Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

Fleur du Cap lewer twee 5-ster wyne op in nuwe Platter gids


2009-09-02

Twee van Fleur du Cap se wyne het uitgeblink met 5-ster glorie in die 2010 uitgawe van die toonaangewende Platter's South African Wine Guide. Die immergewilde Unfiltered Sauvignon Blanc is met 5 sterre bekroon en die Fleur du Cap Noble Late Harvest het 'n ongelooflike 5-ster driekuns vir drie agtereenvolgende jare behaal.

Dié edellaatoeswyn hou vol om oesjaar na oesjaar uit te staan en die Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 is die jongste oesjaar om met die gesogte 5 sterre vereer te word. Fleur du Cap is alombekend vir sy puik Unfiltered Sauvignon Blanc en maak sy 5-ster debuut met die uitsonderlike 2009 oesjaar. Beide van dié skitterende wyne is deur Pieter Badenhorst, wynmaker van Fleur du Cap se witwyne, gemaak.

Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 en Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009 maak deel uit van 'n rekord 41 nuwe 5-ster wyne wat uitgesonder is van die amper 6 000 individuele wyne wat in die 2010 uitgawe sal verskyn.

Fleur du Cap Noble Late Harvest 2008 is 'n ryk vesnit van 58% Sémillon druiwe uitgesoek van die Durbanville area en 42% Rhine Riesling druiwe afkomstig van 'n enkel wingerd geleë in Stellenbosch. Die wyn is propvol aanloklike geure van heuning, appelkoos en gedroogte pere met klassieke vlagies van die muskusgeur afkomstig van die botritis op die neus terwyl die smaak beloon met heerlike nartjie, marmelade en heuning. Verder versag die suurgehalte van die wyn die soetheid en beklemtoon die vrugtegeure.

Die sterbelaaide Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009 is gemaak van druiwe wat uiters sorgvuldig uitgesoek is van terroir-spesifieke wingerde geleë in Lutzville, Darling, Kaap Agulhas, Elgin en Stellenbosch om met die uiteenlopende liggings soveel moontlik variëteitskarakter te verskaf en ‘n vars maar volronde Sauvignon blanc te verseker.

Dié wyn wat met 'n handige skroefdop verseël is om die oorspronklike kwaliteit te bewaar, loop oor van aromas van speseryagtige groen soetrissie met vyeblaar en aspersie asook ‘n titseltjie delikate tropiese vrugtegeure, terwyl die smaak vars en perfek gebalanseerd is met bossieveldgeure sowel as tropiese vrugtegeure en 'n goed saamgestelde suurgehalte.

Fleur du Cap Noble Late Harvest is teen ongeveer R107 beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en die Fleur du Cap Unfiltered Sauvignon Blanc 2009, wat later vanjaar beskikbaar sal wees, teen ongeveer R92 per bottel.

Die 2010 uitgawe van Platter's South African Wine Guide sal teen einde November 2009 beskikbaar wees by uitgesoekte boekwinkels en handelaars sowel as die aanlyn by www.platteronline.com.