Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

In die loop van 'n mooi blou geweertjie: The Pretty Blue Guns se Cutting Heads


Henry Cloete - 2009-09-02

Wolke rook hang in die voorkamer van ‘n klein koffiewinkel in Greenwich Village, New York. By die kroegtoonbank sit Kurt Cobain van Nirvana en Silverchair se Daniel Johns* en kyk hul bierglase middeldeur, half verbaas deur die goed se verwaandheid om nou te gaan staan en leeg word.  Die manne van The Strokes, Ash en Jet sit aan ‘n groot tafel en trommel hul vingers. Laurika Rauch bars skielik by die voordeur in en sing arms-in-die-lug ekstra-soprano “en drink 'n rooi glasie wyn op ons skete en pyn”. Almal kyk haar half verward aan. Tematies is die liriek kolskoot, maar hierdie is nie juis haar scene nie. Sy verkas maar verbouereerd en almal draai weer hul koppe na die hoek vanwaar die musiek kom.

Op die verhoog is die Pretty Blue Guns.

Ag, hoe lekker is dit om weer goeie ou rou grunge te hoor. Soos dit gespeel behoort te word. Hulle self beskryf hulle musiek as “gritty blues-rock” ... Wel, 'n klankversterker op enige ander naam sou die grond so kon laat vibreer.

Daar is omtrent niks opgesmuks omtrent hierdie kwartet Stellenboschers se debuut-vollengte-album Cutting Heads nie. Om die waarheid te sê, die album verloop amper soos iets tussen ‘n sound check en ‘n full-on gig. Sonder some.

Die eerste snit, "Suitcase", is nou nie een wat jou middelkol tussen die oë tref nie. Die inleiding is redelik generies wat jy sou verwag van ‘n opkomende groep wat lief vir hul instrumente en lief vir raas is. Nie dat dit nie erg lekker is nie – die koortjie van “Go! Go! Go!” is die soort antemiese adrenalienklier-prikkelaar wat van groepe soos Jet en Weezer household names (weliswaar waarskynlik in deurmekarerige huise vol pizza-bokse en vol asbakke) gemaak het.

Maar hierna begin die pret eers. “Pills”, die tweede snit, kom so reg uit die angst-kraal van die vroeë neëntigs. Andre Leo se mompelsang met “These pills are making me numb/ it’s god-damn plain to see/ please get ‘em away from me”, asook daai half ongemerkte glip na die falsetto soos 'n knyp aan die strot vir ‘n splitsekonde, laat min twyfel oor na wie hy as jong skermunkel geluister het.

Die eerste helfte van die album verdiep en omskryf hierdie sentiment. Daardie reiking na gelyksamige selfvernietiging en selfverryking. Swaargewig-vervaardiger (en bas-meester) Schalk Joubert en die eweneens ervare vermenger Jurgen von Wechmar vat ook flink die gapings om hier en daar ‘n Hammond-orrel of so in te glip.

Die spiraal se raakpunte is egter nie net diep-donker-gat-agtig nie. Veral “Country Hell” en “A Call to Arms” (‘n heerlike lyfskudder wat jou laat dink Tim Wheeler het vir een liedjie by die Kings of Leon aangesluit om ‘n noot of wat te kap) laat jou sommer eensklaps saamsing. Al ken jy nie die woorde nie ... ‘n sosiale foefie wat jou half stupid kan laat lyk, maar so what, dis rock.

Die hoogtepunt van die album duik egter so half vanuit nêrens op – as die pragtige, eenvoudige ballade “Lost Faith” jou nie droomverlore die verte laat instaar nie, dan het jy nie ‘n hart nie. Punt. As mnr Joubert daai enkele note in die tussenspel uit die regop-klavier laat val, drup dit van verlange en verhewe eensaamheid.

I don’t dream of love I dream of coffee cups

and old blond girls and crooked cops

I dream of fucking on the moon

but most of all I don’t dream about you.

Ook so vir die voorlaaste lied, “Your Warning”.

En dan natuurlik die laaste snit, die een wat hulle by Holly Golightly & the Brokeoffs geleen het, “Devil Do”. ‘n Saloon-saamsinger wat uitstekend uitgevoer word. Dis die kersie op die koek vir ‘n album van ouens wat duidelik uitermate geniet wat hulle doen.

Hulle praat van sjampanje-rugby … Wat sal ons sê? Tequila-rock?

Ja wat, tequila-rock. En kyk, dis seker nie almal se koppie tee-quila nie. Die romantiek wat deurgaans aan ‘n gevoel van verworpenheid en die onvermoë om met romantiese idille te vereenselwig gekoppel word, word kwalik verberg. Mej Matie en Kaptein Eerstespan sal seker nou nie die dansbaan hiermee open nie. Angus Buchan sal ook sekerlik ophou skoffel as hy hoor “you shouldn’t feel good/ you know it isn’t true/ don’t feel bad cause Jesus isn’t watching you”. Toemaar – die Guns gooi hom met ‘n aartappel en hou aan speel. Die res van ons sweet skoon van die lekkerkry.

Met tyd sal die liriek-skerpheid, hier en daar meesleurend, maar dan en wan bietjie gerymdwang, ook van heel skerp en lekker tot heelwat skerper en lekkerder vorder. Vir nou is die hierdie viertal een van bitter min groepe wat te midde die ontploffing van plaaslike probeerders hul stem met ‘n regte, regte vars klank dik kan maak. Soos enige ruk-en-roller-groep wat hul sout werd moet wees, beskaam harde kitare ook nie by die Guns nie – Brandon Visser weet wat hy doen; ditto vir tromroerder Lucas Swart en bastokkelaar Greg Thompson.

Ek hoor hulle is lekker live. Wedersydse komplikasies (soos H1N1 aan hulle kant wat hul album launch gekortwiek het) maak dat ek dit nog nie kon bevestig nie, maar almal wat ek ken wat die Gewere al sien rook het, reken dit is spiekeries.

Ek hou nie eintlik daarvan om 'n album te bepunt nie. Maar hierdie een kry vier mooi blou geweertjies. Uit ... uhm, vyf en 'n half.

* Dalk is dit belangrik om hier te meld dat ons praat van ‘n veel, veel jonger Daniel Johns. Van die dae toe Silverchair nog die laaste troebelinge van die grunge-golf soos jong konings gery het, nie die quazi-glam-pop wat hulle nou pleeg nie.

Foto's: Mark Reitz - Bun in the Oven