Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Gay > Fiksie | Fiction

Marlise


Amanda Kaltwasser - 2009-08-20

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Dit was in 1993 as ek reg kan onthou. Ek was die draaiboekskrywer van die eenheid. Ek het by die Weermag gewerk, siviel, het gevoel ek gaan nie elke dag 'n romp en sykouse dra net omdat 'n staandemaglid 'n beter salaris kry nie. Ons videoproduksie-afdeling van die eenheid is genader om 'n promo te doen vir 44 Valskermbrigade in Bloemfontein. So vertrek ek toe saam met my kommandant, nog 'n kommandant van 'n ander afdeling en die kolonel, bevelvoerder van die eenheid, Bloemfontein toe. Na 'n paar bedrywige dae van clued-up raak met die visie, missie en doel van die Valskermbrigade, asook met al die fasette en fases van die valskermsoldate se opleiding, kom die kolonel na werk by my aan. Hy wou weet of ek die aand saam met hulle wil gaan uiteet. Dit het lekker geklink en ek het gesê dankie, ek sal graag saamgaan.

Nie een van ons Pretorianers ken eintlik Bloemfontein goed nie. Na 'n geryery en 'n bietjie soek kom ons by 'n plek uit waar 'n restaurant is. As ek reg kan onthou, was die plek se naam Stringfellows. Dit het na 'n nice plek gelyk, met 'n lekker atmosfeer. Nie 'n “te” plek soos in “te” styf en “te” smart nie.

Iemand by ontvangs het vir ons 'n tafel aangewys. Ons het gaan sit en ek het rondgekyk om die plek in te neem. Die volgende oomblik het ek haar raakgesien, die waitress! Sy was omtrent my eie lengte, sexy en mooi met donker hare, en het na ons tafel aangeloop gekom. Soos wat ek kyk, ontmoet haar oë myne en dit bly daar. Sy kom staan aan die punt van ons tafel en vra vriendelik wat sy vir ons kan kry om te drink. Sy neem die drie mans se bestellings en stap dan om die tafel na die verste punt waar ek sit. Dan hurk sy reg langs my en vra my met 'n charming kyk in haar oë: "En wat kan ek vir jou bring om te drink?" Ek het haar charming terug in die oë gekyk en ons het net daar geconnect.

Ek kan nie onthou wat ek bestel het om te drink nie, kan nie onthou wat ons aan tafel gesels het nie; ek kan net daardie connection onthou.

Later, toe sy die bestelling kom neem vir die ete, het sy weer net by my kom hurk en met daai selfde magnetiese oë in myne gekyk en gevra wat sy vir my kan bring. Sy was extremely charming met my. Ek het gedink: "Vir jou, vir voor-, hoof- en nagereg", maar ek het probeer fokus om net iets te bestel. Haar nabyheid was electrifying! Ek het gewens ek was alleen aan die tafel. Ek het gedink die ander aan die tafel moet seker iets sien van wat hier aan die gang is en ek het ook geweet dit gaan nie vir hul sin maak nie. Vir seker het die girl ook nie geweet in wie se geselskap ek was nie.

Later het sy die rekening gebring. Ons elkeen het bereken wat ons koste beloop. Op die rekening het haar naam gestaan: Marlise. Ek het die restaurant se telefoonnommer gesoek op die strokie en dit oor en oor in my kop herhaal om dit te memoriseer. 'n Mens kan dit amper nie dink nie, maar daai tyd het ons nog nie selfone gehad nie. Ek wou so graag net alleen met haar gesels, maar daar was net nie geleentheid nie.

Na ons die rekening afgehandel het, was sy daar om dankie te sê. Ons het opgestaan en begin uitstap. Ek was bewus daarvan dat sy reg agter my was en dat my kommandant weer reg agter haar was. Ek het gesien die voordeur van die restaurant kom nader en gedink: "Nou of nooit nie." Ek het ook gedink dat die kommandant my nou gaan hoor en sien wat ek doen, maar ek het net nog 'n paar treë tyd gehad. My hart het geklop, maar ek het omgedraai na haar en vir haar gesê: "Ek gaan jou bel, dan gaan wys jy vir my Bloemfontein!" Sy het gesê "Ja, doen dit asseblief, ek sal." Daarna is ons uit by die deur.

Terug by die basis is ek haastig na die naaste telefoon toe. Ek het die nommer gebel. "Stringfellows, goeienaand," het 'n manstem gesê.

"Kan ek asseblief met Marlise praat?"

