Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Ons lewe deur herhaling


Jason Lloyd - 2009-08-27

Die karakters se verhouding in die jongste roman, Voetstoots, van John Miles sou ʼn goeie metafoor wees om die samekoms van Riaan en Amy te beskryf. Dié karakters in Miles se boek belê in iets, in hierdie geval ʼn verhouding, en daar is absoluut geen waarborg dat dit die regte keuse is nie. Anders gestel: daar is geen waarborg dat dit gaan werk nie.

Sy sou die deur van haar woonstel stadig oopstoot. Die sleutels in haar handsak gooi. Die koerant onder haar arm op die sofa in die sitkamer neerboender. Sy het op die mat voor die TV gaan sit; met haar rug teen die boekrak gestut. Die deur was nog oop en skielik het Amy gedink en sorgeloos geword. Daardie warm gevoel wat sy in die vergaderkamer ervaar het, was iets nuuts en baie skaars. Die oogkontak was nie skurfagtig nie; dit was delikaat, welgevorm en het ʼn inskakeling ingeburger.

Iewers sou hy neffens KFC sy kar tot stilstand bring. Trouens, sy selfoon het gelui en hy moes stilhou, want KFC sal hy nie eet nie. “Het jy haar gesien en met haar gepraat?” Riaan herken die stem as dié van Nina, ʼn kollega van Amy. “Ja-jis man, mooi girl as jy my vra.”

Vir die eerste keer sou hy diep in haar oë kyk; hy sou haar asem ruik en die warmte van haar binneste teen sy gesig voel. Die warmte van haar liggaam sou die punte van sy lyfhare so ampertjies aan die brand laat slaan. Hy moes vir ʼn wyle buitetoe wip om te voorkom dat al sy lyfhare oorrompel word.

Die volgende oggend sou hulle gedagtes mekaar vind. Die oogkontak het ʼn kettingverbintenis geword. Die trillings teen haar ruggraat sou hy ervaar. Hulle sou van mekaar se liggame teen mekaar hou. Die verbintenis het gehou. Dit was mooi soos die Namakwalandse blommeprag.

Die bagasie was egter te swaar vir dié verhouding. “Het jy ʼn kind, want my vorige boyfriend het ʼn kind gehad?”, wou Amy weet. “Ek het hom gelos omdat hy vir my gelieg het oor die feit dat hy ʼn kind het. Toe ek dit uitgevind het, was dit oor tussen ons.”

Riaan het “nee” geantwoord – want hy het nie ʼn kind nie, maar het gedink Amy is bloot uitsoekerig. “Wat as sy verwagtend word en die pa gaan koop seep? Hoe sal sy voel as sy verwerp word omdat sy ʼn kind het? Never mind, ons kan maar probeer,” het hy gedink.

Amy sou op ʼn funksie vir Riaan in die teenwoordigheid van vriende vra of sy vriendin Mugelaine – wat Xhosa kan praat – ʼn suiwer coloured is. Sy het Riaan herinner aan ʼn eks wie se intellektuele vermoë veel te wense oorlaat. Hy kan nie “leeghoofdigheid” hanteer nie.

Beide het te swaar aan die verlede gedra. In Voetstoots besef een karakter: “Die verlede is ʼn denkbeeld waarvan jy nie kan loskom nie. Ons lewe deur herhaling.”