Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Halfpadmerk


Gerald Erasmus - 2009-07-15

(“Day by day”)

Die Bolandse eendeweer-winter herinner my aan ons warm somers en die kort dae laat my dink aan ons heerlike lang Desemberdae. Soos Oujaarsdag, 2008.

*

Dit was al laat. In die Boland is donker in Desember al laat. Ons’t by ons ronde tafel gesit en eet, ek en jy, toe die voordeurklokkie lui.

Jy’s met ‘n “… gots, ek het nie ‘n bra aan nie …” kamer toe. Ek het opgestaan, seker gemaak ek druk nie met my oormatige gewig op ons ronde swarthouttafel nie. Met servet in die hand het ek die deur oopgemaak. Nog voor ek die buitelig kon aanklik of die hek kon oopsluit, het A gesê: “Moenie oopmaak nie. As julle môre by die huis is, kom eet by ons. Elkeen bring ‘n bord en ‘n glas en wat en ons kuier saam.”

Ek kon AM (A se man) in die agtergrond sien. “Dit sal lekker wees om julle by ons te ontvang. Al die agtergeblewenes sal daar wees,” lag hy. (Ons in Langstraat, wat maar kort is, is nogal ‘n soort familie, sonder die nodige familievetes.)

“Dis reg. So, ons bring ‘n tjoppie en wat en kuier lekker saam?”

“Ja, so teen twaalfuur,” knoop A die afspraak.

Ons het oor ons Oujaartjops en slaai besluit ja, dis reg.

*

Op pad na nommer 13 loop ons ons vas in ons bure, die oudmusiekjuffrou en haar oudburgemeesterman. Jubelend soos altyd wens hulle ons ‘n mooi nuwe jaar toe en spreek die jammerte uit oor hulle die middag saam met ons sou misloop, maar hulle is op pad na hulle dogter in Somerset-Wes. Ons is ook spyt, sê ons, want hulle is altyd goeie geselskap. Miskien, sê jy toe ons wegstap, moet ons meer aandag gee aan ons liewe bure.

By nommer 13 ruil ons drukkies en handskudde en goeie wense uit en ek sien jy’s ongemaklik, want nabyheid is nie eintlik jou scene nie. Maar ons gaan deur die rituele soos ons straatgemeenskap dit wil hê.

Ons gaan sit buite op die stoep (dis bewolk en nie te warm nie, en ‘n ligte briesie druk) en ons praat oor die uitsig op die Drakenstein-bergreeks en die wolke wat draal om die bergpieke en die kleurespel wat laatmiddag opgetower word. Ons praat almal oor die mooi van ons wêreld en die vreugde van daar te bly. Ek sê ja, julle aan hierdie kant van die pad hét die uitsig, maar ons aan die anderkant wéét van die uitsig. En almal lag gemoedelik. En ons skink JC le Roux-vonkelwyn en klink ons glasies en almal sê: “Speech. Speech.”

Hoekom hulle altyd vir my kyk as daar gepraat moet word, weet ek nie, maar ek praat oor die jaar wat verby is en oor ons geen afsterwes in ons klein gemeenskap gehad het nie, maar tog was daar seerkry en siektes en ek sê vol bravade vanjaar gaan ons elke siekte gatskop en voluit lewe en almal klap hande en roep uit “Cheers!” en “Happy, happy!” En Darling sê: “Yes. Day by day.” Want dis soos sy nou maar die lewe met OuOom aanpak. Sê sy later vir ons. “Ek loer saans as hy slaap dat hy nog asemhaal, en soggens loer ek of hy wakker is. Day by day. Ons kan nie anders nie.”

