Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Riana Scheepers se eerste kortverhaalbundel in 10 jaar!


Riana Scheepers - 2009-08-12

Katvoet, Riana Scheepers se eerste kortverhaalbundel in 10 jaar, is ’n sjarmante, onthutsende kombinasie van die sensuele en die gevaarlike, ’n bundel waarin die skynbaar alledaagse dikwels aanleiding gee tot irrasionele en selfs wonderbaarlike lewenservarings. Lees hieronder een verhaal uit Katvoet.

Die dag toe Katryntjie se hoenders weggewaai het

ry ons van die Karoo terug huis toe. Ons kom terug oor Bainskloof en so ver soos ons ry, sien ons die verwoesting. Dit lyk verskriklik. Het hier ’n tornado deurgetrek? ’n Wolkbreuk? Wat kan soveel skade veroorsaak? ’n Tsoenami? Nêrens is ’n teken van groot reën nie, die aarde is droog, maar oral lê groot en ou bome wat omgewaai het, die hele wêreld lê vol los blare en takke. Boomstompe wat inderhaas van die padoppervlakte weggesleep is, los takke in groot, wanordelike hope opgestapel langs die pad, oopgeskeurde, rooi, rou grondhope soos die bome geknak en boomwortels uit die aarde geskeur het.

Ons stop langs die pad om uit te kyk oor die vallei. Ons stop nie om te kyk na die mooite van die weelderige vallei onder nie, maar om te kyk of ons kan agterkom wat gebeur het. Ons probeer sien of ons huis nog daar onder êrens is. Dit is tjoepstil, daar is nie ’n luggie wat beweeg nie. Maar iets, Iets, hét deur die vallei beweeg. ’n Reus met ’n swaar, argelose hand.

Dit voel asof ons die enigste mense op aarde is, nêrens is daar ’n ander motor op die pad nie, selfs nie eens mense wat langs die pad loop, op pad na êrens nie.

Dit is afgryslik, sê my man, wat sou hier gebeur het?

Ek dink dit, maar ek sê dit nie: Dit is die Wegraping. Uiteindelik het dit nou gebeur.

As kind het ek sidderend van vrees in die diepste deel van ’n donker boom geklim en probeer wegkruip vir die Wegraping. Hoeveel nagte het ek in ’n bondeltjie onder my komberse gelê en in angs en sweet gewag dat almal om my in ’n groot wind weggeruk gaan word? My angs vir die Wegraping was dwingend en akuut en werklik, veel meer as vir die Tokkelossie of Antjie Somers, of Kehla wat kinders in sy sak gestop en opgevreet het. Waar het ek daaraan gekom, ons is tog nie grootgemaak met die leer van die Wegraping nie? Maar hoe ek ook al daaraan gekom het, ek was doodseker, soos nou nog, dat ek een van die vedoemdes sal wees. As die Wegraping kom, en dit moet volgens die heilige Bybel die een of ander tyd gebeur, dan sal ek agterbly. Daarvan was ek sekerder as myself. Ek alleen, in ’n verwoeste wêreld waar ek niemand ken nie, almal om my op die aarde goddelose sondaars, swendelaars en skurke en moordenaars, my godvrugtige familie elders in ongekende heerlikheid opgeneem. My pa, wat alreeds geruime tyd in die hemel is, sal my ma en my broer en twee susters met ope arms inwag en liefdevol teen sy bors druk. Hulle het reeds van my vergeet, en hy sal nie eens uitvra na my nie, want diegene wat weggeraap is, dink nie een oomblik aan die gedoemde siele wat agtergebly het nie.

Eendag ná ’n swemles wat langer as gewoonlik duur. Ek gaan terug huis toe, en daar is niemand nie. Al die deure staan oop, al ons goed nog daar, want die Weggeraaptes neem niks saam hemel toe nie, maar niemand is tuis nie. Nie Salvina nie. Nie eens die kat nie. Net die stilte. En ek weet, dit het gebeur: van nou af is dit ek en die Stilte, tot in alle ewigheid.

Hoe lank het ek in die boom gesit voordat my ma my kom roep het?

