Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Unieke landskapkuns ‘raam’ 350 jaar van Suid-Afrikaanse wyn


2009-07-16

Jongste ‘wyn-wonder’ deur Strijdom van der Merwe onthul by Simonsig

Wêreld-bekende landskapkunstenaar, Strijdom van der Merwe, het ‘n plan beraam om erkenning aan Suid-Afrikaanse wyne te gee! ‘n Unieke kunsinstellasie van vyf enorme metaalrame, wat elk ‘n interaktiewe element van wynmaak uitbeeld, het sopas tot stand gekom by Simonsig Landgoed ter viering van die plaaslike wynbedryf se 350ste bestaansjaar.

Strijdom is genader deur hierdie baanbreker familie-landgoed wat hom vrye teuels gegee het om met ‘n kreatiewe uitbeelding van Suid-Afrika se wynmaak tradisie en erfenis, so in sy eiesoortige aardste styl, vorendag te kom.

Die kreatiewe konsep was ‘n gesamentlike poging tussen Strijdom en Neil Stemmet van Koncept Design & Architecture, wat gelei het tot vyf bonkige (vier meter hoë) raamwerke getooi in Strijdom se kenmerkende rooi kleur, wat elk ‘n sekere omstandigheid, karakter of komponent van die tydsame proses van gehalte wynmaak weerspieël. Die ‘storielyn’ fokus op die volgende elemente: 350 jaar van Suid-Afrikaanse wyn; terroir (as erkenning aan Moeder Natuur se bydrae); hande (wat die menslike aspek van wynmaak vier) en aromas (wat die unieke smake en geure van wyn uitbeeld). Die vyfde en laaste raam bring hulde aan Simonsig se multi-bekroonde Méthode Cap Classique reeks en vier die landgoed se pioniersvernuf en bydrae tot die wyn- en toerismebedryf. 

“Hierdie instellasie is ‘n kleurvolle weergawe van die menslike en natuurlike interaksie wanneer dit kom by die maak van uitsonderlike wyn. Ons wou letterlik ons ryke wynmaak-erfenis raam om sodoende dit vir ons nageslag te bewaar. In kort kan jy sê dat dit landskapkuns is, oor die kuns van wynmaak,” vertel Strijdom.

“Ons land se wynmaak geskiedenis lê baie na aan ons hart siende my wyle pa, Frans Malan, destyds ‘n groot bydra gelewer het tot Suid-Afrika se wyntoekoms as een van ons land se baanbreker wynmakers. Die land se eerste Méthode Cap Classique, die Kaapse Vonkel, wat hy in 1971 bekendgestel het, is iets waarop ons vandag nogsteeds baie trots is.”                                   

“Hy was ook een van die mede-stigters van die Stellenbosch Wynroetes, Suid-Afrika se eerste en vernaamste wynroetes, wat gestig is in dieselfde jaar as wat sy eerse bottel-gefermenteerde vonkelwyn die lig gesien het,” gesels Francois Malan, een van die drie Malan broers van Simonsig.

Die Stellenbosch American Express® Wynroetes  – tuiste van meer as 150 wêreld-klas kelders – is vandag steeds een van die land se gewildste bestemmings onder plaaslike sowel as oorsese besoekers, met 45% van al die internasionale toeriste aan die Wes-Kaap wat reeds met die weelde van die Stellenbosch wynlandstreek kennis gemaak het.

Strijdom van der Merwe se indrukwekkende landskapkuns sal vir die volgende 350 dae by Simonsig Landgoed besoekers se aandag wek. Die landgoed is oop vir besoeke en wynproeë vanaf Maandae tot Vrydae tussen 08h30 - 17h00, op Saterdae vanaf 08h30 - 16h00 en op Sondae vanaf 11h00 - 15h00.

Simonsig se glansrestaurant, Cuvée, is oop vanaf Dinsdae tot Donderdae vanaf 11h00 - 15h00, Vrydae en Saterdae vanaf 11h00 - 15h00 en 19h00 - 22h00 en op Sondae vir middagete.

Simonsig is geleë buite Stellenbosch op die Kromme Rhee pad tussen die R44 en R304.                

Vir meer inligting skakel Simonsig by Tel: (021) 888 4915.

Vir meer inligting oor kunstenaar Strijdom van der Merwe besoek www.strijdom.co.za.