Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Om te verskil ...


Albert Maritz - 2009-07-15

"The one serious conviction that a man should have is that nothing is to be taken too seriously." – Nicholas Murray Butler

 

 

Met ons optredes van Elders aan Diens by die Weskus Kunstemakietie, asook by Cultivaria, was Arno Moorcroft ons klankman. Hom het ek leer ken toe hy klanktegnikus by Radio Tygerberg was. Saam het ons honderde radioflitse gemaak.

My meegevoel gaan uit na sy familie, en sy kollegas, vir wie sy dood ‘n geweldige verlies is. Arno was ‘n regte, regte nice nice ou. Hy het my ook ‘n slag saamgenooi na die interradio-seiljagwedvaart, en ons het nog so daar rondgeklouter oor die seiljag se boeg, teen die aanstormende see ... (heh-heh – die dramatiese is sommer vir die grap). 'Bye Arno. Jy is bloot een van daai ouens wie ek my nie kan indink ek nooit weer sal sien nie?!

Vrede vir jou, en vir jou naasbestaandes.

*

Mense kyk uit verskillende invalshoeke na dinge – daarom verskil hulle. En nes jy ‘n ou in ‘n ander kar se kop wil afhaal, en hy joune, is dit ook maar omdat hy hoog sit in sy duur, op-skuld 4 x 4, en jy laag lê in jou ou-u-u seat van die afbetaalde kar wat beter in ‘n parkeerplek pas as die 4 x 4. So moet mens nou alle parkeerplekke op aarde oorverf om sy onthalwe … om van sy vrou, as sy bestuur, nie te praat nie. Maar hy is die advokaat Dumisa Ntsebeza, en is moontlik in die publiek se goeie boekies – as beskeie voorsitter van Barlow-iets, en destydse lid van die Versoeningskommissie.

Maar helaas … plaas hy liewer homself gebriek het by die vertoning van The Invincibles by die ENCOUNTERS SA Internasionale dokumentêre filmfees. Dit was die wêreldpremière van die fliek, en daar was vraetyd na die tyd. Die fliek was oor die Leeu-rugbytoer van 1974. (En ek kon sweer ek is ook in die fliek – al hoppende op en af toe die Leeus opdraf op Nuweland. Ek was 14 en is al drie-uur die oggend in die reën met die trein soontoe.) Terug by vraetyd: uit ‘n duisend vrae wat mens kon vra, het die meeste ongevra gebly, omdat mens eintlik die antwoorde elders kan kry. Daar was net enkele vrae – dalk effe generies bedoel. Tot die advokaat kom met ‘n vraag wat hom twee minute vat om te sê – nie eintlik te vra nie. En die "gist" ... wat hy eintlik bedoel het, is: Wanneer gaan rassisme in sport ophou? Maar wat hy moes gevra het, is: Wanneer gaan die tragiese kondisies omgekeer word in ons townships? Maar wat hy éintlik wou vra is …

Ian McCallum was gaaf, en het nie regtig met hom saamgestem nie. Het beskaafd geantwoord dat hy verskil, en dat hy dink dinge is reeds op ‘n goeie koers, en dat mense geduldig moet wees. Myns insiens was die antwoord eenvoudig: Stel ‘n regtig goeie minister van onderwys aan. Helen Zille, indien moontlik.

*

Wat my laat dink aan Heinrich Wyngaard se Adam Small-artikel in DieBurger van 8 Julie 2009. Hy haal mense aan – onder andere is daar ‘n stelling dat Small “geskryf het wat hy geskryf het en dit staan”. Daar word ook gevra waarom hy nie die Hertzogprys gekry het nie.

Wel, min denkende mense sal verskil. Nes ek as 14-jarige pikkie in die pawiljoen op Nuweland al aan die kant van die “nieblanke” mense onder die suidpawiljoen was; net so is ek al la-a-ankal ‘n "fan" van Adam Small. Maar dis geen geheim dat hy van twee kante gesqueeze is nie: die wittes wat sy stukke mog opvoer sonder dat hy in die gehoor mog sit, en met ‘n blanke Makiet; en deur sy eie mense, wat hom beskou het as ‘n "coconut" omdat sy werk so aanvaarbaar was in wit teaters, en in digbundels … of so iets.

Ons geheues is kort.

*

Maar mens sien mos wat jy sien; nie wat hy of sy sien nie! Persepsies verskil.

By die pas afgelope Innibos-fees was daar heelwat sulke gevalle. In ‘n knap teks, met minder moeite of aandag aan produksiewaarde as wat dit verdien, speel die stuk Samoerai. En uit ‘n groep jong spelers – wat mens moed gee vir die toekoms – word een speler in ‘n resensie uitgesonder as die beste speler onder hulle. En ek sien toevallig mense die uitlating lees, en hulle koppe skud. Hulle stem nie saam nie. Maar omdat dit aanvaarbaar is dat mense se opinies verskil, maak dit nie saak wat die detail is nie.

‘n Heerlike pluspunt op die fees is Bure op die Bank met Zane Meas en Neels van Jaarsveld – regie deur Ilse van Hemert. Ek hoor eers later dié heerlike stuk is geskryf deur Saartjie Botha. Lekker skryfwerk, ou Saar. Dis ‘n lekker gewaarwording, nè, dat jy oor die wonderlike gawe beskik om nie jou tyd te verwyl met “Volksteater” nie!

Ek sien Riaan van Heerden praat met Sandra Prinsloo, en ek is weer diep onder die indruk hoe "nice" sy is, en nogmaals hoe "nice" hy is.

Ns. Ons was daar met Taraboemdery.

*

Nouja, die Fokofpolisiekar-fliek was ook vol bespreek by die dokkie-fees – die aand ná die 1974-fliek. Lekker!!!!

 En Innibos is agter die rug. Na vier weke in die noorde bly ek sommer in die bed en lees …

"Logic – an instrument used for bolstering a prejudice." - Elbert Hubbard

Foto's:

Elders aan Diens : Nicole Holm, Luna en Frieda van den Heever

Taraboemdery: Milan Murray en Neil Sandilands