Ek ry met my fiets tot aan die rand van die dorp en die son sak met ’n verblindende glans deur die groot, wit koepelwolke. Die hemel is aan die brand, die veld gloei in die vuurlig van son en ’n brandende, geopende hemel. Dit hét toe gebeur, dit gebeur nóú, hyg my asem deur my bors. En hier is ek, op my fiets, alleen in die veld en ek word nie opgeraap na waar die engele jubelend vir die uitverkorene wag nie. As ek by die huis kom, sal alles stil wees. Hoe lank sal ek kan oorleef met die kos wat daar in die huis is?

Hoe lank het ek wydsbeen oor my fiets gestaan en kyk na die Wegraping voordat ek teruggedraai het, verlate tussen die mense en motors en ander fietse gery het, Markstraat 164 toe waar my ma angstig en ongeduldig vir my wag om die kos op te skep?

En nou ry ek en my man deur die oorblyfsels van die Wegraping. Maar alleen is ons nie in die wêreld nie, iemand was wel voor ons hier, godvrugtige manne wat op ’n Sondagoggend nie in die kerk of knus by hul families was nie, maar reeds vroegdag die noodwerk van opruiming gedoen het, die pad oor die berg begaanbaar gemaak het.

Ons ry al hoe vinniger, beangs oor dit wat tuis vir ons wag, ons huis in die vallei onder ons, ons huis met sy dik mure wat al ’n paar eeue staan, sy gewel wat met die vorige aardbewing getuimel het, sy oeroue bome wat van binne uitgehol en bros is, die werf met sy stilte en bome en wit afgewitte geboue.

Dit is selfs erger as wat ons gedink het.

Die werf is groen. En kaal. Die wynkelder en buitegeboue se dakke is niks meer as verwronge stukke staal en geskeurde sinkplaat nie, dit lê skuins gewaai oor bros mure en weerlose binneruimtes, die wynvate oop in die son. Die res van die wêreld is groen. Blare, takke, loof van boom en struik lê uitbundig, wanordelik oor die grasperk, die stoep, die hele werf. Ons kan nie by ons huis se deur inkom nie, want een van die eikebome lê met sy magtige stam en duisende takke bo-op die stoep, die deur verberg agter die waansinnige ruiker van gebreekte takke en blare.

Die boom wat ’n hemelruim se koelte oor die werf gegooi het, lê plat, ’n helse son brand uit die gat wat die gapende blou hemel is.

Die boom was tweehonderd jaar oud, fluister ek.

Nóg ’n boom, selfs ouer, lê op die agterstoep tussen die kombuisdeur en die stal. Van twee kante is ons huis toegewaai met takke en stompe.

Die werksmense sluip bedeesd nader.

’n Wind, nie ’n waaiwind nie, maar ’n magtige rukwind wat gewaai en nie opgehou het met waai en ruk nie, sê hulle.

ek is hartseer of dik bedonnerd, weet nie eintlik wat nie, ek vlug van die verwoesting op my werf en loop in die berg tussen die boegoe wat skerp en gekneus ruik en nie eens die oergeur van boesmanboegoe en heilsaamheid kan my troos nie ek tel tussen die stukkende takke ’n plakkaat op van die verkiesing maande gelede met verbleikte gesigte van mense wat nooit die paal gehaal het nie niemand weet van hulle nie niemand gee om oor hulle nie

By die huis staan my Katryntjie op die stukkie voorstoep wat nie toe onder die bome en stukke bas en takke lê nie. Sy is ’n klein, bruin, droefgeestige bondeltjie.

My hoenders het weggewaai, sê sy verwese. Hulle is in die hemel in op, sy het nog gestaan en kyk hoe dit gebeur, maar sy kon dit nie keer nie.

Ek hou haar klein Boesmanlyfie in my arms vas en is so bly, ek is so verskriklik bly ek en sy is nie saam met die goeie mense van die Wegraping weg nie.

Uitgewer / Publisher : Human & Rousseau
Prys / Price : *R155
Bladsye / Pages : 208
Formaat / Format : Sagteband; 213 x 137 mm
ISBN-13 : 978-0-7981-5107-8

Gaan bestel dit nou by kalahari.net!