Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Onnie in die kollig: Gerhard de Jager


Adriaan Louw - 2009-08-07

Gerhard de Jager is ʼn jong dirigent van Kaapstad. Hy is gebore in die Kalahari en het sy skool- en universiteitsloopbaan in Bloemfontein voltooi met twee grade agter sy naam. Na verdere studie in Amerika het hy onder andere in Finland en Italië gewerk. Vanaf 2009 gee hy voltyds klas by SACS in die oggend en smiddae by die Universiteit van Kaapstad.

Gerhard is die enigste kind, maar ontken sterk dat hy ʼn bedorwe brokkie is! Hy speel self kontrabas, trompet en klavier, en as hy sy dirigeerstokkie neersit, geniet hy branderplankry en die buitelug!

Adriaan Louw het namens LitNet se Klaskamer met hom gesels.

Wanneer het jy jou passie vir musiek ontdek?

Nie een van my ouers het musiek gedoen nie, maar hulle het ʼn groot liefde vir enige musiek gehad, so daar was altyd musiek in ons huis. Aan die einde van my laerskooljare het ek met trompet begin, en begin hoërskool begin kompeteer, maar die passie vir musiek het vlam gevat toe die Nasionale Jeugorkes in Moskou ʼn konsert gegee het.

Tydens die simfonie (Sibelius se tweede) was dit asof die hele wêreld in plek geskuif het: die regte groep mense, op die regte plek, in die regte tyd. Musiek was nooit weer dieselfde vir my nie, en ek vermoed vir baie ander van ons ook nie.

Hoekom klassieke musiek?

Klassieke musiek het ʼn slegte reputasie in die 21ste eeu, veral onder die jeug. Hulle sien dit as oudmodies en vervelig, maar dit is allesbehalwe.

Klassieke musiek is nie net ʼn voertuig om ons direk met die verlede te verbind nie, maar daar is iets magies oor die abstraktheid daarvan. Verbeel jou net: vir die musikant is dit koue kliniese kolletjies op ʼn bladsy, amper soos ʼn chemiese vergelyking. Hy/sy lees dit en interpreteer die vergelykings, maar dit wat die luisteraar hoor, is iets heeltemal anders – ʼn ontvlugting, hetsy nostalgies, opruiend of selfs hartseer.

Dit is ook die skeppingsproses. In vandag se kitskos- en oombliklikebevrediging-milieu is dit verbysterend om te dink dat iemand vir meer as ʼn jaar sal sit en komponeer aan een opera, en amper obsessief oor die vakmanskap daaroor word, maar daarin lê die meesleurende reaksie van die musikant en dan die gehoor.

Wou jy nog altyd spesifiek dirigeer?

Snaaks genoeg, ek het eers gaan wetenskap studeer, al die pad tot my MSc toe, maar musiek was in my bloed (gelukkig of ongelukkig weet ek nog nie). Ek het tydens my studies aan die UK ʼn dirigeerkursus geneem, en dit was die einde van my wetenskap-loopbaan; ʼn nuwe wêreld het oopgegaan, een van kleur, klank en besonderse uitdagings.

 Speel jy ook enige instrumente?

My eerste instrument is natuurlik trompet, maar ek het later met kontrabas begin, en soos alle aspirantdirigente is klavier ook op my CV, en daarna slagwerk.

Is daar enige orkes waarmee jy geassosieer word?

Mmm, wel, in Suid-Afrika sal ek sê die Kaapstadse Koperblaasorkes (Cape Town Concert Brass), waarvan ek die teuels as musiekregisseur aan die begin van die jaar oorgeneem het. Oorsee was ek verbonde aan die Britten-Pears Festival-orkes in Aldebourgh, Engeland, vir ʼn jaar as assistentdirigent. Verder werk ek deesdae met die UK se blaas- en strykorkeste.

Hoe voel dit om jou beroep oorsee te beoefen?

Ek was baie gelukkig om al ʼn paar keer in die buiteland te gaan toer, eers met orkeste en toe as solis en nou as dirigent. Dit is nog een van die byprodukte van musiek, om saam met mense van so baie verkillende tale, gelowe en denkwyses te werk, of eerder idees uit te ruil, en die meeste daarvan is aan die hand van nieverbale kommunikasie – wat ʼn voorreg!

Wat was die grootste uitdaging wat jy as dirigent al teëgekom het?

Soos in enige beroep is daar altyd uitdagings. Vir dirigente is dit legio: om met jeugorkeste te werk is die uitdaging om te verseker dat die student met ʼn meer gevorderde tegniese vaardigheid nie verveeld of gefrustreerd raak tydens oefeninge nie. Met professionele orkeste is dit nie die geval nie, maar die uitdaging hier is om die werk wat uitgevoer word, op so ʼn manier te interpreteer dat dit vir die musikante (wat dit waarskynlik al ʼn hele paar keer in hulle lewens gespeel het) voel asof hulle dit herontdek vir die eerste keer. Asook die feit dat ʼn dirigent met sestig tot sewentig hoogs individualistiese mense werk, wat dan maklik eenvoudige meningsverskille in ʼn artistiese oorlog kan verander.

Wat was die grootste genot wat jy as dirigent al beleef het?

In 2007 het die Britten-Pears-orkes Benjamin Britten se Death in Venice opgevoer in Aldebourgh, waar Britten dit oorspronklik gekomponeer het, en ook in die saal waar die eerste uitvoering was. Om eerlik te wees, ek was selfs op die vliegtuig op pad Londen toe nog vas oortuig dat dit ʼn baie vreemde komposisie is, en het my lot betreur om nou vir drie weke in Engeland se koue te sit en Britten-opera te doen. Maar aan die einde van die tydperk het dertig musikante van altesaam sewe verskillende lande soos een organisme die wonderlike opera so opgevoer. Die optredes was elektries; dit was asof Britten self in die gehoor was. Dit mag nou baie dramaties klink, maar ek kan nie onthou dat daar een droë oog in die gebou was nie (behalwe vir die tuba, ? tubaspeler? wat voor die tyd te veel jenewer gedrink het en al van die begin af bewoë was).

Watter bekende musikante is vir jou ʼn inspirasie?

Ek het die voorreg gehad om in 1998 onder die Russiese maestro Valerie Gergiev te werk, en ek is seker die man is gemaak van honderd persent elektrisiteit. Die manier om ʼn orkes se volle konsentrasie te hou vir ure aaneen, en die manier waarop hy absoluut onuitputbaar is, was verbysterend. Asook sy siening en interpretasie van musiek.

Dan was een van die mees inspirerende musikante met wie ek gewerk het, Isabel Charisius, altvioliste van die Alban Berg-strykkwartet. Afgesien van die feit dat sy een van die nederigste en begaafste musikante van ons tyd is, het sy die vermoë gehad om tydens ʼn repetisie met ʼn jeugorkes vir drie ure net aan drie mate te werk. En aan die einde van die sessie wou die studente nog werk – hulle wou net glad nie ʼn breuk vat nie.

ʼn Ander inspirerende man is die jong dirigeer-genie Gustavo Dudamel, wat die dryfkrag agter die Venezuela-jeugorkes en -musiekprogram is.

Watter eienskappe onderskei die koring van die kaf in die musiekbedryf?

Harde werk, onwankelende passie en respek vir musiek. Talent speel ook ʼn belangrike rol, maar as jy nie die komponis respekteer en sy musiek met passie uitvoer nie, sal dit gemiddeld oorkom na die gehoor. En natuurlik, harde werk is die belangrikste – almal het talent, en vir elke supertalentvolle is daar nog ʼn paar honderd op ander plekke in die wêreld.

Sal jy vir die res van jou lewe dirigeer? En indien wel, hoekom?

Vir seker; afgesien van die interaksie met mense van so baie verskillende agtergronde en hul eie sienings, is dit ʼn enorme eer om in iemand soos Beethoven of Mozart se verwysingsraamwerk in te klim en dit wat hulle te sê gehad het oor hulle tyd en omstandighede te interpreteer en met ander mense te deel. Asook die eienskap van musiek om so baie mense bymekaar te bring.

Watter status het klassieke musiek tans onder die Suid-Afrikaanse jeug? Hoe dink jy kan die positiwiteit verbeter word?

Klassieke musiek in Suid-Afrika het nog nie die status wat dit het in Europa nie. Daar is genoeg begaafde musikante in Suid-Afrika – ʼn tekort aan goeie musiek is dus nie die probleem nie. Daar kan egter meer blootstelling wees. Leonard Bernstein het ʼn hele generasie Amerikaners lief gemaak vir klassieke musiek deur sy Young People’s Concerts wat Sondagmiddae op die televisie uitgesaai is; miskien sal dit in Suid-Afrika ook kan werk. Die meerderheid mense in Suid-Afrika dink klassieke musiek is vir ʼn selektiewe handjievol kenners, en dit is nonsens. Al sedert Beethoven is dit vir almal geskryf; mense moet dit net weer besef.

Waar is die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in vergelyking met die res van die wêreld?

Suid-Afrika sit met besonderse, talentvolle en begaafde musikante, as jy net kyk na van die Suid-Afrikaners oorsee: Petronel Malan, wat benoem is vir ʼn Grammy; Pretty Yende, wat so pas die Belvedere-sangkompetisie in Londen gewen het; en Piet Koornhof, wat die leier van die Londense Simfonieorkes is (en ook die vioolsolo vir die klankbaan van The Lord of the Rings gespeel het).

Suid-Afrikaners staan hul man (en vrou) met die beste in die internasionale musiekbedryf. Met betrekking tot opnames is Suid-Afrika wel agter die res van die wêreld, alhoewel dit lyk asof dit ook besig is om bene te ontwikkel – die Kaapse Filharmoniese Orkes het al klaar twee Schnitke-simfonieë opgeneem en internasionaal vrygestel.

