Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Terug na toentertyd (Sixties)


Trisa Hugo - 2009-07-22

Enige persoon jonger as dertig gaan seker dink ek kom van ʼn ander planeet, en inderwaarheid is ek maar net een generasie ouer as die meeste van julle. Indien soveel. En tog het die lewe absoluut dramaties verander die afgelope sê maar veertig jaar.

Die lewe wat ek beskryf, is dié van ʼn plaaskind; onthou, dit het ook dramaties verskil van die lewe in stede.

Ons het kerse en olielampe gebruik. (Die destydse Evkom se reikwydte het eers later jare tot daar gestrek, en boere moes toe ook self betaal vir die aanlê daarvan.) Die gaslampe is net vir spesiale geleenthede aangesteek. Elke kind het sy eie kersblaker gehad, en my liewe ma was baie presies. Dit was my taak om te sorg dat al die kersblakers skoongehou is. Gedrupte kerswas in die blaker was ʼn teken van ʼn slordige huishouding, en dit kon tog nie.

So ook ʼn swartgerookte lampglas. Dit was my ouer suster se taak, elke lampglas moes skitterskoon blink elke aand. Die kersblakers het ek ʼn rukkie op die koolstoof laat staan; dit was ʼn kuns om te wag totdat die stukkies was net sag, maar nog nie gesmelt is nie. Dan moes elke kers ook mooi regop staan. (Onthou, daar is ʼn uitdrukking: kersregop.)

Kinders in elke huishouding het vir elke maaltyd behoorlik tafel gedek. En afgedek. En skottelgoed gewas, afgedroog en weggepak. Ons het ʼn groot tambotietafel in die kombuis gehad waarby ons geëet het, donker en swaar, met geel vlamme. Eenkant was ʼn kleiner tafel waarop gewerk is. Noudat ek terugdink, die tipe wat nou in oudhedewinkels staan.

Dieselfde met die ou kas, wat altyd met Pa se gereedskap op die agterstoep gestaan het, wat klaarblyklik nou in die plaashuis se sitkamer staan - mooi gerestoureer om die geelhout tot sy reg te laat kom. Vir ons was dit net die kombuistafel en Pa se ou kas wat niemand wou hê nie.

Die longdrop - nou ja. Ten spyte van wat almal sê, is daar absoluut niks romanties daaraan nie. Die pad in die aand na die kleinhuisie was lank en donker. Die alternatief was die pot onder die bed, maar dit moes uitgegooi en uitgewas word die volgende oggend.

Die telefoon het in die gang teen die muur gestaan, ʼn groot swart instrument. Ons lui was twee langes.

Warm water het by ons nie uit krane gekom nie, maar is in potte op die koolstoof warm gemaak en aangedra badkamer toe. Ons het gebad om skoon te kom, om ander ook ʼn beurt te gee. Noudat ek daaraan dink, niemand het daardie jare meer as een badkamer in ʼn huis gehad nie; tweede badkamers het eers hier in die 1970's begin kop uitsteek. Waarom ons in die jare voor Evkom-krag nie ʼn donkie gehad het soos party ander mense nie, weet ek nie.

Ons het radio geluister, en bord- en ander speletjies in die aande gespeel. Ons sosiale lewe was beperk tot familiekuiers en konserte. Soms het daar ʼn fliek in die skoolsaal gewys. Uiteet is ʼn konsep wat eers later jare gekom het. Restaurante was beperk tot die kafee op die dorp, waar jy hoogstens ʼn pie, chips en gravy geëet het. Of ʼn jafel, of dalk ʼn dagwood. Maar dit was as jy in die dorp was, en honger.

Daar was die hotel waar die mense soms gaan dans het, maar ons Doppers het nie eers geweet hoe, wat en waar nie. Ons het speletjiesaande by die JV (Jongeliede Vereniging) gehad waar ons leer vry het.

Hierdie is maar net 'n paar flertsies uit die lewe van 'n plaaskind uit die sestigs – daar was veel, veel meer.

Trisa Hugo

<< Terug na Vintage@LitNet <<