Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Die man wat riviere aan die vloei skryf - Chris Barnard word 70


Frederik de Jager - 2009-07-15

Chris Barnard lag nie sommer nie, al lag hy graag. Daar is 'n verskil, en wie die verskil nie ken nie, kan dink hy is kwaai.

Dis humor wat 'n jong redakteur oor sy skrik gebring het toe hy die skrywer in Johannesburg moes gaan opsoek. Op die tafel voor hulle het die manuskrip van Moerland gelê, met redigerings so kordaat soos rooimiere oral oor die bladsye.

Moerland was Chris se eerste roman sedert Mahala een en twintig jaar tevore. Daardie magtige sprong oor tyd, van een hoë bergtop na 'n ander, sou op sigself al kon maak dat die oomblik vir 'n mens te groot is. Maar dit het die redakteurtjie nie eens raakgesien nie, want hy het teen sy ooglede vasgekyk, na die naflakkering van 'n halwe kers in een van die Chriskrasse wat hy so-ewe nog op die skoolbanke gelees het. En hy kon nog die klam engte voel in Mahala wat op universiteit voorgeskryf was. En nou moes hy dáárdie skrywer gaan wys hoe sy rooi verbeter het op die swart.

Dit het hulle nie lank geneem om oor die weg te kom nie, en weldra was hulle vriende. Want Chris kon lag. Hy kan mos lag sonder dat jy sien hy lag. Jy moet hom net uitvang. En hy had geduld, met 'n man wat al sy enne uithaal en punte insit en nuwe sinne begin. Geduld wat hom deur 'n hele dag se en-slagting laat sit, deur 'n koebaai-ete, en by die kar se deur eers lakonies laat sê, sonder 'n snykant in sy manier: "Jy moenie my styl verander nie."

En toe eers kop die redakteur, met sy onthou van Chriskras en sy vars graad en 'n paar boeke deur die drukmasjiene, die styl van Chris Barnard. Die hand van die meester is daarin sigbaar dat dit onsigbaar is. Daar is van Mozart se musiek geskryf dat dit van so 'n kristallyne aard is dat dit nie alleen deurskynend is nie, maar voorkom asof dit nie gemaak is nie maar in die ewigheid, noodsaaklik, bestaan. En so skryf die lang skraal man met die kennebaard. Jy kan sy hand nie sien nie, en die sinne, met hul rustig geskikte woorde, vloei saam tot riviere waarvan niemand kan dink dat hulle op 'n dag vir die eerste keer begin vloei het nie. En hulle vloei ál dieper en sterker in stories waarin jy jou net onder 'n waarskuwing behoort te begewe, want hulle lýk maar net so kalm, en hulle word verskuiwende massas water wat jy waaragtig nie met punte en kommas sal kan stuit nie.

So kry die redakteur 'n insig in wat hom op universiteit geleer is van vorm en inhoud wat een is. Daar is nie dwang en magsmisbruik in Chris Barnard se skryfwerk nie, hoewel juis die afwesigheid daarvan dwang en magsmisbruik onder mense blootlê - net soos dit al die ander menslike giere sagkens sigbaar maak, die swakhede en die deugde, die dieptes van gevoel en die dwaasheid, die erns en die luim, en liefde en verlange. En die grootste hiervan is seker die verlange.

Elke trein, boot, bus, lorrie of vliegtuig in Chris se oeuvre is 'n draer van verlange. En hy is een van daardie skrywers wat jou paragrawe en soms bladsye lank met 'n stuk masjinerie kan boei dat jy later die mense uit die pad wens sodat die lorrie kan begin praat. Die verflenterde lorrie wat in Moerland 'n medereisiger word op vlug uit Angola. Die onvergeetlike beskrywing van die vertrekkende stoomtrein in Voetpad na Vergelegen. Die Dakota in Boendoe wat homself as 't ware uit sy los stukke in die oerwoud bymekaarskraap en ... kan jy dit uithou ... homself rakelings oor die boomtoppe lig. Die Jeep wat in Taraboemdery die hele tyd op die verhoog staan soos 'n stille getuie van: dwang en dwaasheid en erns en luim en magsmisbruik, die hele litanie, en altyd weer verlange.

