Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Taraboemdery: skitterend georkestreer en afgerond


Paul Boekkooi - 2009-07-16

Met Neil Sandilands, Milan Murray, Richard van der Westhuizen, Petro van den Heever en Pierre van Heerden
Regie: Albert Maritz.

In hierdie spesiale groen Innibos-jaar word een van die veelsydigste lote wat die Afrikaanse letterkunde ooit opgelewer het, Chris Barnard, spesiaal in sy 70ste lewensjaar vereer as 'n belangrike hoeksteen van die sestigers, maar ook as immergroen skepper wie se werk ewe sterk tot lesers en gehore in die 21ste eeu spreek.
  
Nou, terug op sy geboortegrond, waar hy boer, maar ook met sy skrywerstalente bly woeker, weergalm die tamboer wat met soveel geskal en omstredenheid sy verhoogstuk Taraboemdery in die 1970's aangekondig het, met ewe veel lewenskragtigheid. Dié stuk erken, nou ruim 30 jaar later, 'n universele waarheid: groot dramaturge se werk verouder nooit, maar verskerp die gees met elke metamorfose of verjongingskuur wat dit vir 'n nuwe geslag ondergaan.

Dramaturge se werk word aan 'n onbenydenswaardige proses blootgestel. Hul tekste word aan 'n regisseur en 'n span spelers oorgegee wat met elke nuwe produksie 'n hernude identiteit daaraan verleen. 'n Bekende dramaturg het dit op 'n keer aan my beken dat dit vir hom voel asof sy kind aan pleegouers oorhandig word.
  
Met die destydse Truk-produksie nog stewig binne my verwysingsraamwerk, moet ek ruimhartig erken dat Albert Maritz se vars, nuwe en ietwat meer eietyds-beligte blik op die nimmerwykende interpersoonlike problematiek rondom verhoudings 'n gedagteprikkelende produksie tot gevolg gehad het.
  
Magiese realisme word as't ware met psigiese traumatiese realiteite in hierdie teks gekontrasteer.

Barnard stel vier karakters wat op die godverlate Kamagas woon, voor aan 'n besoeker wat die hele bestaansorde stelselmatig wegkalwe. Koot (Neil Sandilands) is soos 'n manipulerende indringerplant wat die selfbeeld van drie van die vier karakters met verloop van tyd afbreek. Die jong Fransien (Milan Murray), vrou van die impotente Buks (Richard van der Westhuizen), is die enigste uitsondering. Koot verlei haar met sy oortuigende sjarme en die manier waarop hy haar oë open vir die dodelike roetine en liefdeloosheid waarin sy vasgevang bly.
  
Dan is daar Buks en Fransien se bure: Breggie (Petro van den Heever) wat van haarself sê dat "hierdie lyf van my al gegee en geneem het", en Ewert (Pierre van Heerden), haar nogal verstandelik uitgedaagde broer wat binne dié moeras van manipulasie en misverstande vir oomblikke van simpatiewekkende uitgelatenheid sorg.
  
Die spelpeil van die produksie as geheel is uitsonderlik hoog, met 'n buitengewoon sterk greep op die steeds wisselende spanningsvlakke en rustekens wat organies gevestig is en oor die tydperk van bykans twee ure skitterend georkestreer en afgerond word.
  
Sandilands suggereer die ekstroverte sjarme van Koot laag op laag, maar oortuig ook in dié oomblikke waar die donker sy van sy karakter opduik. Van der Westhuizen beheer Buks se uitbarstings met egtheid, maar daar is tye waar sy karakter nóg duideliker afgebeeld kon word.
  
Milan Murray het reeds Fransien se dilemma gevestig met gelaaide "stil" spel, maar ook die transformasie nadat Koot se aandag haar uit haar dop laat kruip het, is knap op die planke gebring. Petro van den Heever se Breggie was in die kol, omdat sy haar daarvan kon weerhou om haar karakter in parodie te laat verval.

Taraboemdery is 'n bykans smetlose produksie van 'n klassieke Afrikaanse stuk wat sy tydlose relevantheid opnuut bevestig. 

* Hierdie resensie is geplaas met die toestemming van die Lowvelder