Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika Wiki: Tydlyn van Nelson Mandela se lewe - II


2009-09-10


Geskiedenis-bronmateriaal: Nelson Mandela-tydlyn - Politieke jare

Lees artikel 1 hier, artikel 3 hier en artikel 4 hier.

Artikel 2 uit 4 in hierdie aflewering: Politieke jare

Nelson Mandela was die eerste president van demokratiese Suid-Afrika vanaf 1994. Hier volg die tweede aflewering van 'n tydlyn vanaf sy geboorte in 1918 tot 2008.

Die volledige artikel is beskikbaar by http://wiki.nuwegeskiedenis.co.za.

1957 - Skei
Mandela en sy vrou Evelyn skei nadat hy uit die tronk vrygelaat word. Hulle drie kinders bly by Evelyn.

1958 - Winnie Mandela
Mandela trou op 14 Junie met Winnie Madikizela, 'n maatskaplike werkster by Baragwanath Hospitaal in Soweto. Saam het hierdie egpaar twee kinders: Zezani, gebore 5 Februarie 1959, en Zindziwa, gebore 23 Desember 1960.

Hendrik Verwoerd
Hendrik F Verwoerd word eerste minister en pas die apartheidswette streng toe.

1959 - Tuislande
Die parlement keur die Wet op die Bevordering van Bantoeselfbestuur goed. Hierdie wet dwing swartes om hulle in agt verskillende tuislande te hervestig. Die ANC staan hierdie wet sterk teen, maar sommige swart leiers aanvaar die wet en werk saam met die regering.

Pan Africanist Congress (PAC)

Robert Sobukwe, 'n voormalige lid van die ANC Jeugliga, stig die Pan Africanist Congress (PAC), 'n nuwe politieke groep teen apartheid. Blankes en Indiërs word nie in die groep toegelaat nie.

1960 - Noodtoestand
'n Noodtoestand word in Suid-Afrika verklaar nadat polisie skote op 'n groep betogers vuur tydens die Sharpeville betogings. 69 Mense sterf en honderde word gewond tydens hierdie betogings.

1961 - Umkhonto we Sizwe (MK)
In 1961 begin die ANC 'n gewapende stryd teen die regering. Mandela gaan ondergronds en loods die gewapende stryd deur Umkhonto we Sizwe (MK) te stig. Die MK se beleid is om slegs regeringskantore en simbole van apartheid aan te val, nie mense nie. Mandela vlug uit Suid-Afrika en toer deur Afrika en Europa en bou kennis op van guerrilla-oorlogvoering. Gedurende hierdie tyd het hy ook ondersteuning vir die ANC in die buiteland gewerf.

1962 - Robbeneiland
Mandela keer terug na Suid-Afrika en word op 5 Augustus gearresteer en vir vyf jaar Robbeneiland toe gestuur.

1963-1964 - Rivonia-verhoor
Alhoewel Mandela reeds besig was om sy vyfjaar-vonnis uit te dien, word hy weer verhoor, tesame met ander ANC-leiers, en aangekla van sabotasie en die gewelddadige omverwerping van die regering. Die beskuldigdes spring teregstelling vry, maar word lewenslank tronk toe gestuur. Gedurende die winter van 1964 word Mandela en die ander beskuldigdes Robbeneiland toe gestuur.

1966 - John Vorster
Verwoerd word vermoor en John Vorster word in sy plek as eerste minister aangestel.

1968-1969 - Dood in die familie
In die tydsbestek van 'n jaar sterf Mandela se ma, asook sy oudste seun - laasgenoemde in 'n motorongeluk. Mandela word nie toegelaat om die begrafnisse by te woon nie.

1976 - Soweto-opstande
Opvoeders betoog teen die feit dat Afrikaans verpligtend is in skole. Afrikaans word gesien as die taal van die wit onderdrukker. Oor 'n tydperk van agt maande sterf 575 mense, van wie 'n kwart onder die ouderdom van 18 was.

1977 - Winnie se tronkstraf
Winnie word na Brandfort verban. Haar dogter Zindzi gaan saam met haar. Winnie spandeer meer as 'n jaar in die tronk en word deur die polisie geteister. Weens hierdie teistering ontwikkel Winnie 'n meer aggressiewe en militante houding teenoor die regering.

