Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Om eerlik te wees ...

Om eerlik te wees ... Hoe om rassisme aan te blerk ...


Jasper van Zyl - 2006-12-12

"Jy kla oor die toestand van ons land
wel, fokken doen iets daaromtrent!"
  - Fokofpolisiekar - "Brand Suid-Afrika"

Alles het oorsake. Hierdie lewe van ons is 'n kettingreaksie. Ons loop. Ons trek skoene aan want ons wil winkel toe gaan want ons wil sigarette gaan koop want ons wil rook want dis lekker want ... So kan mens aangaan, waarskynlik tot in ewigheid. Hoewel ons iewers nie meer die woorde sal hê om die redes te verwoord nie, sal hulle altyd daar wees. Sonder redes is ons almal verlore.

So is dit ook met rassisme. Rassisme het baie oorsake. As daar een ding is waarvan ek oortuig is, is dit dat as my ouers rassiste was, was ek vandag een. As hulle Moslems was, was ek 'n Moslem. As hulle geldwolwe was, was geld my hoofprioriteit. Dis tog hoe dit werk. Maar soos met baie dinge in die lewe is dit 'n geval van dat hoewel daar oorsake is, daar géén, maar géén verskoning voor is nie. Iemand ná aan my het op 'n stadium met 'n ou uitgegaan wat vir my gesê het dat sy pa hom geleer het dat jy "nooit langs 'n swart man aan tafel sit nie". Ek het geen probleem gehad om vir hom te sê "fok jou" nie. Ek sien geen punt daaraan om taktvol te wees tussen taktlose mense nie.

In die fliek Zoolander sê die modebaas Mugatu 'n baie treffende ding na aanleiding van Derek Zoolander, 'n manlike supermodel, se onvermoë om meer as een "look" te hê: "Am I the only one seeing this?" Dis presies hoe ek soms voel oor hierdie dinge.

Ek hoef vir niemand die storie van Apartheid te vertel nie. Ons ken die stories, ons ken die gruwels, ons ken die haat, die veragtig, die vertrapping, die vernedering. Ons weet wat ons ouers sê, wat ons oupas en oumas voel. Wat ek nie kan begryp nie, is hoe 'n mens dit vir homself justify dat dit okay is om 'n ander af te kraak en op neer te sien as gevolg van 'n onbenulligheid soos velkleur. As jy met 'n swart vel gebore is, was jy vandag swart. En andersom. Uiteraard kom rassisme van meer as een kant af.

Maar hoe werk dit? Hoekom kry ons so iets? Vra jy vir 'n rassis waarom hy voel soos hy voel, voer hy redes aan soos Jacob Zuma se stort-debakel, regstellende aksie, BEE en ander belaglike dinge. Of hy sê bloot dat hulle "sleg" (let op die aanhalingstekens!) is. Vra jy hom/haar hoekom, dan "is dit net so". AM I THE ONLY ONE SEEING THIS?! Hoe dom moet jy wees om te dink dat daardie onsinnige gebabbel 'n aanvaarbare argument is? Hoe staaf dit jou gevoel? Ek is die laaste een wat plaasmoorde (nog 'n rede) sal verdedig. Weer eens, dis iets met oorsake en redes, maar géén verskoning nie. Ding is net: as jy die moordenaar wil haat, is dit jou goeie reg, broer. Doen dit. Maar almal is nie so nie. Jy kan nie vir almal so 'n bordjie omhang nie. Hoe kan jy dit doen? Noem vir my 'n swart mens wat volgens jou "sleg" is, en ek gooi jou drie wit mense terug wat erger is.

Nee. Dit kan nie Zuma se VIGS-beleid wees wat jou tot haat dryf teenoor ander nie. Nee. No way. Maar wat dan? Ek glo dat ons almal iets soek wat ons beter maak as die volgende ou. En wat is dan meer konkreet as velkleur? Wat is makliker om te glo as wat jou ouers (wat, terloops, ook intellektueel fucked is as hulle jou sulke nonsens voer) jou vertel oor ander? Nee, man, die probleem lê by jóú.

