Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Michael Jackson se behoefte aan “witheid”


Jason Lloyd - 2009-08-17

Ek skryf dié rubriek vanuit Grahamstad, waar ek vir ʼn week ʼn kursus in mediabestuur en leierskap by Rhodes-universiteit volg. Ek was ook in Mei hier gewees tydens ʼn boekvoorlesing-sessie van die skrywer Eben Venter.

ʼn Besoek aan Grahamstad is altyd interessant en leersaam en dit dwing my altyd om diepdenkend te wees. Dié besoek was geen uitsondering nie. So beland ek toe in ʼn restaurant, Cock House. Tydens ʼn besoek aan dr Godfrey Meintjies, hoof van Afrikaans aan Rhodes, noem hy dié restaurant was eers ʼn huis en vir meer as 30 jaar die tuiste van die skrywer André P Brink toe hy by Rhodes Afrikaans doseer het.

Dié besoek het my herinner aan die voorwoord van Brink se memoires, ʼn Vurk in die pad. Brink skryf:

Gewoonlik redeneer mens dat elke keuse wat jy maak, impliseer dat ander uitgeskakel word: op ʼn gegewe oomblik in die ontstaan van ʼn skildery het die skilder byvoorbeeld die keuse om êrens sê maar rooi of groen of blou te gebruik. As hy besluit om dit rooi te maak, dan skakel sy keuse die moontlikheid van groen of blou uit. Een oplossing, wat dikwels deur Picasso geïllustreer word, sou wees om op daardie plek met nie net een skildery voort te gaan nie, maar ʼn reeks te skilder – een met rooi, een met blou, een met groen.

Teen die agtergrond van Michael Jackson se tragiese dood het ek veral gedink hoe sou hierdie Brink-aanhaling neerslag vind in en om die “komplekse” lewe van Jackson? Hoe sou Jackson instrumenteel wees tot dié “kompleksiteit” en tot die feit dat hy as ʼn “tragiese” held gesterf het?

Ek het onlangs Jackson se biografie, Michael Jackson The Magic and the Madness,deur die joernalis J Randy Taraborrelli gekoop. Taraborrelli skets ʼn talentvolle, maar ook ʼn tragiese Jackson. Hy was talentvol en ongetwyfeld die grootste vermaaklikheidster van sy tyd. Hy was broos, mishandel deur sy pa en was te vroeg in die hartelose vermaaklikheidsbedryf gegooi. Hy het nie die verskil tussen kind en volwassene geken nie; hy was dus nóg kind, nóg volwassene. Hy was vir 50 jaar dwalend op soek na ʼn identiteit. Hy was ʼn slagoffer wat sy familie uit armoede moes sing. Reeds daarom het hy tragies gesterf, want hier op aarde sou hy nooit gelukkig wees nie. Hy het nooit in diens van homself gestaan nie; altyd ander gedien.

Maar toe hy “velprobleme” ontwikkel, was sy keuse om “wit” te wees. Hy het gekies om spermselle te koop om “wit” kinders te hê. Brink skryf ʼn mens moet jou verbeel dat alle moontlikhede vir altyd bly saam bestaan.

Jackson het die “maklike” moontlikheid gekies om “wit” te wees en die “vele” keuses geïgnoreer en hom vervreem van sy “swartheid”. Net soos sommige bruines hul “swartheid” ontken en ʼn valse en kunsmatige “witheid” aanhang.
 
Jackson was nie net van “magic" omgewe nie; maar ook van “madness”.