AM pak ‘n wingerdstompvuur en vul voortdurend stompe, wat hy gister van sy plaas buite die dorp aangery het, aan, en A is ‘n waardige gasvrou wat almal laat welkom en tuis voel en seker maak dat die glasies vol bly. Daar is bottels van Boland Kelder se wyn (Sixty 40 en Chenin Blanc en Pinotage en ook ‘n 5-liter Bon Vino Dry White) en ook Bovlei se Sauvignon Blanc, en A sorg dat almal genoeg het. As gevolg van die somerhitte drink almal meestal van die witwyn – koud bedien en as dit moet, met ‘n blokkie of twee ys (ander verkies dit onverdund).

Die vuur knetter en ek en AM en OomWy praat ewe lustig oor krieket en kerk en politiek. OuOom sit eenkant en luister en die helderheid van sy verstand en sy vriendelike glimlag weerspreek sy gedane liggaam en hy suig verbete aan sy vierde sigaret. Hy kry ‘n knertsie vonkelwyn en ‘n klein brandewyntjie en Coke en daarna net Coke en Darling sien na hom om met die liefde van ‘n leeftyd. En hy glimlag altyddeur met haar en sy lippe vorm “My Darling”. By die vuur, tussen al ons driftige gesprekke, praat ons ook oor OuOom: AM vat ons gevoel saam en sê dat in al die jare wat hy OuOom ken, hy hom nog nooit sonder die glimlag gesien het nie. OomWy beklemtoon sy vriendelike groet as ‘n mens by hom verbystap. Uiteraard, altyd, met die glimlag. My gewyde stilte beaam hulle woorde.

Die wingerdstompvuur maak allemintige kole, maar steeds pak AM hout - vreesbevange dat die kole te min sal wees of dalk dat ons lewendige gesprek oor veel meer as die sake van die dag sal stagneer as ons begin braai? wonder ek. Jy en E van oorkant met die siekte en die mooi oë en die sterk stem praat julle vroueprate. Jy sê nog later die aand E lyk moeg maar pragtig. Darling en A (sodra sy as gasvrou ‘n sittydjie kry) en OuOom gesels op hulle manier oor hulle dinge. En tussenin vloei uit gesprekke nuwe gesprekke oor al die groepe heen wat ‘n mens nie alte goed kan absorbeer en derhalwe onthou nie. Maar wat my ewig sal bybly, is die kollektiewe gevoel van voldoening en kameraderie en eenwees en samesyn en liefde vir die lewe wat in die klein groepie vergestalting gevind het. Veral: dat ons lewe en vreugde daaruit moet put.

*

Ek verstaan eensklaps AM se verwoede vuurwerke toe Oubasie en sy C uiteindelik, na heelwat glasies van Boland Kelder en Bovlei se wyne, opdaag. “Immer laat,” korswil OomWy met ‘n skalkse glimlag. Ons druk en bladskud weer oor en weer en Oubasie sê dis die kinders uit die vreemde wie se tye nie met ons tye ooreenstem nie wat hulle so besig hou en ek sê dis nie ‘n verskoning nie want ons almal het kinders in die vreemde, en dis skielik asof daar ‘n demper op ons middag is. OomWy red die situasie en sê maar party van ons kinders kan tyd lees. En almal lag gemoedelik, en Oubasie en sy C kry ‘n vonkelwyntjie en ons klink weer glase en wens mekaar goeie wense toe. Soos dit hoort, op so ‘n middag, aan die begin van ‘n nuwe jaar.

A, die gasvrou, draai die tempo op – die musiek moet aan, die kole moet reg, die braai moet begin: die eerste braai vir 2009. AM krap die kole reg en almal wat min of meer braaiparaat is, help toets die hitte. Selfs ek lê my moedswillige onkundige eiertjie - dis dalk nie genoeg vir die hele skaap nie. En almal lag gemoedelik. Soos dit hoort, op so ‘n middag.

AM braai die tjops en hoenderdye en -vlerkies en dun en dik wors en ek en OomWy en Oubasie dra as hulpbraaiers beduidend by tot die vermeende sukses van ons eindproduk en elke nou en dan sê OuOom: “Julle moet lekker braai.” En hy glimlag sy verterende glimlag. Maar, soos alle kossoorte oor alle tye heen, lê die sukses immer in die smaaklikheid van die ete.

OomWy doen die tafelgebed. Oudergewoonte maak ons kringetjie en vat hande. Onkonvensioneel bly jy sit. Ek vat jou sagte klein handjie en sê stilweg ‘n gebed op oor jy al so lank by my is. A is regs van my, en in ‘n teken van solidariteit vat ek haar hand in ‘n stewige greep. En so staan ons. En OomWy gaan haal 2008 by 1 Januarie en trek hom deur al sy vredes en vreugdes van verhoudings en kinders en kleinkinders en suksesse en hoogtepunte en verbygegane en permanente siektes en kwinte en skete en pyne tot by gister. En hy dra die nuwe jaar, al 365 dae daarvan, op aan onse Skepper met die enkele versoek dat ons, arme aardlinge, Sy deurlugtige wil in alles sal sien. Gepas. Soos Darling sê: “Day by day.” En ek staan met jou sittende aan my linkerhand en A se sterk linkerhand in myne.

Ons eet ons tjops en hoenderdye en -vlerkies en dik en/of dun wors saam met E se heerlike aartappelslaai en uit die ander tuine beet, tamatiesambaal, kerrieboontjies, radyse, spanspek en nog meer. O ja, en ‘n knoffelbrood – hoe kon ek dit vergeet. OuOom vra ‘n tweede porsie, en Darling is in die wolke, maar wonder of dit nie dalk sy maag sal … jy weet mos … nie. Maar in liefde.

En ons gesels. Land en sand. Oor mense en dinge en doene. Oor agtertoe en vorentoe. Oor gesondwees en siekwees. Oor verlange. Pyn. Kinders. En oor wat voorlê …

OuOom is moeg. Die vars lug, die baie gesels en die heerlike ete eis sy tol. Op sy innemende manier sê-vra hy: “Congrats to the braaier?” Ek wys na AM. Dié sê maar hy’t ‘n sterk ondersteuningspan gehad. Of OuOom gehoor of verstaan het, weet nugter. Maar hy’t innemend geglimlag en ge-thankyou en aan die sy van sy Darling na hulle eie spitsdakhuisie hoër op in die straat vertrek.

Toe’t koffie en likeur gevolg. En die geselsstroom het onophoudelik gevloei. Deur finansies, plaasdinge (dorsmasjiene en doppers en trekkers en stropers en poelies en bande en verminkte liggaamsdele en dooie plaaswerkers) en ander soortgelyke geselseienaardighede. Jy’t besef dis tyd om te gaan, opgestaan, ons mandjie gepak en gegroet. Ek’t jou gevolg. En eensklaps was dit die sein vir koebaaisê. Ons het weer gedruk en gebladskud en dankie gesê vir die inisiatief en al stanende verder gepraat oor hoe lekker ons samekomste is en dat ons dit weer moet doen, vorentoe. En ek het gedink aan ‘n braai op ons stoepie, maar nie met jou daaroor gepraat nie. Ons privaatheid is immers vir ons belangrik.

En so het ons vertrek. Elkeen met sy mandjie na sy eie spitsdakhuisie. In die wete dat ons samesyn kan geniet met ander wat die sin die van lewe draaglik (selfs: begrypbaar) vir ons kan maak. Jy sê: Is dit nie juis in dié soort diskoers dat die lewe begin sin maak nie? Dat die essensie van menswees waardevol raak nie?

En ek sê: En so ook ons lewe.

Al is dit “day by day”.

Of júis: “day by day”.

*

Dit was kort anderkant die eerste tekens van die herfs, die eerste goue akkerblare en die wingerd wat verbruin, dat ons hoor OuOom is weg. Stil, met ‘n skalkse glimlag op sy gesig.

En die res du voort, “day by day”.