Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Robbie vat NIE die koek nie ... ook nie die Krismiskoek nie


Theunis Engelbrecht - 2006-12-12


Dit is met groot verontwaardiging dat ek al die stront gelees het wat Jana-Mariana die afgelope twee keer in my afwesigheid agter my rug kwytgeraak het. As kakpraat ‘n kolletjie was, was Jana al lankal ‘n tarentaal.

Vat nou maar Robbie Williams se nuwe CD, Rudebox. Nadat ek Jana se liriese orakelsange daaroor gelees het, was ek nuuskierig om daarna te luister. Jana skryf dat van al die jong rammetjies van wie daar nuwe CD’s uit is, vat Robbie die koek. Gmfff. Ek is seker daai Shane Ward-mannetjie vat die koek meer as wat Robbie dit deesdae vat. Selfs Will Young vat die koek nog meer as wat Robbie dit vat. En ‘n mens wil nie eers dink waar iemand soos ons eie Robbie Watsenaam (Willemse? Wessels?) in hierdie prentjie pas nie.
Robbie se nuwe CD is ‘n pot onverdunde suiwer stront. Ek is seker al rede hoekom Jana daarvan hou, is omdat sy Robbie graag wil naai (Williams, nie Watsenaam nie). Sy het dit ook al in geen onduidelike taal nie ruiterlik en manmoedig teenoor my erken. Ek wil nie graag vir Robbie naai nie, en daarom kan ek meer objektief en onbevange luister. Met Rudebox het Robbie kak opgedis, en Jana het dit as koek aangesien, en nou is daar kak in die Land van Sound Bites.
Interteks met die Pet Shop Boys se moer. Jana praat absolute KAK daar, en ek kan dit nie sterk genoeg stel nie. Robbie se CD (Rudebox, nie Leeuloop nie) is ‘n herbesoek aan al die hip cultures van die 80’s en 90’s, met liedjies oor Madonna en die Pet Shop Boys. Laasgenoemde het ook ‘n handjie bygesit om Robbie die koek te help vat op die laasgenoemde twee uiters idiotiese nommertjies. Op die titelsnit probeer Robbie soos Justin Timberlake klink. (Ek weet nie waar pas Danny K in hierdie prentjie nie.) (Of Johnny K nie. Of Kenny G of Tony G nie.)
En dan het Jana nog die absolute vermetelheid om my ook hier en daar aan te haal in haar twee bydraes tot die Fucked-Up Land of Sound Bites. Hier en daar het sy my ‘n woord of twee in die mond gelê wat nooit eers in die nabyheid van my tong was nie.
Ek aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige van haar aanhalings nie.
So byvoorbeeld het sy goed geskryf wat ek te sê sou hê oor Justin Timberlake se musiek, dat dit beter is as Robbie Williams s’n en al sulke kak. Wat ek oor Justin se musiek kwytgeraak het, kan nie gepubliseer word alvorens ‘n regsadviseur eers geraadpleeg is nie. Ek het wel teenoor Jana laat blyk dat ek dink sy praat kak as sy sê Robbie vat tans die koek, want ek dink Justin vat die koek net ‘n bietjie meer. In fact: met Rudebox vat Robbie GLAD nie eers die koek nie. Geen koek van enige aard nie, hetsy dit Krismiskoek of huwelikskoek is.

Scissor Sisters – Ta-Dah
Waar jy jou deesdae ook al bevind – in Shoprite, by die haarkapper, Pick ‘n Pay, by die gym, in Woolworths, in Pep Stores, in die tandarts se wagkamer, in hysbakke en oor die radio – hoor jy ‘n mannetjie wat in so ‘n hoë stemmetjie skree "I DON’T FEEL LIKE DANCING!", maar op musiek wat jou nie anders kan nie as lus maak vir dans. Die Scissor Sisters se tweede CD, Ta-Dah, is dié paartie-CD van hierdie tye waarin die Hoer van Babilon weer rusteloos begin brom en knor soos ‘n beer wat lanklaas bloed geruik en vleis geëet het. Dit klink soos Leo Sayer gemix met die Bee Gees, maar die beat is meer funky en die attitude meer kamp en dubbelsinnig, soos op die liedjie "She’s My Man", wat ook binnekort gehoor sal word in Shoprite, by die haarkapper, Pick ‘n Pay, by die gym, in Woolworths, in Pep Stores, in die tandarts se wagkamer, in hysbakke en oor die radio.
Kyk, baie van ons siele het in hierdie dae van feestye en jaareindtye ‘n bietjie vrolikheid en ‘n skop op ons gatte dringend nodig. As jy een van hulle is, gaan koop hierdie CD onverwyld en luister daarna wanneer jy in die kar ry. Dit sal van jou ‘n meer ontspanne, positiewe en opgeruimde padgebruiker maak, en sal ‘n titel soos dié van spoedvraat of padvark jou nie waardig wees nie. En speel dit as jy wil paartie, dit het ook ‘n delikate dekadente kinkel. Goeie, vervlietende pop, mits die sanger se gepynigde stemmetjie jou nie laat wonder of dit te wyte is aan tandpyn, ‘n neurose of ‘n stembandkondisie nie. Dit is wikkel-daai-benoude-boude-musiek en baie goed vir die enigsins verstokte siel. Dis beslis nie vir pruimbekkige puriste nie. (Hul name sal ons nie noem nie; hulle wys hul kleure gereeld in hierdie digitale literêre domeine.)
Iets waaroor ek wel met Jana saamstem, is dat die oorvloed nuwe musiek-DVD’s op die mark iets allerysliks en allerafgrysliks is. Een wat ek raakgekyk het toe Jana vir my waargeneem het terwyl ek uitgerus het in Huis Skemervreugde naby die Vrystaatse dorpie Lusthof, was Moby se DVD Go.