"Jammer," het die stem gesê, "sy is klaar huis toe, sy werk eers weer môreaand, sal so vyfuur hier wees."

Demmit, ek sal moet wag tot môre! Die volgende dag reël ek met iemand om my laatmiddag na die plek toe te vat waar Stringfellows is. Na werk maak ek haastig klaar en probeer so goed as moontlik lyk. Ek is vreeslik opgewonde en my kop hardloop met my weg terwyl ek elke tree daarvan geniet.

So kort voor vyf stap ek by die restaurant in. Ek vra na Marlise. Sy is nie hier nie, sê hulle, is seker nog op pad hier na toe. Ek gaan terug, af met die roltrap, en wag daar onder rond. Ek dink en wonder wat gaan ek vir haar sê as sy hier aankom, want ek ken haar nie. Die overdose adrenalien binne in my bedwelm my op 'n lekker manier.

Dan sien ek haar. Sy sien my ook raak en stap dadelik in my rigting. "Hi," sê ek, "gaan ons ry?"

Sy sê ja en dit lyk asof sy vinnig dink. Ek kyk vir haar terwyl sy haar karsleutels uithaal. Sy gee vir my die sleutels aan en beduie vir my waar haar kar geparkeer staan en vra dat ek die kar moet gaan kry en vir haar om die hoek in die volgende straat moet wag. "Ek gaan gou vir hulle 'n storie spin daar bo sodat ek nie vanaand my shift hoef te werk nie," sê sy. "Ek gaan sê my kar het moeilikheid gegee en ek moet dit gaan uitsorteer. Ek is nou by jou."

Wow! Ek kry die kar en ry soos sy my beduie het en dan is sy by my. Ek kan nie eintlik glo als wat gebeur, is waar nie. Ons besluit saam om eers by 'n coffeeshop te gaan sit en 'n koffie weg te slaan. Ons sit en gesels. Sy is 'n student in haar finale jaar – kuns, soos ek kan onthou. Is tot haar ore toe oor verlief op 'n straight girl; dit lyk of daar iets gaan gebeur tussen hulle, maar daar gebeur ook nie iets nie, maar sy weet die girl hou van haar. Ek lag, want ek weet van straight girls. ek vertel haar dat ek darem al so een of twee van hulle so effens gevry het. Sy gaan nie baie na gay-klubs toe nie, hou nie altyd van die crowd daar nie, hou nie van butch girls nie. Ek ook nie, sê ek.

"Dit begin skemer word. Laat ek jou gaan wys hoe lyk Bloemfontein," sê sy. Sy bestuur, ek sit langs haar en is intens bewus van haar. Ek weet ons gaan mekaar vanaand baie beter leer ken. In my is 'n opgewonde, warm afwagting. Ons ry paaie wat ek nie ken nie en ry dan by 'n koppie op. "Dis Naval Hill," sê sy. Daar staan net 'n paar karre. Hier en daar sien ek paartjies meegevoer in hul eie saamwees en ook totally weggevoer in mekaar se lywe. Ek dink by myself dit is soos Klapperkop in Pretoria.

Ons klim uit die kar uit en gaan sit 'n entjie vorentoe byna teen mekaar. Voor my sien ek Bloemfontein se liggies en langs my voel ek haar teenwoordigheid met 'n brandende excitement aan. Ek wil haar in my arms vashou en wil haar soen, maar ek wag. Ons arms en skouers raak aan mekaar terwyl ons nog gesels oor die lewe, oor dinge en oor die liggies. Ek kyk in haar oë, ek kyk na haar cool sexy lyf, na haar donker hare, en ek dink ek like haar oor 'n honderd. Sy is oulik, mooi en bright!

Ons besluit om te ry en stop by 'n roadhouse in die dorp om ietsie te kry om te eet. Ons bestel toasted sandwiches en drinkgoed. Ek brand om aan haar te raak en sit my hand op haar bobeen. Terwyl sy in my oë kyk, voel ek hoe sy haar fyn, sagte hand bo-op myne neersit en hoe die sparks deur my hele lyf skiet.

Na ons albei ons sandwiches geëet het, ry ons weer. Ons ry 'n paar strate op en 'n paar ander af voor sy skielik voor 'n plekkie stop. "Ek gaan net gou iets haal in my woonstel." Sy is 'n rukkie weg en kom dan aangedraf met twee glase en 'n bottel rooiwyn in die hand. Sy spring terug in die kar en sê vir my: "Ek hou altyd 'n kers in my kar se cubby-hole." Ek kyk na die girl hier langs my en dink hene what a night, dis vrek lekker in Bloemfontein!