Dit bring my by wat ek wil sê. Ek het nou die dag uit nuuskierigheid na Bok van Blerk se CD gaan luister by die Musica op Hermanus (met die supertreffer "De La Rey" as die groot trekpleister). Ek het nie DSTV nie, so MK89 is nie 'n werklikheid vir my nie! Toe ek in Huisgenoot lees dat die song glo jong Afrikaners ongelooflik opsweep by sy shows, het ek begin dink. Ek het al voorheen met Bok van Blerk te doen gehad (hy het baie kitaar-tabs na my website gestuur) – hy's regtig 'n flippin nice ou. Toe lees ek nog Koos Kombuis se stuk oor Bok op LitNet en ook hy onderstreep dit: Bok is nie 'n sleg ou nie; inteendeel.

Die ding van 'n song soos "De La Rey" is dat dit in 'n moderne konteks heel buitensporig is. Om trots te wees op jou erfenis is nie net belangrik nie – dis verpligtend. Dis is van kardinale, onverwoordbare belang. Maar waarom moet ons as Afrikaners ons erfenis so inperk en generaal De la Rey en Piet Retief en volkspele en die Taalmonument en Afrikaans en die FAK en braaivleis en die NG Kerk en sulke dinge as Afrikaner-erfenis beskou? Waarom is die ANC-geskiedenis nie ook ons s'n nie? Waarom is die Khoisan-geskiedenis nie ons s'n nie? Waarom kan ons nie as Suid-Afrikaners 'n erfenis deel nie? Waarom kan generaal De la Rey nie ook 'n deel van swart geskiedenis wees nie? Wat is dan die verskil tussen die werk van byvoorbeeld Beyers Naudé en Oliver Tambo? Tussen Desmond Tutu en Frederik van Zyl Slabbert? Voëlvry en Vusi Mahlasela? Die dag dat Suid-Afrika uit die as opstaan en 'n wêreldleier en -moondheid word, is die dag dat ons mekaar se erfenisse ineenstrengel. Dit sal die dag wees waarop die Afrikanerstandbeelde langs dié van Steve Biko en Nelson Mandela staan. Dit sal die dag wees wat die Uniegebou langs die Albert Luthuli-tuine kan staan. Maar, die grootste verset daarteen, belowe ek jou, sal van die Afrikaner af kom.

Om De La Rey se storie na vandag deur te trek, is onbenullig. What good can come from it? ("Die hart van 'n Boer ...") Ek glo nie dat Louis Pepler probeer om rassisme aan te blaas nie.

(Bok voer aan dat De La Rey nie vir oorlog gestaan het nie, maar vir vrede. Dit is die reine waarheid. Maar waarom noem Bok dit nie op sy shows nie? Hoekom skree hy nie vir die skare nadat hy hul Afrikanerskap erken het: "Ons moet, soos De La Rey, vir vrede baklei" nie. Die shock value is dan daarmee heen, of hoe?)

As jy by 'n Fokofpolisiekar-show opdaag, moet jy fyn kyk om die hartseer daarin raak te sien. Ek salueer Fokof, want al wat ek glo dié band probeer doen, is om mense die norme van die samelewing te laat bevraagteken. Dis jammer dat, soos ook dan met Bok van Blerk, die meeste mense 'n boodskap van afbreek, rebellie en haat wegdra.

Volgende keer as jy aan 'n "menskleur"-potlood vat, dink bietjie daaroor. As jy "De La Rey" op jou iPod laat blaas, dink daaroor. Dis tyd om te dink. Daar kom 'n tyd dat jy dit wat jou ouers of vriende jou wysgemaak het, moet bevraagteken. Jy gaan moerse verbaas wees oor hoe verkeerd jou pappa toe was ...