Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Dinokeng - 'n klein juweel


Yuri Thumbran - 2009-08-13

Die spreekwoord lui: As die berg nie na Mohammed gaan, gaan Mohammed na die berg. In dié opsig kan ’n mens sê dat die Gautengse regering deur sy Blue IQ-projek dieselfde mening gehuldig het toe hy by die Dinokeng-natuurreservaat betrokke geraak het. (Kyk hier)

Die reservaat strek van wes tot oos in die gebied tussen die N1 Noord van die Magaliesberg tot buite Cullinan. En van die berg tot noord van Hammanskraal. Dus, ’n groot gebied vir ’n vakansie of ’n naweek-wegbreek. Tussen die juwele wat hier te vind is, is daar ook ’n paar dinge wat pla.

Boaan die lys van lastighede is toegang tot diere. Dit is nie ’n nasionale park nie, en ’n dagrit is skaars. Jy moet by ’n lodge bespreek voordat jy wild kan besigtig. Die ander probleem is dat jy tot net een plaas beperk kan word. Dus, indien jy bespreek, is dit raadsaam om vas te stel watter diere besigtig kan word, wat die beperkings is en so aan. Gelukkig begin boere meer en meer saam kliek, wat besoekers ’n groter keuse bied ten opsigte van wildsbesigting.

Nog ’n probleem, wat meer struktureel van aard is, is dat die wildsboere nou besef dat hulle ’n wenresep beet het. En dus word daar hard gepoog om kommersiële boere uit te koop sodat meer grond beskikbaar kan wees vir wild. En daar is van dié wat vasskop …

Behalwe die Groot Vyf, kan ’n mens verskeie diere soos boksoorte, seekoeie, kameelperde, wildebeeste en dies meer daar sien. Van die hoogtepunte is die Mystic Monkeys-vesting vir ape, die Rust-de-Winterdam vir watersport en die verskeie toere wat op Cullinan aangebied word. Dan is daar safari’s op olifantrug en vir die avontuurlustiges warmlugballon-ritte.

Van die wildsplase bied voetslaanroetes waar ’n mens veral voëls kan besigtig.

Dinokeng bied baie meer en probeer mededingend wees in ’n strawwe mark. Dus is akkommodasie van die beste gehalte, en vir dié wat wil, kan daar verskeie piekniekmandjies voorsien word om ’n uitstappie in ’n heerlikheid te verander.

Ek was eers teleurgesteld dat ons nie vroeër kon gaan nie. Tog, later is kwater. Hier in die winter is dit makliker om die diere te sien. En die plantsoorte te bestudeer.

Die teerpaaie en sandpaaie is in ’n redelik goeie toestand. En dit is ’n moet om by een van die koöperasiewinkels te stop en met die eienaar te gesels. Dit bring jou by die besef dat jy binne ’n uur van Pretoria in die platteland is, en dit is ’n heel ander wêreld.

Van die interessanthede wat ek waargeneem het, is die NG Kerk wat by een van die plase is. Dit dien die plaaslike gemeente.

Nog iets wat opgeval het, was die aantal damme in die omgewing.

Alles in ag geneem is Dinokeng ’n wonderlike ervaring. Net iets wat ’n moeë siel oor ’n naweek kan verkwik.