Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Gedagtes rondom drama


Albert Maritz - 2009-08-12

Conceit causes more conversation than wit - Duc de La Rochefoucauld (1613-1680)

Ai, dis ’n pity om die Kalfiefees te gemis het. En selfs sonder enige van my produksies het hulle goeie werk daar gehad. Hul kon gewis sonder ons klaarkom; iemand daar het goeie keuses gemaak.

Ek was daai tyd in Johannesburg. En telkens aangenaam verras oor hoe amper elke swart mens my heil op die hart gedra het. Rêrig. In 'n gesprek het ek en 'n paar mense weer besluit: rykdom, en om op die kruin daarvan te bly, is die euwel in die samelewing. Ek het darem vriende vir wie rykdom glad nie ’n probleem is nie. Hulle het trouens net nicer geraak hoe ryker hulle word.

En hulle ry 4x4's. Maar in Beyers Naudé-rylaan gooi 'n ou wat ook 'n 4x4 ry, al wat 4x4 is, se naam weg. Hy druk bloot twee motors uit hul baan soos hy van hulle sykant in hul baan inbeweeg omdat daar voor hom – in die linkerbaan – ’n voertuig in die pad stilstaan. ’n Blonde meisietjie wat van Wespark se rigting na Emmerentia wil afdraai, ry sommer in haar BMW in aankomende verkeer se baan, in plaas daarvan om bietjie te wag agter verkeer, voor sy kon regs draai.

*

Ieder geval, die ATKV-tienertoneel is weer op ’n baie hoë standaard. Vanjaar probeer hulle ’n nuwe resep. In die verlede was die standaard van baie Kaapse stukke besonder hoog, en die aanbod uit die Noorde nie so groot nie – mens sou in ’n finaal ses Kaapse stukke en net twee uit die Noorde kon kry. Maar net vier uit elke streek is toegelaat. Vanjaar reis spanne beoordelaars kruis en dwars oor die land en bepaal persentasies wie die finaal haal.

*

Na ’n week in pragtige PE en ’n week in Johannesburg land ek grasieus in Kaapstad. En wag saam met Amerika, Duitsland, Frankryk en Spanje 45 minute vir bagasie. En in plaas daarvan dat mense twee meter weg van die voerband wag, staan almal op ’n hoop en loer waar hul bagasie is. Die jong man stamp die ouer rooiwit vrou teen die been met ’n tas. Sy knor. Almal staan.

*

Op die brug wat mens oorneem na die N2 - op die randjie van die plakkerskamp – stap ’n ou in sy SA-sokkertrui. Die duiwel pak hom beet. Hy besluit die motor wat hier aankom, is ’n C—T, en dis wat hy skree vir die ou in ’n motor wat hy glad nie ken nie. Hy maak nogal armgebare agter my aan. Ek dink hy haat groen ...! Of het ’n onherstelbare hoofpyn!

*

Mens wil in alle beskeidenheid sê dankie vir die toekenning by die Innibos-fees. Die prys is aan die hele geselskap van Taraboemdery, en ek sluit graag Willie, die stunning venue-bestuurder daarby in. Hy het voorwaar sommer eienaarskap geneem van die werk wat in sy venue plaasgevind het, en kreatiewe oplossings, diens en menseverhoudinge was vir hom voorop.

*

My hoed af vir Willem Pretorius, omdat hy in Sondag skrywe oor die walging wat die Lotto is. Hulle behoort lankal forensies ondersoek te gewees het, omdat hulle net vir die salarisse daar is, en die charities en kultuur en behoeftiges in gesondheid, en amper elke ander veld wat hul geld dringend benodig, bloot soms gehelp word met "ietsie”, net sodat dit kan lyk of hulle werk. Ek het nog sedert omtrent 2000 nie ’n antwoord by hulle gekry op my aansoeke om befondsing – oa vir opheffingswerk – nie. En die een keer toe ek hulle gaan sien het, het ene Sershan Naidoo my verskree en beledig in die foyer van hul gebou in Pretoria. Hulle is ’n selfregulerende liggaam, wat by monde van Naidoo reëls maak wat hulle pas, sommer soos hulle aangaan. Dit was selfs so duidelik soos daglig tydens sy RSG-onderhoud met Freek.

Dankie, RSG, wat ons ’n spreekbeurt gegee het met ’n opvolggesprek. Die Lotto is besig met ’n misdaad teen die mense van hierdie land. Nou gaan hulle saamspan in ’n projek met PnP, wat hul gaan lei om nog meer geld te maak. Vra maatskaplike werkers van die ACVV en BADISA wanneer laas hulle by die Lotto geld gekry het.

(Wat ’n slag dat Sondag nie meer in die Kaap te kry is nie. Dis die koerant met die meeste kuns en kultuur van almal!)

*

Ouens wat welkome geluide maak, is Sean Else en Johan Vorster. Jissou, hulle shake en stir, man.

Op verlede jaar se fees by Innibos het Sean in sy kar vir ons Johan se songs gespeel – wat hy geskryf het vir Vaughn Gardiner, vir Ons Vir Jou, vir Bok, ensovoorts. En daai ou se musiek wil ek koop. Sommer daai selle beplanning-cd ...!

Ons vir jou se openingsaand in Pretoria was indrukwekkend. Uit my introvert-hoekie kon ek waarneem die personeel weet nie waar die teaters se deure is en wat waar speel nie!

Maar die produksie self … móét debat inspireer, om die interessante inkleding van ’n brandende plaashuis, en die trein op die verhoog, en die skip se leer, en die interessante beligting wat die slagveld uitbeeld. En die inhoud.

Die teks is die kern. En Sean Else een van ons mees avid geskiedenisvrate. Beslis met sy eie inspirasie wat hom dryf. Maar vir die gehoor en die meningsvormers geld ’n paar vrae:

Is die storie aangrypend, effektief en real?

Maak die gevoel wat dit by die gehoor laat, saak?

Maak dit saak op blote kaartjieverkope-vlak, of ook op die vlak van wat dit aan die collective doen?

En wat bereik dit met die faksies in die kollektiewe? Heel dit, inspireer dit, snoer saam, voer bloot mee, of rui op?

Dis die vrae wat geld.

En of jy van die produk hou of nie, ten minste is die twee, en Deon Opperman, bereid om hul geld te sit – en te leef! – waar ander bitterheid saai en op hul eie mishope sit en smoor.

One nice thing about egotists: they don’t talk about other people – Lucille S Harper