Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Gatiepie sien Vrou-spoke: 'n kosbare nalatingskap


Haydee Morgan-Hollander - 2006-12-12

Gatiepie sien Vrou-spoke
National Theatre of Namibia (NTN), Windhoek
Met Kevin Ehrenreich en Leonard Petersen van KAT (Kopdoekie-Afrikaans en Teater) Toneelgeselskap

(Ook in Die Staatsteater, Pretoria, Desember 2006, en Artscape, Kaapstad, Februarie 2007)

 

Kevin Ehrenreich (links) as Gatiepie en Leonard Petersen (regs) as Skinny in Gatiepie sien Vrou-spoke
Hoe maak jy as kunstenaar (en komediant) nuwe vriende in ’n vreemde land én in ’n vreemde teater? Dié vraag moes beslis by Kevin Ehrenreich ook gespook het, want hy het geen moeite ontsien om sy drama-komedie met sy (hoofsaaklik) Suid-Afrikaanse verwysings uit die staanspoor te "ver-Namibiseer” nie.

Gabriël Botma skryf al in 2000 hieroor toe hy verslag gedoen het oor die eerste Windhoek Kunstefees en Cutt Glas en Dowwe Dolla se onderskeie programme. Hy skryf dat talle wit Afrikaanse Namibiërs bewustelik of onbewustelik hulle veel meer assosieer met Suid-Afrika en die nefies en niggies daar as met hul eie land en sy mense. Ook oor die verskynsel dat talle Namibiërs in private gesprekke gou die mond reaksionêr uitspoel oor die politiek, maar dat ’n gesonde kultuur van sosiaal-politieke kommentaar blykbaar nie in die teater bestaan nie (Dolla se satiriese aanval op pres “Samson” Nujoma en sy “Swape”-party).

Kevin Ehrenreich (skrywer van die Gatiepie-sketse) omseil dié "problematiek" met beeldspraak en heerlike dubbelsinnige dialoog, en moet geloof word vir die moeite om kort na sy aankoms iets van (veral) die sosiale en maatskaplike omstandighede van die land uit te vind en geloofwaardig weer te gee, tot groot vermaak van die (hoofsaaklik) wit Afrikaanses. (Anderstaliges was daar ook, maar waar was die groot gros verwagte inwoners uit Rehoboth en Katutura? Herinner aan Ehrenreich se reekse vir kykNET oor Reigerpark en sy mense (Agter die Mynhoop en Krismis in Reigerpark) wat ironies (ook) deur minder as tien gesinne gesien is, omdat so min mense in Reigerpark DStv kan bekostig.) “… My ma het gesê ek moenie skaam wees nie want ek kom van (Walvis) baai af,” sê Gatiepie (Ehrenreich) vroeg in die vertoning na aanleiding van die "margarine-voëltjie en ander geboorte goeters"; maar dit was veral die Suid-Afrikaanse (politieke) verwysings en die tonele langs die viswaters wat gehoorlede gaande gehad het: “Die man wat so ongesiens hier deur die Kruger Nasionale Park ingekom het"; “In die nuwe pak kaarte van ná die ’94 elections is daar twee van elke kaart en 11 jokers, soos in ons parliament”; en Gatiepie met “Wie het die Filistyne verslaan?”, waarop Skinny antwoord: “Ag nee man, jy weet ek weet bôggerol van rugby af.”

Ehrenreich, wat feitlik al die bemarkingsonkostes van sy produksies self dra en sy eie rekwisiete en doeke saamvlieg, het ook geen moeite ontsien met plakkate en die baniere in die voorportaal nie: "Al die pad van Suid-Afrika net om vir julle te mesmeraais’. TT Cloete skryf dat terwyl baie grappe, geestigheid, gevatheid – dit wat die Engelse “wit” en ’n “pun” noem – op taalspel berus, so baie van ons vermakers nie werklik woordspelers en woordmakers is nie en dat hulle by gebrek aan oorspronklikheid en taalskepping die maklike uitweg kies. Hiervan kan Ehrenreich nie beskuldig word nie. Sy humor is nuut en vars en die grappies oorspronklik en genadiglik ontneem van enige vulgariteit. “My leefwyse en taal is een identiteit. Een – wat sal ’n mooi woord wees? Een asem,” som hy dit op in ’n onderhoud met Rapport.

“Ons Afrikaans is vibrant,” sê hy die volgende dag tydens ons onderhoud. Die teks is in natuurlike spreektaal en jy kan nie help om te wonder hoeveel is voorbereide teks en hoeveel spontane ad lib nie, maar Ehrenreich verseker dat elke woord is ge-“rehearse” is.

Die geheelindruk is ’n afgeronde, sensitiewe uitbeelding, een wat al die fasette van ’n gemeenskap wil wys sonder doekies omdraai.

“Ons bruinmense - sommige Josters sê ‘Boeshies’ - ons is mos heppie mense.” En die heppie mense se "kleurvolle" aanbieding (“Coloured soos in Gam se kind of no name brand!”) beeld ’n dag op die Kaapse Vlakte uit met Gatiepie en Skinny wat wil gaan visvang. Visvang, nie hengel nie, want volgens Gatiepie beteken visvang “om vroue te vang”. Dit is wanneer die ouens lawaaiwater, musiek en braaivleis-goeters saamvat waters toe en dan skelmpies ’n sexy sparewheel saamsmokkel.

"Gatiepie woon al ses jaar saam met Fatiema (Tiema), sy houvrou in’ie flêts. Maar nou is Tiema weg vir die naweek en min wiet sy dat Gatiepie ’n sparewheel het, ’n skelmpie genaamd Rosie. Shakespeare die groentesmous (is die naam om dowe neute gekies? Shakespeare die ‘veroweraar’ en opperste digter?) sal die girlies dam toe vat, maar om by die dam uit te kom moet hulle verby die begrafplaas en Gangsters Paradise. Daar spook dit vrou-spoke en dan is daar nog Antjie Somers ôk.” Hulle (die spoke) is soos sonsverduistering, vervolg hy: “Jy weet hulle is daar, maar jy mag nie kyk nie.”
Die uitgeslape Gatiepie lei die goedgelowige Skinny (Leonard Petersen) gereeld om die bos, maar soms word die borde verhang en word hy uitgevang. “Het ek so goed toneelgespeel teenoor Fatiema dat selfs jy (Skinny) dink dit was real? Is ek goed of wat!”

Beide se vertolkings is absolute juwele en gehoorlede het die laaste aand gepleit vir nog opvoerings in die nabye toekoms. Ook is Ehrenreich en Petersen vrygewige akteurs wat mekaar voortdurend op die voorgrond stoot en hulle komiese maniertjies nooit dupliseer nie. Die teater met digby 500 sitplekke is ’n groot ruimte om te vul vir ’n relatief onbekende akteur, maar vertonings was met elk van die drie opvoerings byna uitverkoop.

Die hoop beskaam nie dat dié sketse (Gatiepie sien sy gat, Oz pêl Gatiepie gaan visvang, Erections 2004 – vote vir Gatiepie, Gatiepie word President en Gatiepie sien Vrou-spoke), wat Ehrenreich hoop om binnekort op DVD vry te stel, volksbesit sal word, want hulle is ’n kosbare nalatenskap van ’n rykgeskakeerde gemeenskap met baie stories om te vertel – stories, soos Gatiepie sê, “sonder leestekens en fênsie woorde”.

Haydee Morgan-Hollander
Windhoek
November 2006