Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Kennisgewings | Notices

2009 Stellenbosch Wynfees pootjie resessie met wynverkope in oorvloed


2009-08-11

Die agste Stellenbosch Wynfees wat in Suid-Afrika se wynhoofstad aangebied is, het vanjaar, afgesien van die ekonomiese daling, ‘n rekord aantal mense gelok met wynverkope van meer as R400 000 wat verlede jaar se uitmuntende merk oorskry het.

Met ‘n nuwe rekord van 13 500 wynentoesiaste van heinde en verre met menigde oorsese gaste, het die Stellenbosch Wynfees homself voorwaar bevestig as Suid-Afrika se grootste streeksfees onder een dak, wat net die beste van Stellenbosch se wynstreek tentoonstel. Afgesien van die reën op die eerste twee dae het die fees ‘n 1000 meer besoekers gelok as in 2008. Die Wynkenneraand, ‘n intieme wynervaring vir die meer ernstige wynliefhebber, was ‘n groot sukses en die groter vloerspasie van 3 202m2 tot 5 702 m², het besoekers toegelaat om met meer gemak skouers te skuur met die 150 uitstallers en wynmakers. Die fees het van die wynkenner tot die persoon wat net af en toe ‘n glasie geniet van alle ouderdomsgroepe oor die vier dae bereik met sy groot verskeidenheid en vele geleenthede soos wynwerkswinkels, ‘n demonstrasiekombuis en uitmuntende vermaak. Daar was beslis iets vir elkeen.

 

"Ons is ontsettend trots op vanjaar se fees. Dit is baie gerusstellend om die verkoopsyfers van die wynwinkel te sien. Stellenbosch is sinoniem aan kwaliteit en verkoop goed, selfs in hierdie moeilike tye. Ons was geseën met wonderlike sonnige dae en het ‘n klomp families gesien wat onder andere op die Sondag die fees bygewoon het. Dit is ook bemoedigend om die toestroming van internasionale toeriste, meestal van Amerika, Nederland en Duitsland, te sien. Dit beteken dat ons omliggende gastehuise en restaurante lekker besig was in die stil wintermaande," sê ‘n opgewekte Annareth Bolton, Hoofuitvoerende Beampte van Stellenbosch American Express® Wynroetes.

 

Die pendeldiens wat bygedra het om verantwoordelike alkoholgebruik te bevorder is goed ondersteun vanaf Kaapstad, en is veral deur die oorsese besoekers verwelkom. Die vervoerbussies in die Stellenbosch omgewing was vir die volle vier dae beskikbaar en die Buddy Bus op die Saterdag, het verseker dat die studente veilig by die huis kom.

 

Die fees se verantwoordelike rommelbestuursbeleid om sy koolstofspoor so laag as moontlik te hou, het amper 9 000 wynbottels hierdie jaar herwin. Elke stukkie rommel is of in kompos verander of bymekaargemaak vir herwinning met behulp van die herwinningsmaatskappy, Let's Talk Rubbish.

Met die Stellenbosch Wynfees se uitstekende omset uit wynverkope het die fees homself weer eens bewys as ‘n suksesvolle onderneming wat terselfdertyd ‘n wynkultuur bevorder onder lojale feesgangers wat ‘n wye spektrum van verbruikers verteenwoordig wat gretig is om meer oor wyn te leer.

 

"Ons het alreeds met beplanning vir volgende jaar se fees begin wat van 1 tot 4 Julie 2010 gaan plaasvind om saam met die FIFA Wêreldbeker se semi-finaal in Kaapstad te val," las Bolton by.