Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Die realiteit van spel


Albert Maritz - 2009-08-27

Humankind cannot bear very much reality – TS Eliot

Ek gaan kyk na die werk van ‘n kollega in Iago’s Last Dance. En ek kom tot nou toe nie lekker agter die kap van die byl nie. Die beste maatstaf om dit aan te meet is … nie die vol saal nie, maar die klein foutjies hier en daar. Daar is baie min foute, maar dis die klein ietsie wat elke nou en dan die illusie versteur wat op die ou end ‘n berg word.

Dit staan soos ‘n paal bo water – mens verbloem onseker of swak spel maklik met aggressie. Mense wen soms pryse vir hul aggressiewe spel. Ek verdoesel soms ‘n swak student tydelik agter aggressiewe spel. Daar is soveel grys areas in die mens se arsenaal van eienskappe dat mens woes en ver kan ondersoek voor jy jou op aggressie verlaat.

Helaas was Iago se hele eerste toneel net aggressie en die gepaardgaande skreeuery. Dis verbasend, want later in die stuk speel beide Mbulelo Grootboom en Ntombi Makhutshi baie mooi realisties.

Maar ‘n wanbalans laat die teaterervaring taan as die teks die spelers in die steek begin laat wanneer hulle op dreef is. Klein deux ex machina-oomblikke (wanneer ongeloofwaardige oomblikke die teks moet motiveer) is skaars, maar bou tog op na ‘n toenemend onmeevoerende ervaring.

Die vervreemding is ook nie ‘n deurgevoerde element nie. Dit gebeur een of twee keer dat ‘n karakter met die gehoor praat en dit word nie genoeg herhaal om dit die een keer toe te laat nie.

Die spelers is elk op sy beurt goed, soms baie dapper. Grootboom en Opperman speel soms pragtig, met uiterstes van emosie; Grootboom beeld sy veeleisende desperate siekte en weerlose woede goed uit, en Opperman sy spyt en radeloosheid. Makhutshi raak hoe later, hoe gemakliker en daarmee saam sterker, sonder om sterkmannetjie te probeer wees.

Selfs met die regie kan mens nie veel fout vind nie. Maar teksprobleme moes opgelos word en die regisseur moes dalk bietjie meer ondernemend met teaterhulpmiddels gewoeker het vir ’n meer maksimale teaterervaring.

*

André P Brink se kapsie teen ‘n André Brink wat kwansuis in die briewerubrieke konserwatiewe stellings oor vroue maak, laat my dink aan die A Maritz wat vir Vrye Weekblad konserwatiewe briewe geskryf het. Ek het toe, as jong artikelskrywer, ook ‘n André P Brink gedoen. Die A Maritz het bloot geantwoord deur te skryf: Jou P*$#?

Max du Preez het dit net so gepubliseer.

Hierdie rondte het André J Brink toe aangedui hy sal sy skryfnaam verander.

*

Iets wat nie verander nie, is mense se mening oor sogenaamde piramide-skemas. Ek sweer steeds dis hoe Adriaan Nieuwoudt sukses met ‘n haarbreedte gemis het. Sy hele proses was een van ongelooflike bemarking. En die produk, CLEO, was gereed om verkoop te word. Toe gryp die owerheid in en daarmee saam wyk die geleentheid wat hy sou gehad het om sukses te hê en aan sy beleggers te bied. Die Kings gaan deur hel. Volgens alle bronne is hulle goeie mense wat die beste vir hul kliënte wou bied. Dinge loop skeef, en hulle word verguis. Een broer neem sy eie lewe. Maar oor hulle ‘n benaderingsfout begaan het. ‘n Aaneenlopende fout, maar een waarin jy is en waaruit jy moeilik kom as jy daarin is. Mens wil nie nou in hul skoene, of in die skoene van hul beleggers, staan nie.

Cavendish se Nouveau-flieks het Izulu lami, Spirit of the marathon en Disgrace.

Twee resensente het eersgenoemde hoog opgehemel. Dit het 4 sterre in Die Burger. Maar in die eerste paar tonele is die spel die swakste; dit raak beter en soms selfs uitstekend, maar groot spronge in die teks aan die einde ontneem die kyker die vreugde van realisme. Dis kleinigheidjies wat filmmakers met ‘n klein bietjie professionele hulp kon uitgestryk het.

Spirit of the Marathon is nie op dieselfde peil as byvoorbeeld die 70’s-fliek Visions of Eight nie, maar is vernuftig, verveel nie en eindig op ‘n verrassend spannende noot.

Disgrace bied alles wat die boek wou hê dit moes. Dis ‘n sterk fliek wat nie die gehoor in die steek laat nie. Selfs die parallelle tussen die Afrika-mishandeling van die vrou en die Europese mishandeling van die vrou word sterk geteken.

Op ‘n persoonlike noot: Petrus lyk toe ironies genoeg nes my vriend Andrew, wat ons jare gelede ontval het. Dis ‘n interessante ervaring waaroor hyself sou gelag het – Andrew in ‘n swart vel. Terwyl die akteur die karakter goed speel, is hy aanvanklik, dalk selfs deurentyd, vol charisma. Die eienaardige aksent is verklaar deur die titels. Petrus was Eriq Ebouaney, ‘n Fransman teenoor wie ek gespeel het in Cape of Good Hope – en watter gawe ou op stel.

Maar gaan kyk gerus die fliek. Meer as die basiese is reg hier. Klein visuele grepies hier en daar stel die hoë kwaliteit van als in hierdie fliek op ‘n hoër kaliber as die meeste. Die aandag aan grimering (behalwe dalk die paneel by die universiteit), kostuum en sommer alles was daadwerklik.

Reality is always more conservative than ideology – Raymond Aron