Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Ver van voorspoed?


2009-09-15

There is only one honest impulse at the bottom of Puritanism, and that is the impulse to punish the man with a superior capacity for happiness. - HL Mencken

Ek's die afgelope week in Pretoria, en werksaam saam met Bloemfonteiners. "Goeie mense," seg ou David Brink altyd.

Nou die tegniese ouens is Kobus en Conrad. Goeie, nice ouens. En die aand vertel Conrad: Hy get grootgeword op Colesberg. En die dag speel hy teen ‘n skool van naby - in Karooterme is dit moer ver! En in ‘n stadium kry hy die bal - hy was nogal ‘n slot, en ‘n mens kan dit sien. Hy is net te klein om in die groot stad slot te speel, maar lekker fris en beweeglik vir ‘n plattelandse slot.

Nou, daar kry hy die bal, en laat lees doellyn toe. En hy is los deur. Maar, seg hy, maar daai drie was hom nie beskore nie. Die hou het hy nooit gesien kom nie. ‘n Tannie van die opposisieskool het bloot haar handsak geswaai en hom in die gesig getref ... en karplaks, was hy plat. Amper soos die stywe arm wat Sid Nomis gevang het (is ek reg?), of waarmee Kabous van der Westhuizen een keer amper onthoof is, of waarmee ons eie skoolvleuel, Jacques du Preez, se tande almal uit hul kaste uit teruggebuig is.

Vandag lag ou Conrad net daaroor. Hy sou seker toe ook - as hy by was.

*

Gepraat van Pretoria - ek ry in Proesstraat af en sien hope vullis opgehoop op die sypaadjie en agter heinings van woonstelblokke. Die paadjie langs die Apiesrivier lyk soos ‘n recycling depot van al die fyn glas en wie-weet-wat-nog daar lê.

Ek ry effe suid in Parkstraat en kom by een kruising van waar jy Pretoria voor jou sien lê. En dis soos ‘n ver kameraskoot van die nabyskoot wat mens byvoorbeeld in Hamiltonstraat sien ... Die woonstelle in Hamiltonstraat se vensters is uit; die gordyne daarbinne hang in lusse, en is geskeur en vuil. Nou die uitsig op Pretoria wys baie sulke woonstelblokke, en vergewe my, maar hul lyk van ver af na die geboue wat ons al op TV gesien het - in Beiroet, en deesdae in Irak.

Sondag, toe ek waai, slaap hordes mense op matrasse langs die paaie van Pretoria.

Dit gaan sleg met baie mense. Mens moet dankbaar wees. Ek sê nog steeds: wanneer ons gaan begin erns maak om ons begraafplase netjies te maak, sal ons die naaste wees aan voorspoed in ‘n lang tyd.

*

Eienaardige insidente tref my binne twee dae. ‘n Ou tannie ry agter my in die Moot, en toet. Ek kan om die dood nie verstaan hoekom nie. Ek sien eers dis ‘n ou tannie toe sy my verbysteek, en allerhande tekens wys en haar gewriggies swaai. Toe sy voor my by ‘n toegeeteken moet stilhou ... ek weet dis lelik, maar toe toet ek, met my veel sterker toeter, vir haar. Toe gooi sy vir my ‘n PW Botha-vinger in die lug - maar ek kon sweer dit was nie die wysvinger nie!

*

Nou ja, oukei - dié is ‘n teaterrubriek, en bostaande handel oor die inkleding, akkommodasie en stories in Pretoria; maar ek moet by formele teater ook uitkom. Dis die produksie wat ek en Marion Holm vir Kerkbode se 160ste verjaarsdag geskep het: Uit die Agterste Bank. Dis gebaseer op die rubrieke van Barend Vos wat in Kerkbode verskyn. Die rubrieke gee deur die oë van ‘n kind ‘n vars en soms omstrede blik op die kerk in hierdie dae ... O, en nee, Marion speel nie die kind nie. Dis die fraaie Talitha van Buren.

Maar so is ek en Marion se bestuurder, Marietjie, besig om die beligting in plek te kry terwyl Marion en Talitha by hul gastehuis repeteer. En Marietjie ontvang ‘n sms: Bel die polisie. Inbrekers in die huis.

Wel, ons was in ‘n ommesientjie daar, en wat bemoedigend was, is dat die polisie toe reeds daar is. En, wil ‘n mens sê: Julius, Leonard en Winnie - die polisie was gewillig. Ek hoop hulle was net so bekwaam. Kyk, die Inge Lotz-moordenaar is op vrye voet, want die polisie het nie die regte dinge gedoen nie. Ek hoop hierdie manne is al vasgetrek, omdat dit die moeite werd geword het om weer te begin vingerafdrukke neem, en dies meer ...

Dis ‘n lekker knus teatertjie, die Pierneef. Ek was in 2005 daar met die Charles Fourie-eenmanstuk Stander, waarin ek André Stander gespeel het. Daai was/is ‘n briljante teks wat weer opvoer verdien.

En saam met die stuk het ons die kabaret Botspoppe opgevoer, met Floyed de Vaal en Neels Clasen. Die gehoor was maar skaars. Die media afwesig. En my moed alles behalwe gebreek. Kyk, ek's nou nog aan die gang - al is dit net-net.

Ieder geval - klein Talitha en Marion het genoeg staal gehad om die produksie dié aand pragtig op te voer.

*

Diegene wat al die fliek Izulu Lami gesien het, sal goed weet dat dit ‘n baie mooi verhaal is; baie mooi verfilm, met die grootste deel van die tyd baie mooi toneelspel. Maar veral teen die einde van die film gebeur skielik ‘n paar dinge so vinnig, asof die fliek nou moet klaarkry en mens nie tyd het om enigiets realisties te voltooi nie.

So om watter rede sal resensente die fliek 5 sterre gee? Sommige mense het al hul 4 sterre opgegradeer na 5 toe. Is die resensent se taak toe nooit wat ek dog dit is nie? Ons weet die kritikus se rol is dié van ontleed en dies meer. Maar die resensent moet darem sê of dit syns insiens die moeite werd is om te sien - na aanleiding van sy genieting en die kwaliteit van die fliek. Neem mens se genieting nie af wanneer ‘n swak teks soos ‘n vervreemding inwerk op mens se onmiddellike reaksie op wat voor jou aangaan op die doek nie? Of is daar 2 sterre ekstra vir "guilt"?

*

Weet julle wat - die visionêr in my kom iets agter wat ander mense mettertyd sal insien: deesdae is 15-man-spanne beter daaraan toe wanneer een of meer van hulle spelers van die veld af is. Dan is daar meer beweegruimte aan jou eie kant! Hou maar dop.

*

En ja (lees ek in Beeld), daar vind ware "upliftment", of normalisering, plaas as twee dorpe soos Heidelberg en ... uhh .... ek het nou vergeet ... uhh ... dalk Christiana? ... teen mekaar speel. Dáár is die spanne - van klein tot groot - pragtig verteenwoordigend.

Ons weet mos lankal - dis die rassis wat op laerskoolvlak nie die beste speler vir die posisie kies nie wat ons almal se grootmenslewens versuur.


Happiness? That's nothing more than health and a poor memory. - Albert Schweitzer