1978 - PW Botha
Vorster bedank en PW Botha volg hom op as eerste minister.

1980 - "Bevry Mandela"-veldtog
Tydens sy ballingskap loods Oliver Tambo, tesame met die ANC, die "Bevry Mandela"-veldtog. Vir die volgende paar jaar teken verskeie lande en internasionale groepe petisies, hou saamtrekke en veg vir Mandela se vrylating.

1982 - Pollsmoor-gevangenis
Na 18 jaar op Robbeneiland word Mandela na Pollsmoor-gevangenis verplaas.

1983-1984 Uitbreiding van geweld
Weens PW Botha se plan om vir Indiërs en bruines - maar nie vir swartes nie - plek te gee in die parlement, begin township-inwoners met 'n opstand wat deur die land versprei.

1985 - Edward Kennedy
In Januarie besoek Edward Kennedy, 'n Amerikaanse senator, Suid-Afrika om anti-apartheid te ondersteun. Biskop Desmond Tutu is sy gasheer. Hy besoek ook onder andere vir Winnie Mandela. PW Botha sê hy sal Mandela vrylaat indien hy die gewelddadige opstande laat vaar. Mandela se dogter Zindzi lees Mandela se reaksie op hierdie vraag, waar hy die ooreenkoms afkeur, tydens 'n samekoms by 'n stadium naby Johannesburg voor.

Keerpunt
Kobie Coetsee, minister van justisie, besoek Mandela in die hospitaal terwyl hy daar is vir 'n prostaatoperasie. Die besoek was onbeplan. Alhoewel dit 'n sosiale besoek was, was dit nog steeds 'n keerpunt. Met Mandela se terugkeer na die tronk word hy in 'n afsonderlike sel geplaas sodat die regering private toegang tot hom het.

1986 - Halssnoermoorde
Winnie se toenemende omstrede en militante aktiwiteite bereik 'n hoogtepunt tydens haar uitspraak by 'n begrafnis dat sy halssnoermoorde goedkeur. Haar toespraak word wyd in die nasionale pers gerapporteer en word gesien as 'n oproep om geweld. Die ANC keur nie hierdie optrede van Winnie goed nie.

Nog 'n noodtoestand
Die regering verklaar 'n noodtoestand in Suid-Afrika weens die wydverspreide onrus in swart gemeenskappe.

Geheime samesprekings
Geheime samesprekings, wat deur PW Botha goedgekeur en deur Coetsee gelei is, begin tussen die regering en Mandela. Mandela het op sy deelname hieraan besluit sonder om dit met die leiers van die ANC te bespreek.

Sanksies
'n Paar maande nadat die Reagan-administrasie sy beleide teenoor Suid-Afrika hersien het, stem die VSA in om streng ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika in te stel. Verskeie VSA-maatskappye begin produksie in Suid-Afrika afskaal en VSA-banke hou op om geld aan Suid-Afrika te leen.

1987 - Uitverkoop?
Soos samesprekings met die regering vorder, deel Mandela die leiers van die ANC, soos Thabo Mbeki en Ahmed Kathrada, mee van sy samesprekings met die regering. Die leiers se reaksie wissel van woede tot sterk ondersteuning. Gerugte doen die rondte dat Mandela hulle uitverkoop het.

1988 - "Freedomfest"
Op die 24ste herdenking van Mandela se vonnising word 'n musiekkonsert buite Londen gehou, genaamd "Freedomfest - Nelson Mandela's 70th Birthday Celebration"; dit word in 60 lande op televisie uitgesaai.

Verplaas
In Desember, nadat Mandela vir TB behandel is, word hy na die Victor Verster-gevangenis oorgeplaas. Hier bly hy in 'n luukse, afgesonderde huis met 'n swembad, 'n private sjef (Jack Swart) en 'n weelderige tuin. Sy samesprekings met die regering duur voort. In dieselfde maand word vier jong mans, insluitend die 13-jarige Stompie Seipei, ontvoer deur lede van die Mandela United Football Club, 'n groep jong mans wat as Winnie Mandela se lyfwagte opgetree het, en in Winnie se huis aangerand. Die ander mans ontsnap, maar Stompie verdwyn. Sy mishandelde lyk word weke later gevind. Winnie word by hierdie saak betrek.