Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Emile Doubell – 19, propvol talent en op pad boontoe!


Adriaan Louw - 2009-09-11

Emile Doubell is 19 jaar oud, ’n kuns-en-kultuur-onderwyser, en ook ’n sanger en akteur met ’n goeie repertoire in musiekteater. Hy was een van die Top 20-finaliste vir MNET se High School Musical-kompetisie en is tans ’n groeplid van Siklus! Vir Emile is dit slegs die begin van ’n suksesvolle loopbaan wat voor hom lê.

Adriaan Louw het met hom gesels.

Hoe het jou sangloopbaan begin?

My sangloopbaan het in 2003 begin toe ek aan my eerste sangkompetisie deelgeneem het. Ek was dertien jaar oud en het toe vir myself belowe dat as ek dit deurmaak na die finale aand van die kompetisie, ek sal aanhou lewe en veg vir my droom om eendag waar te word. Toe hulle my naam roep om te sê dat ek deel was van die finale aand, was dit soos ’n boodskap van God wat sê dat ek my roeping in die lewe ontvang het. Ek het nooit weer teruggekyk nie.

Watter waardevolle lesse het jy gedurende die verloop van MNET se High School Musical-program geleer?

Ek het regtig ongelooflik baie geleer. Eerstens het hulle my geleer om altyd oogkontak met die gehoor te behou. Hulle het my ook geleer dat daar altyd iemand beter as jy is, maar dit hang van jou af om van jou unieke talente gebruik te maak sodat jy kan uitstaan en skitter!

Is realiteitsreekse so vernederend soos wat dit soms voorkom en lê daar waarde in daardie donker oomblikke?

Hulle het my nooit afgekraak nie en daar was altyd positiewe kommentaar en kritiek. Toe ek uitgestem is, het dit vir my gevoel asof my hele wêreld uitmekaarval, maar ek het later besef dat dit wel nie die geval is nie. Ek het ongelooflike mense ontmoet en die geleentheid gehad om te ervaar hoe dit voel as jy naam maak. Om uitgestem te word het my wilskrag laat groei en dit het my ’n hupstoot gegee om my drome te bereik.

Hoe het jy by Siklus! beland?

’n Vriend het my gekontak om by ’n maandelikse talentkompetisie te sing. Na die vertoning het Sarel Botha my gevra om by die Kirkwood Wildlife Festival te sing. My item was net voor Siklus! toe die vorige lede nog aan die groep behoort het. Dit is hier waar ek die eerste keer van die groep gehoor het en hulle almal ontmoet het. Ek was onmiddellik bevriend met Elsabe Rademeyer (Supersterre se Top 9-finalis) en Robert Gillmer. In 2008 was ek deel van Showtime, ’n musiekblyspel by die PE Operahuis, en gedurende die verloop van ons speeltyd het Sarel Botha my gekontak en gevra dat ek hom gaan sien. Toe ek by sy huis opdaag, het ek besef dat ek daar was vir ’n oudisie om deel van die groep te wees, omdat die ander groeplede nie daar was nie. ’n Week later het hulle my gebel om my te laat weet dat ek dit gemaak het!

Is Siklus! ’n voltydse beroep of doen jy ander dinge tussenin?

Siklus! is nie ’n voltydse beroep nie. Ek swot musiekteater in die middae en ek werk in die oggend by my skool as ’n kuns-en-kultuur-onderwyser vir graad 8 en 9.

Hoe ervaar jy die jong leerders se houding teenoor die kunste in geheel?

Ek moet sê die jong leerders se houding teenoor die kunste is goed. Baie kinders hou van musiek en ek dink elkeen kan maar besluit van wie hulle hou of nie. Vandag se jeug het ’n baie positiewe houding teenoor die vak en die kunste in geheel. Party hou nie daarvan nie, maar die algemene houding is positief.

Is onderwys dalk vir jou ’n opsie in die toekoms?

Onderwys is definitief ’n moontlikheid. Ek sal dit studeer om iets anders agter my naam te kry. Ek geniet dit omdat dit my toelaat om my ervaringe in musiekteater met die kinders te deel, asook hoe dit voel om ’n kunstenaar te wees. Ek betrek hulle deur foto’s en video’s te wys en stories te vertel.

Jy was van kleins af bewus van jou passie vir musiek en die verhoog. Het jou skool, vriende en familie jou nog altyd ondersteun?

My familie het my van die begin af ondersteun en my ma is my steunpilaar. My skool het my meer ondersteun toe ek deel van die MNET High School Musical-program was en die meeste van my vriende is so trots op my. Ek sal altyd na ’n show kom kyk en dan is daar vriende wat net nie meer belangstel nie en ek neem hulle nie kwalik nie.

 Jou mikpunt is sekerlik om op die regte stadium met jou solo-loopbaan te begin. As jy nou as jong aspirantkunstenaar kyk na die groot name in die musiekbedryf, wie inspireer jou en wat is jou mikpunte?

Ek wil definitief begin werk aan my solo-loopbaan! As ek aan die groot name in die bedryf dink, staan Danny K en Heinz Winckler vir my uit. Hulle al twee het regtig so gegroei as kunstenaars en het hul eie klank wat uitstaan in die bedryf. My mikpunte is om my musiek met die wêreld te deel – ek wil ’n Suid-Afrikaanse sanger wees, maar ek wil ook eendag ’n naam hê soos Justin Timberlake.

Glo jy daar is ’n mark vir Engelse kunstenaars in Suid-Afrika?

Daar is – ek glo die Engelse mark kan nog groei. Jesse Clegg is amazing en ek sal altyd my Afrikaans bo hou, maar ek wil graag naam maak in die Engelse bedryf.

Hoe kyk jy uit en berei jy jouself voor vir geleenthede wat oor jou pad kom?

Ek het ’n ongelooflike mentor, Robin Williams, saam met wie ek studeer. Sy het my gehelp om fisies en verstandelik gereed te wees vir enigiets wat oor my pad mag kom. Op die einde van die dag kan jy net jou alles gee en as dit jou beste was, dan kan jy niks daaromtrent doen nie.

Soos elke musikant se storie loop, het hulle almal in kroeë begin sing sonder ’n ordentlike inkomste. Is dit waar jy jouself sien?

Ek lewe vir my musiek en solank as wat ek doen waarvoor ek lief is, sal ek gelukkig wees, maar ek sien nie myself in kroeë optree nie. Ek glo dat God ongelooflike planne vir my lewe het solank ek hom toelaat om deur my te lewe en my te lei.

Lê daar waarde in ’n musikant se “swaarkry-periode”?

Ja, daar lê waarde in. Om die pad na roem te loop is nie maklik nie en dit kan jou maklik aftakel, maar na elke show en elke keer as jy mense se harte raak, beleef jy ’n gevoel wat geensins beskryf kan word nie. Jy besef dan dat al die swaarkry die moeite werd is. Om mense te vermaak en om mense deur ’n rilrit van emosies te neem, wat net jy kan sien as jy van die verhoog af kyk, dis waarvoor ek lewe!