Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier # 4


Coenie Kukkuk - 2009-08-21

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om soveel as moontlik te berig in dié kort spasie oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

 

1. ’n Storm in ’n teekoppie het in die pers losgebars nadat ’n klein, verregse jeugbeweging, die Pretoria Verkenners Jeug, kapsie gemaak het teen die Pienk Jakaranda Musiekfees wat op 15 Augustus by die Konferensiesentrum en Amfiteater by die Voortrekkermonument aangebied is. Hulle skryf op hul blog. 

VTM befonds nou Sodom en Gomorra - So moet ons kennis neem dat die erwe van ons vaders nou misbruik word om Sodom en Gomorra te befonds?

Ons gaan voorlopig nie meer hieroor uitbrei nie.

U sal waarskynlik later opvolg nuus rondom hierdie walglike gebeure ontvang.

Om hierdie bespotting en vertrapping van ons erfenis te aanvaar word egter nie deur die PVJ oorweeg nie.

Mag dit ook die geval wees met elkeen wat hom/haarself 'n Afrikaner noem.

Die organiseerders van die Pienk Jakaranda het gesê dat hulle nie gaan antwoord op mense wat in die verlede leef en uit voeling is met die res van die gemeenskap nie. Die bestuur van die Monument het ook in die pers laat weet dat hul nie beheer het oor wie die Konferensiesentrum huur nie.

Dit is blykbaar dieselfde klein groepie wat ’n sitstaking by die aandenkingswinkel van die Monument geloods het om teen die verkope van kondome en Afrika-maskers te betoog!

Die vraag is: Mag gay Afrikaners nie ook trots wees op ons geskiedenis en die Monument nie? Boonop is die Pienk Jakaranda nie aangebied as ’n gayfees as sodanig nie – in die pers, oor die radio en op hul webtuiste is duidelik gesê almal is welkom. Hoe kan gay mense as sg “normaal” aanvaar word as hul nie doodgewone “normale” musiekfeeste kan aanbied waar hul hetero vriende en familie nie ook kan tuis voel nie? Die Monument was ’n simbool van onderdrukking; dis uiters gepas dat dit nou slegs ’n simbool van die geskiedenis word en die juk van sy verlede afgooi en alle Suid-Afrikaners van watter kleur, ras, geloof of seksuele oriëntasie kan verwelkom.

Die fees was ’n reusesukses – daar was net oor die 100 stalletjies met goedere van ’n baie hoë standaard; agt groepe kunstenaars het opgetree, onder wie Karen Zoid, Elzabé Zietsman, Eden, Melanie Lowe en Marc Lottering; en die getalle het oor die 3 000 besoekers beloop.

Die Verkenners moet maar vasstaan – dis nogal baie mense om te probeer keer met hul groepie van twintig of so!

(Op die foto’s wys die hand van ’n geesdriftige na die Monument en op die ander verskyn Wayne, een van die Gayspeak Posterboyz saam met Marc Lottering en Martin Bester van Jakaranda FM, die seremoniemeester.)

Nog foto’s op Facebook hier en www.gayspeak.co.za

2. Kovsies in die Vrystaat het nou hul eie gay studente-organisasie, out@Kovsies. Dit is gemik op LGBTI-studente op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat – en dit val mooi in by die nuwe rektor se aankondiging dat die Universiteit getransformeer gaan word. Die voorsitter, Rohan Terblanché, kan bereik word by admin.outatkovsies@gmail.com

3. Charl du Plessis, Nataniël se briljante pianis, bring op 11 September sy nuwe vertoning, The Composers, na die Centurion Teater in Pretoria saam met Werner Spies (baskitaar) en Hugo Radyn (dromme). Daar word gesê: 

Following the release of his chart topping PIANO MAN CD and DVD Charl du Plessis is back at the Centurion Theatre for one night only, performing some of the best-loved classical favourites in the world done in a cool jazz style. The Charl du Plessis Trio tour to Switzerland and Amsterdam in August 2009 and will delight Gauteng audiences with an all-new programme from their European performances. The Composers will include jazz arrangements of music by Mozart, Bach, Schubert and Handel as well as exciting jazz standards with a twist. Classics has never sounded this cool, and in the capable hands of this young trio musical bliss is taken to an all-time high.

