Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

'n Ode aan VanFokKingTasties: Foto's


Annie Klopper - 2009-07-31

Vyf jaar gelede het ek op die vuil trappe van ’n raserige Mercury Live in Kaapstad vyf ouens ontmoet met groot oë, groot bekke en groot drome. Ek was ’n jong, skeptiese joernalis met ’n swartraambril, ’n pen, ’n stukkie papier, min ondervinding en baie vrae. Voor die vuiltrap-onderhoud het ek ’n Black Label met een teug afgesluk en die jong bulletjies by die horings gepak. Ek het voor daardie eerste gesprek met my (later) gunstelinggroep gedink die naam Fokofpolisiekar is stupid en Francois van Coke (toe nog Badenhorst) is ’n lummel.

Vandag dink ek ’n dosis Fokof was net wat die Afrikaanse musiekbedryf nodig gehad het en ek is baie lief vir Francois én die ander vier lummels. (En die stukkie papier in my hand het, terloops, later gegroei tot ’n tesis oor dié groep se lirieke.)

Fokofpolsiekar is meer as net ’n band. Dis ’n monster wat vuur spoeg en tentakels groei. Drie tentakels om presies te wees: Van Coke Kartel, aKING en Die Heuwels Fantasties is susters van die moederkar wat nou saamstaan onder die knap geamalgameerde naam VanFokKingTasties. Die drie sustersgroepe bevat almal lede van Fokofpolisiekar. Dit is daarom dat nege ouens ’n show van vier bands op die planke kan bring.

Die eerste van hierdie shows is op 29 Julie gehou voor ’n volgepakte stadsaal op Stellenbosch. Ek vind myself weer oorweldig deur die effek wat hierdie bands op aanhangers het. Dis Beatlemania Afrikaanse styl. Asof die bra’s wat op Laudo Liebenberg van aKING gegooi word nie genoeg is nie, tref ’n skoen oudergewoonte vir Francois. En toe hy grappenderwys vra vir nog, reën dit sneakers op dié goue kalf ... ag, ek bedoel seun.

Ek moet eerlik wees: ten spyte van my ontsag en liefde vir al vier hierdie bands, het ek tot my spyt eers teen die helfte van die optrede opgedaag – daarom slegs die foto’s van aKING en Fokofpolisiekar. Maar hei, dis basically dieselfde mense oor en oor, so dit maak nie die wêreld se verskil nie. Sorrie Pierre (Die Heuwels) en Justin (VCK).

Ten spyte van die musikale inteling is daar van ’n generiese klank nie sprake nie. Eerder is VanFokKingTasties ’n show wat getuig van musikale virtuositeit, talent en ontsaglik harde werk. En dit bring boonop al vier my gunsteling Suid-Afrikaanse groepe op een verhoog.

Die naam sê reeds alles. Maar kyk gerus ook die foto’s.

Foto's: Annie Klopper