DVD van die feestyd

Go – The Very Best of Moby
Te salig vir woorde – 30 musiekvideo’s van ‘n kunstenaar wat lekker en interessante musiek maak, wat boonop ook nog lekker paartiemusiek maak, iets wat so baie van ons armsalige ou siele in hierdie dae so bitterbroodnodig het.
Die video’s dek Moby se hele loopbaan tot dusver. Sy vroeë goed laat ‘n mens voel of jy na TV-beelde kyk in ‘n aërobiese klas, maar hoe later, hoe kwater. Met elke nuwe CD het Moby net warmer en warmer geword. Hy kan dansmusiek kombineer met retropop, skreeuende rockkitare, killer grooves en baie funky beats. Head-on man, hy is daar bo saam met Fatboy Slim, my chinas."
Om hoogtepunte uit te sonder is ‘n onbegonne taak, en ‘n taak wat eerder vir die kultuurkommissarisse van ons tyd geskik is as vir die Paartie Land van Sound Bites. Maar hulle is almal daar – van "Spiders", "Beautiful", "Raining Again" en "Lift Me Up" tot "Bodyrock", "Honey" en "Why Does My Heart Feel So Bad?".
Kwaai, ou Moby, kwaai. Vat so.

Rock around the clock

Krismis is al op ons, en steeds kan die onversadigbare Mensevreter genaamd Mammon nog nie genoeg kry nie en word daar steeds goeie nuwe rock-CD’s uit die worsmasjien gepomp vir die Krismismark.
Een wat die moeite werd is om van kennis te neem, is die heruitgawe van die Britse rockgroep Placebo se gelyknamige debuutalbum van tien jaar gelede.

Placebo: 10th Anniversay Collection

Ek het hierdie album nie 10 jaar gelede gehoor nie en het eers later met Placebo opgetel, maar ek kan verstaan dat die album die Britte uitgeboul het - en dit spoedig ook aan die res van die wêreld en ander afgeleë uithoeke van ons godverlate planeet sal doen. Die androgene sanger kan ‘n mens irriteer, veral ook omdat hy meestal met ‘n knyperige stemmetjie in ‘n hoë register sing, so asof ‘n Parktown Prawn besig is om sy balhare te kielie.
As hy jou irriteer, tough shit. Want dan mis jy uit op uitstekende rockmusiek vol passie, skop, aggressie, rouheid, maar ook sagter oomblikke wat des te meer skreiend klink te midde van al die ander growwer emosies op die CD. Van die eerste treffers van hierdie CD was knock-outs, soos "Teenage Angst" en "Nancy Boy". Ek sal die CD beslis eendag saamvat ouetehuis toe vir as ek voel dis weer tyd om ‘n bietjie lewe in die moeë litte en afgeleefde lendene van die doodafwagtendes te blaas.
Saam met die CD kom ‘n DVD – meestal optredes op TV-programme soos Top of the Pops en The White Room of rockfeeste soos Glastonbury. Daar is ook vier musiekvideo’s: van "36 Degrees", "Teenage Angst", "Nancy Boy" en "Bruise Pristine".
Ek verkies om na Placebo te luister eerder as om na hulle te kyk. Jana voel net weer presies die teenoorgestelde. Ek wil nie eers wonder hoekom nie, want ek kan net dink watter prentjies vorm sy in haar kop met die gesiggie van daai cocky sangertjie van Placebo. Trouens, ek sidder onbehaaglik by die blote gedagte.

Kompilasies vir feestelike volkere en dronkverdrietige nasies
Niks soos ‘n lekker compilation nie, sug Jana en ‘n rilling van welbehae gaan merkbaar deur haar besonder welskape liggaam met kurwes soos dié van ‘n beeldhouwerk.
Daar is MASSAS compilations op die mark, maar die volgende het by ons een oor ingegaan en by die ander uit, en ‘n bietjie – klein bietjie – daarvan het nie weer uitgegaan by die ander oor nadat dit aanvanklik by die eerste in is nie. Vreemde dae, vreemde tye, vreemde mense.