Besprekings kan by 012 664 7859 gedoen word of via die webwerf.

4. Die sanger, liedjieskrywer, pelgrim, gypsy en legende Piet Botha neem op 28 Augustus die hoofweg na Johannesburg om sy "hits" van die afgelope 30 jaar by Die Pienk Kerk te kom sing. Dit gaan nie net 'n akoestiese vertoning wees nie, Piet gaan ook klavier speel, iets wat mense nie sommer gou weer in 'n ander venue gaan beleef nie! Piet se eerste Afrikaanse solo-album, 'n Suitcase vol Winter, is so pas heruitgereik. So, met die laaste bietjie winter hier in ons midde kan julle ’n aand geniet van die mooiste musiek. Kaartjies is R170 per persoon en dit sluit 'n heerlike tweegang-maaltyd in. Onthou om jul eie drank te bring. Die ete sal om 19:30 bedien word en die vertoning begin om 20:30. Die adres: Chatoustraat 24, Richmond (langs Melville). Die Kerk is op die hoek van Chatoustraat, Landau Terrace en 1ste Laan. Besprekings is noodsaaklik; kontak hulle: pienkkerk@gmail.com of Ann: 083 618 3848.


5. Het jy geweet dat daar nie minder nie as 13 verskillende soorte biseksuele geïdentifiseer word? Volgens ’n artikel deur dr Elna MacIntosh, die seksoloog van Health24.com, behoort biseksuele hul identiteit te vestig en as ’n egte seksuele oriëntasie erken te word. Lees gerus dié interessante artikel hier.

6. Die Wes- en Noord-Kaapse streeksuitdunne van die Mnr Gay Suid-Afrika™-kompetisie was volgeboek by The Glen Boetiekhotel in die Kaap, en dit het ’n verrassende wenner opgelewer: Shahin Eskandar – ’n immigrant uit Iran. Shahin gaan nou ook op die gay-skeepsvaart na Mosambiek, saam met die ander 15 finaliste, waarvan die Vrystaat se wenner op 22 Augustus aangewys word, en KwaZulu-Natal op 12 September. Charl van den Berg, bestuurder van die bekende gay-eetplek, Manhattan, was tweede en die operasanger Jacques Snyman derde. Die foto is van Shahin Eskandar. Lees hier meer oor die kompetisie.

7. Van Mnr Gay Suid-Afrika™ gepraat, een van die borge, Bone Wear, het aangekondig dat hul nou die heel eerste ontwerpers van mansonderklere in Suid-Afrika is wat na die buiteland uitvoer. Glo my, hul produk is die moeite werd! Jy kan ook per pos bestel deur hul webwerf.


8. Die nuwe uitgawe van Wrapped – die “Cultural Edition” behoort die tonge los te hê – en sal binnekort op boekrakke verskyn. Hier is die nuwe voorblad sodat jy kan uit kyk daarvoor. Moenie dié uitgawe misloop nie!

9. OUT Well-being in Pretoria bied nou elke eerste en derde Vrydag van die maand ’n regskliniek aan vir behoeftige LGBTI-mense van 11 vm tot 1 nm. Werklose en hulpbehoewende gays kan ’n afspraak maak by my by law@coenraadkukkuk.co.za. Slegs vier persone kan op ’n betrokke Vrydag te woord gestaan word en basiese, algemene regsadvies sal verskaf word.

10. Mambaonline.com berig dat dit nou al geruime tyd is sedert ons ’n gay-verhoogstuk van formaat op die planke gehad het, en Pterodactyls is volgens dié blad se resensie ’n “welcome and fulfilling theatrical meal”. Lees gerus die resensie hier. Dit word aangebied by die Old Mutual Teater in Sandton tot 29 Augustus.   

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging.