Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Nuwe speelgoed uitgenooi na Stellenbosch Wynfees


2009-07-16

Nuwe speelgoed en kinders is vanjaar die eregaste by die Pebbles Projek se kindersorgdiens tydens die Stellenbosch Wynfees, wat plaasvind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus by die Paul Roos Sentrum. Die Pebbles Projek is ‘n liefdadigheidsorganisasie en sal kinders tussen die ouderdom van 2 – 7 met groot pret vermaak, maar vra aan ouers en maats om ‘n nuwe speelding saam te bring  wat geskenk sal word aan minderbevoorregte kinders met spesiale leerbehoeftes.

Kinders by die Stellenbosch Wynfees kan die tyd om baljaar met gesigverf, inkleurprentjies en prettige kleispeel wat deur die Pebbles Projek aangebied sal word. Op Saterdag sal ʼn towernaar sy verskyning maak terwyl Sondag, die fees se Familiedag, groot feesvieringe beloof met ʼn poppekasvertoning en die Clover Demonstrasie Kombuis wat die jongspan sal leer hoe om heerlike kolwyntjies te bak en brou. Dit sal Ma en Pa die geleentheid gee om met gemoedsrus deur die Stellenbosch Wynfees te beweeg en uitmuntende wyne te proe en te waardeer. Alle kinders onder die ouderdom van 18 jaar sal op Sondag gratis toegang verkry.

Die Pebbles Projek benodig daagliks nuwe speelgoed, of speelgoed wat in ‘n uitstekende kondisie is, om spraak, hand- en-oog-koördinasie en kreatiwiteit onder kinders te bevorder. Pebbles beoog om kinders in die Wes-Kaap met spesiale leerbehoeftes te ondersteun, veral dié wie se lewens deur alkohol geaffekteer is.

Die Stellenbosch Wynfees sal ook ʼn donasie aan die Pebbles Projek skenk om hulle by te staan met die opleiding van opvoeders. Dit sluit in toesighouers by kinderbewaarplase, onderwysers wat klas gee aan kinders met spesiale leerbehoeftes, en ouers. Die Pebbles projek het sedert 2004 reeds 31 mense opgelei en die lewens van ten minste 300 kinders aangeraak.

Die Pebbles Projek kindersorgdiens sal beskikbaar wees op Saterdag en Sondag gedurende die fees, grartis aan alle feesgangers.

Kaartjies vir die Stellenbosch Wynfees is beskikbaar by Computicket vanaf R100 per persoon tot R300 vir ‘n goue kaartjie wat die hele fees dek.

Vir meer inligting oor die Stellenbosch Wynfees of spesiale akkommodasie- en toerpakette, skakel 021 886 4310 of besoek www.wineroute.co.za.