Sou jy jong aspirantmusikante aanmoedig om ʼn loopbaan in musiek te volg as dit hulle passie is?

Ja, vir seker. Ek glo dat daar sommige mense daar buite is vir wie dit nie altyd ʼn keuse is om musiek te doen nie – dit is in hulle bloed, en hulle het ʼn figuurlike stem wat gehoor moet word. Om dit stom te hou of te ignoreer, sal soos emosionele verlamming wees. Ons lewe ook in ʼn tyd wat daar so baie verskillende beroepskeuses is, en so min werk in die meeste. By musiek, egter, as jy hard werk en geïnspireerd is, sal jy altyd ʼn nis vind. Weet wel dat jy musiek doen omdat dit ʼn passie is, en nie vir die Porsche en landgoed nie.

Is daar plek vir hierdie musikante?

Daar sal altyd plek wees vir musikante; hulle, tesame met die kunstenaars en skrywers, is die lopende kommentaar van die era; hulle is die groep wat die res van die bevolking weer gerusstel, en vir ʼn paar oomblikke laat vergeet van die alledaagse stres.

Watter advies kan jy vir hierdie jong musikante gee?

Werk hard, glo in jouself en geniet elke oomblik van wat jy doen. Asook: onthou dat dit altyd oor die detail gaan, net soos in die lewe.

 Hoe bou ʼn dirigent sy pad na bo?

Dit is ʼn kombinasie van harde werk, uithouvermoë (daar is baie terugslae wat jy net moet hanteer en voortbeweeg), wye belangstelling (algemene kennis is van uiterste belang in dirigeer, want dit gaan nie uitsluitlik oor die musiek nie, maar ook oor kennis van die politieke en sosiale klimaat van die komponis se tyd), musikale en kunsgeskiedenis. En in baie gevalle, om op die regte tyd op die regte plek te wees.

Wat maak jou werk so spesiaal dat jy elke oggend met ʼn glimlag opstaan en jou dag aanpak?

ʼn Nuwe ontdekkingsreis. Dit voel soms asof jy ʼn musikale Indiana Jones is, veral in minder bekende musiek: jy studeer, ontdek en bring dit dan na ander mense toe, wat jou nie glo oor hoe wonderlik dit regtig is nie.

Jy dirigeer vanjaar die gekombineerde skoolkore van Rondebosch Boys’ High, Rustenburg Girls’ High School en SACS. Wat was jou eerste indruk van hierdie gekombineerde skoolkoor?

Eerstens is ek baie bly oor die inisiatief daarvan, hoe wonderlik om jong mense van verskillende skole saam te sien musiek maak. Dit is ook natuurlik ʼn groot voorreg om met die groep te werk – hulle sing en speel met hul harte op hul mou, en dit is juis dit wat Vivaldi se jeugdige werk so gewild maak.

Dit vat baie harde werk van almal se kant af: die leerders wat na ʼn lang en uitputtende skooldag in die aande vir ure moet kom oefen, en die onderwysers wat so baie van hulle tyd daaraan spandeer. Ek hoop almal besef presies hoe hard die onderwysers van die verskillende skole gewerk het aan die produksie. Aan die einde van die dag kom almal se harde werk te voorskyn, en almal kan musiek maak en dit geniet; dit is immers altyd ʼn onthoubare ondervinding om so ʼn werk op te voer.

 Die drie skole bied ʼn verskeidenheid musiekitems, maar die hoogtepunt is seer sekerlik Antonio Vivaldi se Gloria. Vertel ons meer van dié meesterswerk.

Baie min is bekend oor Vivaldi se kinderjare, behalwe dat hy in 1676 in Venesië gebore is en op vyftienjarige ouderdom begin voorberei het vir die bediening, waar hy in 1703 ingesalf is.

Dieselfde jaar het sy lang verbintenis begin met ʼn kinderhuis vir meisies, waar hy eers vioolonderwyser en later hoof van musiek was. Alhoewel hy nog steeds ʼn man van die kerk was, het hy die meeste van sy tyd aan komposisies en optredes oral in Europa gespandeer.

Na 1730 het sy populariteit in die Rooms-Katolieke Kerk afgeneem en is hy deur die kerk onterf. Die Gloria in D wat ons opvoer, is die laaste van twee Gloria’s wat Vivaldi gekomponeer het, en dis veel later in sy lewe gekomponeer toe sy bemeestering van stemme en orkes al op sy piek was. Die werk self bestaan uit twaalf dele, waarvan die eerste (die bekendste) ʼn besetting is op die woorde wat die engele gesing het toe die geboorte van Christus aan die herders bekend gemaak is in die Nuwe Testamentiese Lukas (2:14). Dit is ʼn jeugdige werk, en enigeen wat daarna luister sal met ʼn goeie gemoed huis toe gaan.