Snakes on a plane: The Album
As jy in die bui is vir losgat, semihardegat, bandelose rock met skop, behoort jy aanklank te vind by hierdie CD. Dit bevat lekker streetwise rock in verskillende graderings van swaarheid, met gelukkig nie te veel Gotiese swaarmoedigheid tussendeur nie. Groepe soos Cobra Starship, Cee Lo Green, All-American Rejects, Fall Out Boy, The Bronx, Armor for Sleep, Coheed & Cambria (waarvan ek nog nooit gehoor het nie, en seker ook nooit weer sal hoor nie, en nog net so een of twee keer weer sal WIL hoor anyway). Maar dis lekker terwyl dit aan die gang is en laat mens wens dat jy in vandag se tye ‘n tiener kon wees, want jy kan jou net indink watse lekker paarties jonges van gees, vlees en beespees met sulke CD’s kan hê. Die liedjie van die groep Panic! At The Disco kry die prys vir die titel van die jaar vir hul liedjie “The only difference between martyrdom and suicide is press coverage”.
Snakes on a Plane bevat 16 tracks, en aan die einde ‘n score deur Trevor Rabin, een van die groot legendes en geeste van Suid-Afrikaanse rock.

Back to my roots IV
Hier is nou vir jou baie lekker paartiemusiek vol soul, funk en disco, hoofsaaklik uit die 70’s. Baie classics van dié style kan gehoor word deur kunstenaars soos Eartha Kitt, The Staple Singers, The Commodores, Natalie Cole, Ashford & Simpson, Parliament, Diana Ross, Donna Summer, Earth Wind & Fire, Chic, Ultra Nate, Deodato, Ini Kamoze, KC & The Sunshine Band, Pointer Sisters, Aretha Franklin, Sunshine Anderson, Tweet en Rosie Gaines. Groovy verby. As daar paarties is wat nié deur hierdie CD aan die brand gesteek kan word nie, beteken dit die partytjiegangers is morone, skape, monnike of zombies.

The Devil Wears Prada
As jy gehou het van die musiek wat jy gehoor het toe jy na hierdie fliek gekyk het, sal jy van die CD hou. As ‘n compilation is dit maar flou, ondanks bydraes deur Madonna en U2. Die beste track is Moby se "Beautiful", en Mocean Worker se "Tres Tres Chic" is vervlietend oulik en sexy. As jy jou egter kon vereenselwig met Meryl Streep in die fliek, hoort hierdie CD in jou handsak. Jy weet dalk nooit watter handige wapen dit kan wees as jy ‘n man sou moet verlei, omkoop of verwond nie.

Miami Vice
As flieksoundctrack is dit lekkerder as The Devil Wears Prada. Die heel beste snit is die hectic dance mix van Nina Simone se "Sinnerman". Moby se "One" (met Patti Labelle) en "Anthem" staan ook uit. So ook die liedjies van Goldfrapp en Freaky Chakra. Die res is vergeetlik.

Festival
Ek hou van die konsep van rock compilations. Dit gee mens altyd ‘n goeie oorsig oor wat in breë trekke en binne ‘n groter bestel van onverwante dinge aan die gebeur is. Hierop kan gehoor word staatmakers soos The Killers, Green Day, The Subways, Hard-Fi, Bloc Party, Muse, My Chemical Romance, The Darkness, Coldplay, The Streets, R.E.M. en Radiohead. Altesame 22 snitte. Waarde vir geld. Jammer dat ek soos ‘n verkoopsman of afslaer klink. Maar dis nou maar hoe dit is (sonder Steve).

Paartie-CD van die feestye

Re-Bop: The Savoy Remixes
Dié CD bevat verwerkings van ou jazz-treffers in nuwe dans grooves met musiek van grotes soos Charlie Parker en Miles Davis, Herbie Mann, en Dizzy Gillespie Sarah Vaughan. Noem dit hiphop chill, nadat die hedendaagse musiekmaters dit geremix het. Party mense dink dis onvergeeflik en vieslik om waardige ou liedere te vat en so te verwring en in ‘n nuwe dwangbaadjie in te wurg vir kommersiële doeleindes. Ek stem met hulle saam, maar mens moet erken die musiek het nou ‘n baie lekker groove en ‘n lekker edge wat dit ideaal maak vir wanneer jy wil hê daardie paartiegevoel moet van diep binne jou opbruis en uitborrel. Dit sal nie vir vleisbraaie werk nie, reken Jana, maar dit hang af van wie dit is wat die vleis braai.
Vir die rekord: ek het gemengde gevoelens oor hierdie CD, want dit laat my dink aan die soort musiek waarop die jappies van Kampsbaai en Sandton groove in hulle nagklubs en rykmanswonings, en as ek eers daardie prentjie in die kop het, bederf dit die musiek heeltemal vir my. Ek sou eerder die oorspronklike weergawes wou hoor, en met die derde luisterslag het ek gewonder hoekom moet almal altyd ‘n gedoefdoef en ‘n gehip en ‘n gehop by reeds bestaande musiek voeg en dit weer opdis. Maar dis die soort debat waarvoor ons nie opgewasse is hier in die Fucked-Out Land van Sound Bites nie; ons los dit maar vir die seminaarkamers en die kultuurkommentators en ander hooggeleerde kokkedore.