Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

'n Nota in jou posbus


Johann de Lange - 2009-08-27

I wonder how many times you've been had
And I wonder how many plans have gone bad
I wonder how many times you had sex
I wonder do you know who'll be next

   - Sixto Rodriguez

1
Ek wed jy is ‘n harige klein wetter
met 'n ruie klos in die mik,
lieste diep muskus ná ’n dag
op kantoor. Jou fikse sfinkter
met 'n digte sweetblink roset,
soos die blinkswart baard
van ’n uitgevrete mossel,
is straks 'n strop begerig
& glibberig tot ek eers
met vinger of die sagte beitel
die gleuf oopgedwing kry.
Ek wed jy’s ’n heup-oor-hals
bottom met ’n behendige agterstewe,
getrein om tawwe latte leeg te melk.
Dié dat jy so touwys glimlag
met daai stoppel-smoel.

2
Sal ek uitwei oor jou balle,
daardie twee winterokkerneute
harig & skurwerig op die tong,
& met 'n fleugie eerlike sweet,
daardie twee kwarteleiertjies op-
getrek tussen jou ruie lieste,
die een laer, die ander kleiner
- onpaar aardjie na sy vaartjie.
Sal ek met my uitgelese tong
jou horingsening volg
tot by die kwistige asterisk,
plekhouer vir geliefdes
& ander boorlinge.

3
Jou kompakte lyf in t-shirts & jeans
het my verbeelding op loop. Ek wil
jou voete soen, elke harige toontjie,
op oor jou kuite, waaie, boude, klote ...
& ongehoorde pleidooie
uit jou wynrooi lippe forseer,
my bed die Spaanse inkwisisie.
Ou mans & botterbulletjies –
staan gerus nader aan die venster.
Ek’s nou te oud vir die jag, maar hierdie oë
het báie sien kom & gaan; my tong
hom bekoms gesmul aan gekruide porsies,
& my hande was sakkerollers van wit genotjies.
Helaas onwaarskynlik dat ’n bukserige
koebesie op mý skouer sal neerstryk
met: Hoe lyk ‘it, pappa, met 'n steek?