Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Hier volg ’n eerbetoog aan dr Wimpie de Klerk … Of so iets.


Fanus Rautenbach - 2009-08-13

Daar is ’n paar mense op hierdie aarde, as jy tien minute in hulle geselskap was, jou ’n beter mens laat voel, en ek kan daardie mense op die vingers van my een hand tel. Duimpie ... Duimpie se maat ... Langeraat ... Fielafooi ... en Piepsinniekooi!

Kom ons begin by Duimpie. Duimpie de Klerk ... uhh … Wimpie de Klerk! As ek al my vingers bymekaar tel, so lank het ek elke dag vir Die Transvaler en vir Wimpie ’n rubriek geskryf ... Of so iets! Maar eers wil ek iets prettigs van sy ouers vertel.

Ek en ’n lewenslange vriend van my, Sakkie van der Walt, hoor van ’n stukkie grond wat by Buffelsbaai te koop is. Ons spring in die pad en beland in die reent op die Buffelsbaaigrondjie … en ons val vas. Ek stel toe voor (as jy my jongste boek, Fanus onthou en Sebastian lieg in die mou, al by Lapa gekoop het, hoef jy nie verder te lees nie - die storie is daarin!) dat ek by die hotel sal gaan hulp vra terwyl Sakkie die kar uitgrawe.

In die hotel, wat pas aan ’n jong knaap verkoop is, is daar slegs twee gaste. Ja, dr Jan De Klerk en sy vrou, dit wil sê Wimpie en FW se pa en ma. Nadat daar gegroet is, vra die nuwe hoteleienaar aan ons drie: “Wat sal u drink?”

Mevrou De Klerk antwoord, en kyk na haar man: “Liefie, ek is nie lus vir ’n whisky vanaand nie, wat van ’n ‘ginger square’? Wat sou dit in Afrikaans wees, Fanus? ‘Ginger square’?”

Ek stel haar nie teleur nie: “Wel, ’n ‘grenadella’ is ’n ‘groenegagie’ Ek sou dus reken dis ’n ‘gemmergagie’!”

Toe roep die nuwe eienaar my eenkant: "Weet jy hoe maak mens ’n ‘ginger square’?”

“Ja, dit bestaan uit ’n dop gemmerbrandewyn, ’n dop gemmeralie, een dop gewone brandewyn, sodawater, en om die rand van die skemerkelkglas smeer jy gekleurde korrels suiker … en voilà!”

Mevrou proe-proe, kyk vir dr Jan en juig: “Liefie ... dis die lekkerste gemmergagie wat ek nog ooit gedrink het!” (En ooit sal drink, brom ek ...)

Ek het honderde rubrieke vir Wimpie by Die Transvaler geskryf oor mense en die dinge wat hulle doen, en Willem de Klerk was nie skaam om te prys nie. Onderaan een van die rubrieke skryf hy (en dis my kosbaarste besitting!): “Ek hou van jou werk. Dis puik. Dis lekker. Dis raak. Ek hoop dit kry nooit klaar nie.” Toe skryf ek ’n dankierubriek en noem dit: “Vir so ’n baas doen jy jou bes!” Dankie, Wimpie.