Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Rituele van die Tibettaanse soutrapers treffend gedokumenteer in The Yogis of Tibet; The Saltmen of Tibet


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-07-30

Vertoontyd: Tot 2 Augustus in die Labia-teater, Kaapstad

As deel van die Exploring Consciousness Filmfest, wat gereeld by die Labia aangebied word, wys daar tans agt films oor Tibet, saamgegroepeer onder die titel Dreaming the Himalayas.

The Yogis of Tibet (2002) is ’n boeiende dokumentêr wat ’n voëlvlug bied oor die geskiedenis van dié ontoeganklike bergland wat eers vroeg in die twintigste eeu deur Westerlinge gesien is. Tibet se sake is al sedert ’n hele paar eeue vroeër verweef met dié van sy buurland China, maar Tibet had meestal selfbestuur, sowel as kulturele en godsdienstige onafhanklikheid.

Die grondlegging van kommunistiese China het daartoe gelei dat Tibet in 1949 gewelddadig deur China onderwerp is, met die vestiging van Chinese regeringstrukture oral in die land. Tibettaanse Boeddhisme is genadeloos uitgeroei en onderdruk en derduisende kloosters (volgens my internetbron ’n benaderde 2 700) is verwoes. Sedert die Dalai Lama, die geestelike leier van Tibet, die land in 1959 verlaat het, woon hy in Indië, vanwaar hy ’n geweldlose versetveldtog teen die Chinese besetting lei. Daarvoor het hy in 1989 die Nobel-Vredesprys ontvang.

Volgens die Dalai Lama het die feit dat hy Tibet moes verlaat, juis daartoe gelei dat sy land en die beginsels van sy geloof onder die wêreld se aandag gekom het. Daar is inderdaad veel opgesluit in Tibettaanse Boeddhisme waaruit ander tradisies, en dan veral die Westerse samelewing, kan leer – ’n boodskap oor balans, vredeliewendheid en goedertierenheid (lovingkindness) wat die mensdom broodnodig het.

Die opspraakwekkendste aspek van hierdie dokumentêr is egter die kykie wat dit gee in die geheime praktyke van die mees geëerde beoefenaars van Tibettaanse Boeddhisme: die jogi’s. Die definisie lui dat ’n jogi vir drie jaar, drie maande, drie weke en drie dae in eensame afsondering meditasie en joga moet beoefen om die hoogste vlak in hierdie geloof te bereik – praktyke wat volgens die wetenskaplik (en hedonisties!) ingestelde Westerse benadering omtrent ondenkbaar is.

The Saltmen of Tibet (2002) is ’n kykervaring van ’n heel ander aard. Die Duitse span wat hierdie pragtige dokumentêr verfilm het oor ’n afgeleë nomadiese groep wat nog die feitlik uitgestorwe gebruik van soutraap beoefen, verdien lof vir die sensitiewe en onopsigtelike manier waarop dit gedoen is. Uit die gemeenskappie word vier mans gekies vir die jaarlikse soutraping, en hulle reis ’n maand lank met ’n trop van 160 jakke om die soutveld te bereik. Die soutrapers werk in ’n span saam, met ’n streng hiërargie. Elkeen het sy spesifieke rol om te vervul, en hulle gebruik selfs ’n geheime souttaal wat geen buitestander ken nie.

Die hele ekspedisie gaan gepaard met rituele, waarvan die kern is dat hulle voortdurend respek betoon aan mens, dier en natuur. Vir iemand uit die moderne tegnologiese wêreld lyk dit haas onmoontlik dat mense vandag nog so kan lewe, maar dis opvallend hoe ’n perfekte weerspieëling die soutrapers se doen en late is van die beginsels van hulle geloof. Hier word nie geteoretiseer of tyd bestee aan akademiese verskilletjies nie – dis net die praktiese uitlewing van ’n eeue oue tradisie. My enigste kritiek is dat die film ’n bietjie te lank is; van die herhalende dele kon gerus gesny gewees het sonder werklike verlies van inhoud.

Ander films by hierdie filmfees wat interessant lyk, is Blessings: The Tsoknyi Nangchen Nuns of Tibet (2009) en Seven Years in Tibet (1957/2006) – die oorspronklike dokumentêr oor die Oostenrykse avonturier Heinrich Harrer se ontmoeting met die jong Dalai Lama.

Suzette Kotzé-Myburgh

Vryskut-skrywer, vertaler en uitgewer

suzette35@gmail.com