Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Radio net een eeu oud!


Fanus Rautenbach - 2006-12-12

My goeie vriend Hoefie Haupt verjaar op 19 September.

’n Ander goeie vriend, Martin Bothma, verjaar op 22 September.

En ’n ander goeie vriend, Henk Bierman, verjaar op 26 September.

My beste vriend – ek, Fanus – verjaar op 23 September.

Elke jaar op een van ons verjaarsdae vier ons Kersfeesbabas ons geboortedae.

Kersfeesbabas? Na die liefdesdaad neem dit mos nege maande vir die baba om gebore te word. My pa het altyd gesê ek is daar want hy het niks anders as liefde gehad om vir my ma te gee nie.

Toe skryf ek hierdie versie:

Vader Kersfees het haar
daardie jaar weer geflous:
en sit toe net sy saad
in haar Krismiskous!

Dit was Kersfees 1927.

Nou hoor ek hierdie storie: dit is vanjaar, 2006, presies 100 jaar gelede dat die eerste uitsending van stem en musiek op “draadlose radio” uitgesaai is. Daarmee het die wêreld nie net die wonderlike geskenk van ’n kommunikasie-ontploffing ontvang nie, maar is ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat die ontwikkeling van beeldradio sou moontlik maak.

Gepas, dan, dat die eerste uitsending op Oukersaand 1906, sou plaasvind, as ’n soort Kersgeskenk aan die mense ter see van hulle geliefdes tuis.

Vandag is die Kanadees Reginald Audrey Fessenden, wat in Amerika vir die beroemde Thomas Edison en George Westinghouse gewerk het, nie naastenby so beroemd soos sy werkgewers nie. Fessenden, ook bekend as Fessie, het voortgesette golftegnologie ontdek nadat hy ’n klip in ’n meer gegooi het en waargeneem het hoe die golwe uitwaarts kring van waar dit die water getref het. Hy was oortuig dat vir stemklanke om sonder drade – "draadloos” – oor afstande gehoor te kon word, moes die Herz-klankgolwe wat dit veroorsaak, in kringgolwe omskep word waar dit ’n antenne by ’n ontvangstasie tref.   Daarmee saam word hy ook die ontdekker van “amplitude modulation”, of dan AM. Hy skep die tegnologie waardeur twee hoëfrekwensie-seine met mekaar gemeng word om ’n hoorbare lae frekwensie van die menslike stem uit te stuur.

Op 24 Desember 1906 saai hy die eerste program van stem en musiek oor ’n lang afstand uit. Dit begin om nege-uur die aand vanaf Brant Rock in Massachusetts na verskeie skepe van die Amerikaanse vloot, die United Fruit Company, en ook vissersbote wat tegnologies toegerus was.

Fessie trakteer hulle op ’n uitsending van "Stille Nag", soos deur homself op die viool gespeel; ’n grammofoonopname van Händel se Largo; en voorlesings uit Die Bybel. Hy sluit dan af deur almal ’n Geseënde Kersfees toe te wens.

’n Tweede uitsending vind op 31 Desember van daardie jaar plaas as ’n Nuwejaarsprogram, en die draadloos as vermaaklikheidsmedium is gevestig.

Suid-Afrika se eerste radiostasie word op 29 Desember 1923 deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë in Johannesburg in gebruik geneem en die volgende jaar deur die stad se Wetenskap- en Tegnologie-klub oorgeneem. Dit is in Julie 1924 dat Kaapstad as Uitsaaiersvereniging ’n soortgelyke diens begin, en Durban volg in Desember van dieselfde jaar.

Van meet af aan word die dienste deur lisensiegelde befonds, maar hulle kon daarmee nie die pyp rook nie, en die Schlezinger-organisasie neem die stasies oor. In 1927 word die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie onder leiding van genl JBM Hertzog as eerste minister as staatsinstelling gebore.

Jare later, in die 1960’s, sou genl Hertzog se seun, Albert, minister van posterye, weier om die “boosheid” van “die klein baaiskoupie", soos hy dit genoem het, saam met “die leeu te laat loop!”

Dit alles skryf ek om dankie te sê, want was die radio al daar, het Vader Kersfees dalk net ’n draadloos in Mamma se Krismiskous gesit !