Tot met die afsterwe van die tydskrif Wegbreek het Chris 'n reisrubriek geskryf, waarvan 'n paar stukke opgeneem is in sy jongste bundel kort vertellings, Oulap se blou. Binne die konteks van hierdie bundel kom etlike temas uit sy werk bymekaar: hoe alles neerkom op 'n reis - na elders, na binne, na 'n verlore paradys; en hoe die natuur deel van ons is, hoe dit beide ons tuiste en ons ontheemding is; en die liefde - veral ʼn liefde vir vroue, wat die onbegryplikheid én die ongrypbaarheid van hierdie emosie demonstreer.

Chris Barnard is 'n kind van die Laeveld. Hy is op 'n plaas in die Nelspruit-distrik gebore en hy boer nou weer daar naby. Vroeër het hy 'n stukkie Hoëveld gehad wat hy Dwaal genoem het - ʼn naam vir 'n tydelike staanplek. Die plaas waar hy nou al 'n jaar of tien in sy geboortedistrik boer, heet Thulani: stilte en rus. Daar staan vrugtebome in rye en wilde bome waar hulle wil. Hy ken elkeen se naam. Daar loop klompies wild en daar is 'n watertjie wat 'n klofie tussen die granietkoppe deurgeloop het. In so 'n kloof kan jy jou die man en die bobbejaan van Boendoe aan die teenoorgestelde kante verbeel - die herkenning tussen hulle, sáám met die ewige onbegrip.

As 'n skrywer jou by só 'n plek uitgebring het, waar jy jouself in die onpeilbare gesig van jou eie natuur kan spieël, is dit regverdig om te sê ja maar hy het nooit politiek geskryf nie? Want Chris was nooit 'n "politieke" skrywer nie; nie een met wapperende vlae nie. Hy het eenkeer gesê as jy trou bly aan die waarheid en die storie wat jy vertel, kan jy nie die politiek misskryf nie. En lees hom maar. By hom lê verwonding, of dit persoonlik is of politiek, aan die wortel van die menslike ervaring. Dalk is die "politieke" Barnard net minder sigbaar omdat ook sy verwondering aan mense panoramies is en nie sektaries nie; almal insluit en nie net party nie. En omdat hy sy hand nie laat wys nie.

Hy is nie iemand wat jy met vlae in optogte sal sien loop nie. Hy betoog nie en skryf nie betogend nie. Hy stap nóg met swepe, nóg met rosette rond. Vertonerig is hy nie. Hy toon, maar vertoon nie, nee. 'n Beskeie mens wat weinig het om beskeie oor te wees. Want hy is een van die mees bekroonde skrywers in Afrikaans, met 'n stuk of agtien bekronings vir bykans al die genres wat hy beoefen, in 'n stuk of dertig boeke, van romans tot kortverhale tot jeugromans tot dramas vir die verhoog, die radio, televisie en vir film. Haas al die groot pryse is aan hom toegeken, insluitende die CNA-prys drie keer en die Hertzogprys twee keer. 'n Skrywer van verstommende veelsydigheid en 'n presteerder in alles. Is daar iets wat hy met 'n tikmasjien kan doen wat nie 'n prys sal wen nie?

Maar jy sal hom nie selfvoldaan betrap nie. Hoekom hou hy nie van pretensie nie, vra sy seun Simon hom in 'n nuwe dokumentêre film deur sy vrou, Katinka Heyns. Want as ek myself nie kan glo nie, antwoord hy, hoe kan ek verwag dat ander my moet glo?

Wel, ander glo jou, Chris. En ek weet jy glo jouself. Maar wat moeilik is om te glo, is dat jy sewentig is. Want ek ken ʼn seun genaamd Chris Barnard wie se verwondering aan die wêreld nog niks afgeslyt het nie. En ek ken 'n Chris Barnard wat met sewe maal sewentig jaar se inlewing oor mense skryf. En ek ken iemand wat vandag sewentig word, maar ek is jaloers dat ek jou nog net agtien jaar daarvan ken.