma het nie eintlik trane gestort toe die Rhodesiërs daardie selfde dag nog begin oppak het nie.

’n Paar jaar daarna, elke keer as Ray Jennings ’n ses geslaan het, het ek ’n gewillige oor gesoek wat kon luister van die aand toe die '48-Plymouth daai perfekte ses oor die breedte van Westdene se Araratstraat gegooi het.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<