Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Die wêreld se Top Variëteit is SA se Pinotage


2009-09-07

Die 2009 Decanter World Wine Awards het vanjaar 10 285 inskrywings gelok, wat dit gevestig het as die wêreld se grootste wynkompetisie. Die uitslae is vandeesweek bekend gemaak en die Internasionale Trofee vir die Top Rooi Variëteit bo £10 is toegeken aan die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006.

Dit is ‘n historiese oomblik vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangesien ons tuisgekweekte Pinotage druif die beste enkelkultivar rooiwyn opgelewer het uit al die inskrywings van regoor die wêreld. Dit het ook op ‘n gepaste tyd gebeur, die eerste toekenning ooit aan ‘n Pinotage wyn was presies vyftig jaar gelede toe ‘n Pinotage van Bellevue Landgoed as die beste jongwyn in SA bekroon is.

Kaapzicht Landgoed in the Bottelary Heuwels behoort aan die Steytler familie en het nou ‘n geskiedkundige deurbraak vir Pinotage herhaal. By die 2004 Internasionale Wyn- en Spiritualië Kompetisie (IWSC) in London was die Kaapzicht Steytler Vision 2001 die eerste sogenaamde Kaapse Versnit (‘n versnit wat Pinotage bevat, in die geval 40%) ooit wat gekeur is as die top rooi versnit in die wêreld. Meer as dertig wynproduserende lande het deelgeneem aan die 2004 IWSC.

Die druiwe van daardie versnit en van die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006 wat die 2009 Decanter World Wine Awards gewen het, kom van dieselfde bosstok-wingerd op Kaapzicht Landgoed, aan die noordwestelike helling van die Bottelary Heuwels. Die Kaapzicht Steytler Vision 2006 het ook vanjaar goud ontvang by die Decanter Toekennings en dit bevat 35% van dieselfde Pinotage.

“Bottelary Heuwels is ‘n prima wynbouterrein vir rooiwyn. Die noordwestelike helling het die perfekte kombinasie van direkte sonlig en deurlopende koel seebriese van Valsbaai en die Atlantiese Oseaan. Die heuwels op ons landgoed is geleë slegs 20 km van die kus van Valsbaai. Die medium potensiaal gronde en droëland wingerde produseer lae opbrengs van vier tot agt ton per hektaar en skep sodoende klein korrels met gekonsentreerde geure,” sê Danie Steytler, keldermeester en mede-eienaar van Kaapzicht Landgoed. 

“Pinotage is ‘n baie veelsydige rooiwyn variëteit en die Kaapzicht Steytler Pinotage vanaf daardie wingerde is ‘n toonbeeld van die ernstige, deeglik houtverouderde, volswaar styl wat saam met kos geniet word, veral wildsvleis, rooivleis, tradisionele Suid-Afrikaanse geregte en kaas.”

Kaapse Wynmeester Elsie Pels beskryf die wyn as ‘n Pinotage met diep lae van ryp vrug, moerbei en spesery pruime, aangevul deur mooi geïntegreerde geure. “Harmonieus en poeieragtige tanniene maak die vrugtelae duidelik; ryk kragtige tekstuur, maar elegant met die balans om goed te kan verouder.”

Die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006 was vir 24 maande in nuwe Franse eikehoutvate verouder en die eindresultaat in die bottel het geskiedenis gemaak vir Suid-Afrika se Pinotage deur by die wêreld se grootste internasionale wynkompetisie gekeur te word as wêreld se top kultivarwyn.

Klink ‘n glasie op die internasionale sukses van die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006, van links is Danie jr Steytler (wynmaker), George Steytler (eienaar en wingerdboukundige) en Danie Steytler (eienaar en keldermeester)

Klink ‘n glasie op die internasionale sukses van die Kaapzicht Steytler Pinotage 2006, van links is Danie jr Steytler (wynmaker), George Steytler (eienaar en wingerdboukundige) en Danie Steytler (eienaar en keldermeester)