Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Goeie tye en volksvreemde, kultuureie ervarings


Albert Maritz - 2009-07-30

The great pleasure in life is doing what people say you cannot do – Walter Bagehot.

Ek sit in die mees volksvreemde, kultuureie ervaring. Ek dink eers van die spelers is te onervare; die visuele te staties, en die beligting afgeskeep. In die TV- reeks Torings was ’n karakter wat in die reeks prominent was, kwansuis in die Helderberg- vliegongeluk. Die ervaring was destyds vir kykers ongeloofwaardig. En hier, in Noah, is volgehoue verwysings na hedendaagse insidente wat weens die stuk se futuristiese aard, dan in die verlede is. (Wie onthou die Jan Scholtz- reeks, toe hy ’n aardbewing in Japan beskryf het enkele weke voordat dit regtig gebeur het?)

Maar goed – terug in die Baxter ... Ek sit en dink: hier is hierdie klein gehoor! Is dit dalk ’n ongeleë aand? Donderdagaand. Die Burger se resensent het hierdie stuk baie, baie hoog aangeskryf. Maar as mense sou sê dis nie so verteerbaar nie … " word of mouth" is so magtig.

Maar hier neem my verdunde ervaring die wyk, en ek betrap myself sit met my mond wat effe oophang. Want die werk sleur my mee. ’n Stel wat baie lekker is om na te kyk, en geniaal gemaneuvreer word; steeds die direkte verwysings na ’n Kaap uit vervloë se dae, maar dit val toenemend goed op die oor, en nou is niks te staties nie. Nou is die beligting meer ondernemend en dramaties mooi, die sang dramaties vervleg – vars soos die grondverskuiwende musiekblyspel Hair , en sonder die begeleiding van ’n orkes, of ’n CD. Bar – net stemme maak die sang uit. En nooit klink dit braak nie. Wat karakters betref, hier is ’n ensemble wat mekaar sterk maak, toe die gehoor na enkele minute die styl gewoond is. Niemand is uit te sonder nie, maar dis net lekker om Gys de Villiers te sien in ’n karakterrol wat hom soos ’n handskoen pas, en ’n sangrol waarin hy gemaklik ’n besonder hoë standaard lewer. Hy herinner nogal aan Topol, die akteur wat die hoofrol in die fliek Fiddler on the Roof gespeel het. Ook interessant is dat Graham Weir (een van my gunsteling- sanger/akteurs) die mantel as sanger van sy steeds bekender wordende musiek nie hier self dra nie. Hy verskyn glad nie op die verhoog nie, maar is uitmuntend verteenwoordig deur die uiters goedbedrewe nuwe sterre.

Afrikaanse gehore sal Christine Weir, Nicole Holm, Anton Luitingh, miskien Lindy Abromowitz, en nog ’n paar ander herken. Die samestelling was ook vars – anders as die gebruiklike name. En die musiekregisseur, legendaries vir haar talent en meer, Amanda Tiffin, doen hier wat sy met Not the Midnight Mass doen.

Die stel pas die stuk soos nog ’n handskoen (skuif hulle hom dalk net een of twee keer te veel?). Is die beligte toneel met sommige van die spelers agter die gaas nie een van die mooiste goed wat mens ooit op ’n verhoog sal sien nie?!

En die leë saal nou … ? Dis dalk maar net Donderdagaande? Of dis dalk maar die straf van die plaaslike produk. Of dis dalk maar die kruis van die ernstiger materiaal ...? Maar ’n huis waar mens ryk en tuis voel. Jy voel jy kan nog lank net so sit, maar die staande ovasie is welverdiend. Mag dit wyer toer as Cats. Mag dit ons 2010-sokker-uitvoerproduk word wat oorsese besoekers plaaslik verras.

*

Hou die OMTV (Onafhanklike Matriektoneelvereniging) dop. Dis gestig deur drie matrieks om te kan inskryf vir die besige tienertoneeljaar, en die uitdaging te hê dat hul vir als verantwoordelik is.

Hul swierige openingsaand was by die Melkbosstrand Van Riebeeckstrand Laerskool – op sigself seker een van die knapste instellings in die land. (Dis mos asof daar nie ’n laerskool is waar nie puik opleiding is nie – so knap is onnies).

En wat ’n verrassing! ’n Hoogs ingewikkelde stuk, Die Diensmeisies, word hier aangebied op ’n manier wat my laat voel iewers is daar vir my nog ’n plekkie in die son, want ek kan ook verstaan ...

Saam met ’n goudmyn van teksanalise, het die groepie twee uitstekende spelers, en ’n puik vertaling, klankbaan, stel en beligtingsontwerp.

Skole sal vanjaar landwyd moet ligloop.

*

’n E-tv aanbieder maak onlangs die kritiek op Suid-Afrika se pas afgelope sokkerkompetisie af as rassisties. Hy sê Suid-Afrikaanse sokker is altyd bestuur deur swartes, en krieket deur … hy maak sy sin nie klaar nie . Om die waarheid te sê, hy maak die stelling nie klaar nie , maar eindig met ’n vraag: " Are we gonna unite under SA soccer?" So hy laat hang ’n stelling in die lug, wat impliseer dat rassiste fokus op die foute in die pas afgelope sokker.

Gevaarlik, so ’n onverdedigde gifpil.

*

Ek was pas vir vier weke in die noorde. Ons open in Nelspruit met Taraboemdery, ter huldiging van Chris Barnard se 70ste. Dit terwyl my neus so swaarkry onder my verwaarloosde dieet en die koue lug in die noorde-winter. Maar die mense om my, die bestuur, die venue-bestuurder, die drywers, die venue, die gym, die restaurante, die dorp se mense, het dit weer die moeite werd gemaak.

Daar sal altyd ’n uitsondering wees. Gelukkig hóór ons gewoonlik net van dié soort uitsondering, of sien dit net op 'n afstand. Vanjaar se Man-op-vlug is ’n kleinlike politieke operateurtjie – een van so drie landwyd wat saamkloek – soms teen mekaar. Mens se lelikste dade word mos deur vrees gedryf.

Ek was self al net so vals – soms tree mens op uit selfverdediging ... Maar nou ouer en wyser, het ek geleer sekere soort gedrag maak seer . En ek het al groot slae gekry. Vermy waarvan Breytenbach skryf as ’n “gevis in slopemmer”.

*

Ivan Zimmermann het destyds vir my in Faan se Trein gespeel, en nogal ’n paar steelfoto's geneem wat ons goed gebruik het. En na ’n stywe begin in 7de Laan, en nog ompaaie op TV, was hy damn goed in Egoli. Hy was nou die aand met sy CD launch ook baie gevat met sy aanbieding. Sy musiek … snaaks dat daar soms ’n klankie van ’n ander ou met daai naam insluip: Robert Allen Zimmerman. Ivan se Zimmermann is met twee n'e, en hoewel hy ’n lang pad het om te gaan voor hy iets sal ruik van Bob Dylan (Zimmerman) se roem en miljoene, is sy album ’n goeie begin. Mooi woorde, eenvoud, en iets edels ... als uit sy eie pen uit. Dis die luister werd. En ’n mooier CD-omslag sien mens nie sommer nie. Ook ’n konsep van sy eie. Mens kom met Ivan in aanraking deur sy agent Sophia op 0823014921, en hou maar ’n ogie op die webwerf-in-wording.

*

Destyds was die " brand manager" van die brandewynadvertensie “met eish” Hennie Kriel. Sy seun Henri was daai tyd al by Deon Opperman se AFDA. In die stuk wat Deon by Aardklop op die planke gebring het, was almal BAIE goed. Henri uitsonderlik.

Nou het Henry ’n CD opgeneem en dit by ’n pragtige geleentheid, met ’n uiteenlopende klank, by die Klein Libertas- teater bekend gestel. Die band het begin met rock, en die hordes jonges het saamgerock. Ineens het die musiek stiller geraak en het Henri solo ’n paar ernstiger liedjies gesing. En toe sing hy die pragtige liedjie wat ook op sy webwerf speel as mens daar aankom. Gaan kyk self ... http://www.henrikriel.com.

To the person with a toothache, even if the world is tottering, there is nothing more important than a visit to a dentist. – George Bernard Shaw