Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Kitsch en die moderne penarie


Fanus Rautenbach - 2009-08-05

Elke jaar, die afgelope sewe jaar al, kom die land se beste en bekendste kunstenaars in Bellville se Burgersaal byeen en hou dan ’n liefdadigheidskonsert onder die titel Want ons kan!. In die sewe jaar het hulle al meer as een miljoen rand aan die sink-kaia-kinders (wit en bruin en swart) geskenk.

Shaleen Surtie-Richards was, soos sy gespog het, die “seremoniemiesies!” Sy reken: "Ek is te swart om ’n miesies te wies en te wit om ’n madam te wies!” En na ’n oomblik: "En vir die regering kan mens net bid!”

In die program roep sy my na die verhoog toe en Pedro Kruger oorhandig aan my ’n skildery van Waenhuiskrans deur Marius Pieterse.

Toe Nico Nel aan die woord kom, reken hy: "Fanus, ek dink jy moet daai skildery verkoop en liewer die geld vat.”

Nou is daar deftige mense wat dit kitsch noem, maar vra jy hulle wat kitsch nou eintlik is, weet hulle geen snars daarvan af nie. (Eendag loer ons bietjie na "snars"! Miskien kan ’n leser van Umfaanus ons ’n snarsie meer daarvan vertel?!)

Nou: Wat is kitsch?

In ’n vermaarde 1939-artikel, “Avant-Garde and Kitsch”, beweer die New Yorkse kunskritikus Clement Greenberg dat beeldende kuns se dae getel is. “Die alternatief van abstraksie is nie Michelangelo nie, maar kitsch.”

Wat is kitsch?

Sommige mense reken kitsch kom van kitchen. Ander sê nee, dis die omgekeerde van chic, ’n palindroom dus. Kitsch, sê HAT, beteken "namaakkuns". En dit het in die VSA sy ontstaan gehad toe kopers nie meer die egte stukke kuns kon bekostig nie. Toe is dit nagemaak: popmusiek, die skilderkuns, beeldende kunste ensovoorts.

Hier by ons is die mooiste voorbeelde die afdrukke van Tretchikoff se skilderye, soos Die orgidee en Die danseres. Hoewel hy baie geskilder het, en daar honderde afdrukke as namaakkuns, of dan kitsch, teen redelike pryse verkoop is, is ’n oorspronklike Tretchikoff vandag ’n fortuin werd. Pierneef het ook baie geskilder, maar in teenstelling met Tretchikoff is sy afdrukke nooit as "namaakkuns" of "kitsch" afgemaak nie.

In baie Suid-Afrikaanse huise is daar ’n onverklaarbare namaakkuns-verskynsel in die vorm van drie porseleineende wat teen ’n sitkamermuur uitvlieg. Daarlangs was die ewe berugte foto van die kameelspore in die woestynsand.

En moenie daardie ander kitsch-ikoon vergeet nie: die afdruk van “De Brede en de Smalle Weg”, en in die slaapkamer, in blink sigaretpapier getooi: "Wat is een huis zonder een moeder?” (Die stouterds het gereeld onderaan geskryf: "Een vakansieoord!”)

Dan was daar ook nog die halwe silwergeverde buiteband wat op die stoep met ’n hen-met-kuikens, die beroemde potplant, gespog het.

Ook in die sitkamer, net bokant die Familiebybel, is die twee vergulde biddende hande uitgestal. En in Ouboet se kamer was ’n verkoperde weergawe van sy eerste skoentjies – boeties genoem!

Ons gebruik nog ’n kitsch-artikel – die doilie! In 1711 is die doilie gebruik as ’n nagereg-tafellappie; ook as die onderpunt van ’n swierige, sexy onderrokkie. Ons ken hierdie stukkie kitsch, hierdie doilie, as ’n gehekelde ronde lappie met skulpies in, wat later deur kraletjies vervang is. Die skulpies of kraletjies het gewig aan die doilie verleen sodat dit stewig oor die melkbeker of die limonadefles gepas het en gekeer het dat die vlieë leer melk of limonade drink het.

Voor ek vergeet. Ek het ook na kitsch-musiek verwys. ’n Voorbeeld daarvan is namaakmusiek. So het die Boere "God save the Queen" verkitsch:

Ou Broer, kan jy vir my
’n sak mis laat kry?
Ek sal dit ry,
Ek sal daarvoor betaal
As ek die mis kom haal.
Maar dit moet kraalmis wees,
Goeie mis en droog …

Dis nou pure stroooooooi!  

Nee, ek glo daar geen snars van nie. Marius Pieterse se skildery wat ek gekry het, is net mooi, nie kitsch nie.