Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier #3


Coenie Kukkuk - 2009-08-06

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons poog om in dié kort spasie soveel as moontlik te berig oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

 

1. Die groot nuus is natuurlik die Pienk Jakaranda Musiek Gedoente wat plaasvind op 15 Augustus in Pretoria vanaf 10 vm tot 5 nm by die Konferensiesentrum en Amfiteater by die Voortrekkermonument. Een van die hoofborge is OUT Well-being en Prism Lifestyle Centre in Hatfield, Pretoria, wat na die fisieke en geestelike welsyn van LGBTI-mense omsien. Duisende word verwag en die dag beloof om groot te wees – die kunstenaars wat optree, is Elzabé Zietsman, Eden, Karen Zoid, die komediant Marc Lottering, Melanie Lowe van die eerste Idols-program, en vele meer opkomende kunstenaars soos, LeRoi van Supersterre, en ander. Die seremoniemeester is Martin Bester van Jakaranda FM, wat die deelnemende radiostasie is. Dis ʼn dag vir die hele gesin: álmal is welkom; kinders onder 8 gaan verniet in en daar is springkastele en meer om hulle besig te hou.
Die dag sluit af met ʼn voorstelling aan die skare van die deelnemers aan die Mr & Miss Legends-kompetisie. Daar is ʼn snuffelmark met reeds meer as 100 bespreekte stalletjies, en baie meer. Die kos en drank word voorsien deur die Konferensiesentrum. Die deelnemende gastehuis is 367 Albert Street Guest House, waar van die kunstenaars tuisgaan, en hulle bied spesiale tariewe vir daardie naweek aan. Vind hulle hier

 Die kaartjies vir die Pienk Jakaranda kos slegs R50 en kan by Computicket gekoop word. Die opruiming word gedoen deur Moon Print Herwinning – so die fees is nie net pienk nie, maar ook groen!

Deel van die opbrengs gaan aan OUT Well-being se Play Safe-program en UP & OUT van Tuks.

   Die Oos-Kaap wenner, Chris Macgregor

2. Die Mnr Gay Suid-Afrika ™-kompetisie se streeksuitdunne vir die Wes- en Noord-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal is aangekondig:

15 Augustus – Streek 2 (Noord- en Wes-Kaap) – 7 nm te The Glen Boetiek Hotel in Kaapstad

22 Augustus – Streek 3 (Vrystaat) – 9 nm te Buzerant in Bloemfontein

12 September – Streek 4 (KwaZulu-Natal) – 7 nm te Durban View Gastehuis, Durban.

Die laaste een, Streek 5 (Noordelike provinsies – GP, MP, NW, LP), sal binnekort aangekondig word. Streek 1, die Oos-Kaap, het reeds plaasgevind en die finaliste is op die webtuiste.

Die besonderhede kan op Facebook se “Gay Directory” verkry word.

Die webtuiste mrgaysouthafrica.co.za is ook opgegradeer, met nog meer foto’s, nog meer borge en selfs nog meer pryse – wat reeds oor die R400 000 beloop. ʼn Belangrike verwikkeling is dat Mnr Gay Suid-Afrika ™ amptelike akkreditasie by die Mr Gay World-kompetisie verkry het en die wenner aan dié kompetisie sal aan die einde van Februarie 2010 in Oslo, Noorweë, deelneem. Sy kaartjie is ook geborg deur Club Travel Honeydew, soos ook die eerste prys van sewe dae vakansie vir twee in New York.

Die 16 finaliste, borge en organiseerders gaan almal op die Gay Cruise van 23 tot 27 November na Mosambiek voor die Grand Finale op 28 November wat in Gauteng gehou sal word. Meer daaroor in volgende aflewerings.

3. Amanda Strydom en Kosie House of Theatre is besig om al haar stukke op DVD vas te lê vir die nageslag, en die eerste een, State of the Heart is so pas vrygestel. Dit kan hier bestel word en is ʼn móét vir elke aanhanger en kabaretgeesdriftige. Die stukke word lankal nie meer opgevoer nie en dis al hoe jy dit weer te siene gaan kry.