Ons ry onder die liggies uit. 'n Kort grondpad vat ons tot by 'n ou murasie in die veld wat deur die maan verlig word. Sy sê soms kom kuier van hulle girls daar. Ons klim uit en ek voel die vars aandlug teen my gesig. Haar idee om hiernatoe te kom betower my verder. Sy steek die kers aan, drup was op 'n stuk muur en maak die kers daar staan. Sy gooi vir ons rooiwyn in die glase. Ek vat 'n slukkie, sluk die oomblik in tyd in tot diep binne-in my. Sy staan baie naby aan my, ek trek haar nader in my arms, voel haar sagtheid teen myne en met al die passie wat van die uiteet af in my opgebou het, soen ek haar. Ek voel haar sagte lippe, voel haar tong passionately in my mond. Ek voel ek gaan explode. Ek voel hoe sy self lam word in my arms. Ek voel dronk van haar lyf en is intens bewus van net haar en my klere tussen ons.

"As jy wil kan jy by my kom oorslaap in die basis," sê ek vir haar terwyl my lyf na hare vra. Ons ry soontoe.

Haar lyf is mooi. Ek fluister in haar oor vir haar dat sy vir my sexy is. Ek soen haar warm mond. My hande beweeg oor haar hele lyf. Ek voel hoe sy warmer word onder my hande. My hande beweeg orals oor, orals in. Met haar hande en mond maak sy vuur bo-oor my, binne-in my. Ons sweet in mekaar se arms. Ons hou nie op nie, kan nie genoeg van mekaar kry nie. Oor en oor explode ons van ekstase en maak weer van voor af liefde omdat ons nie kan ophou nie, nie wil ophou nie.

Die eerste lig van die nuwe dag begin om deur die gordyne van die kamer te skyn. Ons kyk in mekaar se oë met nog soveel van die nag se passie binne-in ons. Sy sê sy moet gaan klaarmaak vir klas. Ek weet ook dat ek nog 'n paar goed het om te finaliseer wat die draaiboek betref.

"Tot wanneer is jy hier?" vra sy.

"Ek vlieg drie-uur terug Pretoria toe. Was nie lus vir die ryery nie en het vir my 'n vlug gereël met die Cessna."

"Ek sal jou vliegveld toe vat," sê sy; "ek dink ek weet waar dit is. Sien jou dan later."

Ek voel ek wil haar nie laat gaan nie. Ek kyk haar kar agterna terwyl sy by die hek uitry.

Die middag staan ek solank buite en wag. Die gebeure vanaf die ete speel oor en oor in my kop af. Ek voel droomverlore. Ek kan nie wag om haar te sien nie. Ek hou my horlosie dop; sy kom nie. Ek sien die wyser aanstap al nader aan drie-uur. Ek stres oor waar sy is en oor my vlug, want ek kan nie laat wees daarvoor nie.

Dan verskyn haar kar om die draai. Ek beduie haar waar om te stop, gooi my goed op die agtersitplek en spring haastig langs haar in. Ek gee haar 'n soentjie en sit vir oulaas my hand op haar been. Ek voel hoe sy my hand styf vashou. "Jy moet jaag, girl," sê ek, "ons is laat!"

Ons stop na aan die vliegveld. Sy help my my goed dra. Daar voor sien ek die Cessna staan. Ons hardloop saam die sementpaadjie op. "Ek kan jou nie by die vliegtuig soen nie," verduidelik ek en trek haar in die hardloop nader vir 'n laaste passionate soen. "Ek gaan jou mis," sê ek; "dankie vir jou."

Die ander mense sit reeds in die vliegtuig. Iemand langs die vliegtuig sê vir my dat ek moet verskoning vra vir die senior offisiere in die vliegtuig omrede ek die vlug opgehou het. Ek waai vir haar deur die venstertjie en kyk haar agterna soos wat ons opstyg. Dan maak ek my oë toe en herleef weer elke oomblik. Ek is in die wolke, in die wolke oor Marlise.

Terug by die werk stap ek in die gang af.

"Amanda."

Ek steek vas en draai na sy kantoordeur toe. "Ja, Kommandant?"

"Het jy daardie meisie wat ons by die restaurant in Bloemfontein bedien het, geken?"

"Nee, Kommandant."

Ek draai om en stap aan voor hy my nog vrae vra.