Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

10 Redes om die Stellenbosch Wynfees te besoek


Annareth Bolton - 2009-07-30

Annareth Bolton, hoof uitvoerende beampte van die Stellenbosch Wynroete, het aan LitNet 10 goeie redes verskaf hoekom jy vanjaar se Stellenbosch Wynfees moet besoek.

Datum: Donderdag 30 Julie tot Sondag 2 Augustus
Plek: Paul Roos Sentrum, Stellenbosch

  1. Die Stellenbosch Wynfees bied wyn- en kosliefhebbers nie minder nie as 500 verskillende wyne en gourmet-happies van 170 plaaslike uitstallers – alles onder een dak.

  2. Wil jy meer leer oor jou gunsteling Stellenbosch wyn of wynmaker, maar sien nie kans vir die gestamp en stoot van hordes wyngeesdriftiges nie? Die eksklusiewe Wynkenner-aand wat op die Donderdag, 30 Julie, plaasvind, is die ideale geleentheid vir wynliefhebbers om sonder ’n gedruis van mense deur die fees te wandel, die wynmakers persoonlik te ontmoet en Stellenbosch se beste kelderskatte te proe.

  3. Een van die vele nuwe attraksies by vanjaar se fees is die Fynproewerslaan, waar Stellenbosch se top-restaurante, soos 96 Winery Road, Overture, Terroir en die Volkskombuis hulle glansdisse sal opdis. Elke restaurant het ook ’n wynlandgoed ingespan om ’n heerlike kombinasie van kos en wyn wat mekaar komplementeer, aan feesgangers te bied.

  4. Buiten vaatjies vol wyn-vermaak kan kosliefhebbers ook gaan aansit by die Clover Demonstrasiekombuis, waar die Eikestad se kookwater-sjefs hul die fynere kunsies van kosmaak sal leer. Hier sal glanskok Craig Cormack en vriende die smaak prikkel met watertand temas soos Kaas is Baas, Get your Game on en Supernatuurlike Sampioene. Alle fondse wat ingesamel word deur die verkope van lootjies tydens die demonstrasies, sal geskenk word aan die Clover Mama Afrika-projek.

  5. Die Kaapse Wyn Akademie Proeteater bied ’n opwindende program van private wynproeë wat feesgangers omtrent sal laat gons. Met  ’n verskeidenheid oulike temas wat strek van Supersexy Shiraz en Bootylicious Bubblies tot Wintertreffers, is die fokus vanjaar op top-wyne, -port en -brandewyn vanuit die Stellenbosch-wynlande. Vir feesgangers wat dalk ’n bietjie meer oor die onderwerp wil leer, is daar ’n Suid-Afrikaanse Wynkursus op Vrydag 31 Julie, aangebied deur die Kaapse Wyn Akademie. Die kursus dek die geskiedenis van wynmaak in Suid-Afrika asook interessante kennis oor wingerdkunde en wynmaak. Elke voorlegging sluit ’n privaat wynproe in.

  6. Local bly lekker! Stellenbosch se eie plaaslike musiektalent sal vanjaar sorg dat feesgangers met ’n lied in hul hart die fees sal geniet. Name soos Sima, Zamar en Gerald Clark sal die kollig deel.

  7. Die Stellenbosch Wynfees sorg vir ’n bielie van ’n makietie vir ieder en elk, selfs ook vir die geharde rugbygeesdriftiges – met die rugby wat Saterdag 1 Augustus op ’n groot skerm om 17:00 uitgesaai sal word.

  8. Sondag 2 Augustus is ’n spesiale Familiedag by die Wynfees, met springkastele, gesigverf en vaatjies vol vermaak wat op die kleinspan wag. Kinders kan ook gerus aanklop by die Clover Demonstrasiekombuis, waar die jongspan in ’n japtrap gaan leer hoe om lekker kollewyntjies te maak terwyl Pa en Ma die fees op ’n rustiger noot kan geniet. ’n Kindersorgdiens deur die Pebbles Projek sal Saterdag en Sondag beskikbaar wees waar kleuters tussen die ouderdomme van 2 en 7 jaar vermaak sal word met plesierige aktiwiteite onder ’n wakende oog.

  9. Let’s talk rubbish, ’n herwinningsorganisasie, sal vanjaar die Stellenbosch Wynfees bystaan om te verseker dat die Eikestad skoon agtergelaat word. Vergaanbare borde en eetgerei word gebruik, en verskillende dromme sal uitgesit word om te verseker dat alle herwinbare produkte wel herwin sal word. Verskeie liefdadigheidsorganisasies, soos die Anna Foundation en Charity Wines, sal ook by die fees uitstal.

  10. Die Stellenbosch Wynfees is ook vanjaar meer bereikbaar, danksy ’n spesiale, heen-en-weer-busstelsel, met daaglikse roetes van en na die Paarl, Somerset-Wes, Franschhoek, die V&A Waterfront, Canal Walk en Tygervallei. Nie net hoef jy jou dus nie te bekommer oor die rit huiswaarts nie, maar parkering en verkeersopeenhopings is ook iets van die verlede.

Vir meer inligting oor die Stellenbosch Wynfees skakel 021 886 4310 of besoek www.wineroute.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en wissel van R100 per persoon tot R300 vir ’n alle-toegang-kaartjie.