 4. Soweto het nou sy eie gaykuierplek in Dobsonville Point. Dit heet Just After Nine en die naam speel op die gebruik van township-gays om na hulself as die After Nines te verwys – in die dag moet hulle “straight” wees, maar na nege in die aand, wanneer hulle saamtrek by huise en sekere sjebeens, kan hulle hulself wees. Sondae is Tshisa Nyama – bring jou eie vleis en die klub braai dit vir jou. Ingang is mahala. Lees meer daaroor hier.

5. Melanie Lowe is besig met haar Living The Truth-toer en het afgeskop met optredes in Durban. Die volgende datums is natuurlik 15 Augustus by die Pienk Jakaranda, en dan 26 Augustus by Legends in Pretoria. Die vertoning begin om 8.30 nm en die koste is slegs R50 by die deur. Lees meer daaroor hier

6. Van Legends gepraat, daar het ʼn storm in die kleine losgebars op Facebook nadat die bekende Miss B onder ʼn wolk daar weg is. Ons wil nie op tone trap nie en laat dit maar aan Mambaonline oor om te rapporteer – lees hier . Die foto is van die wenners van die vierde uitdunne van Mr & Miss Legends.

7. Die Out in Africa Filmfees vind hierdie jaar plaas in Johannesburg van 3 tot 13 September by Nu Metro Montecasino en in Kaapstad vanaf 10 tot 20 September by Nu Metro V&A Waterfront. Een van die films wat te siene is, Fig Tree, is ʼn kontemporêre opera gebaseer op die lewens van ons eie Zackie Achmat en Tim McCaskell, ʼn Kanadees. Die regisseur, John Greyson, is die wêreld se voorste gayfilmmaker en is ook die gas van die filmfees. Lees meer hier .

Foto: New York Daily News.

8. Die slagoffers van die aanval op gay jeugdiges by ʼn sentrum wat bystand verleen in Tel Aviv, Israel, is Sondag ter ruste gelê. Twee is gedood en tien beseer. Gays beleef erge teenstand, en Israel en Tel Aviv is altyd as ʼn veilige hawe beskou. Hierdie beeld van die stad is groot skade aangedoen, om nie te praat van die leed van die families en vriende nie. Lees gerus ook Egon se roerende brief  op LitNet.

9. Jan Harmsgat se Agterplaas in Cullinan bied weer uiteenlopende konserte in die komende paar maande, elke keer om 1 nm. Op Vrouedag is dit Gerrie Pretorius, en op die vakansiedag daarna, 10 Augustus, is dit Jak de Priester. Dozi is op 24 September daar, en Karen Zoid op 4 Oktober. Jy het ook die opsie om ʼn heerlike piekniekmandjie saam met die show te bespreek. Die kontakbesonderhede is op die webwerf. Die foto is op ʼn onlangse besoek deur die uwe geneem.

10. Casta Diva is ʼn boetiekhotel geleë in die ou plaashuis van Akasia – die oorspronklike eienaar het sy dogters se name gegee aan die omliggende uitbreidings van Ninapark en Theresapark. Die eienaars is ʼn Nederlandse paar, Charles en Felix. Dit word omring deur pragtige groot tuine – en die beste nuus is dat daar ook ʼn teater op die perseel is, die Vissi D’Arte, met ʼn uitstekende restaurant langsaan waar middagete voor ʼn konsert, of aandete na die tyd, geniet kan word. Die Black Tie Ensemble tree Sondag 23 September om 3 nm daar op en die kaartjies vir die konsert alleen is slegs R80. Hulle het ook ʼn spesiale aanbieding as jy die vorige nag daar wil oorbly en die ete en konsert die Sondag wil bywoon. Skakel Gertjan op 012 542 4449 of 076 470 3173 en gaan kyk na hul webtuiste – daar is ook ʼn kaart.

Die Pienk Dossier verskyn elke twee weke. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging.