Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Jason Lloyd in gesprek met Clinton V du Plessis


Jason Lloyd - 2009-07-09

Dit was een aand in 2006. Die “swart” Afrikaanse skrywer en digter Clinton V du Plessis se siniese nihilisme skop in. In Sandton in Johannesburg skrik hy ongemaklik wakker – amper soos Bruce Springsteen met daardie “freight train running through the middle of my head”- gevoel. Na drie jaar as rekenmeester in Jozi het ’n pyn in die borskas hom laat besef: “Iewers het ek fokus verloor.” Gevolglik vat hy sy goed en verlaat die Goudstad vir sy tuisdorp, Cradock.

So doen hy sy alias, evangelis van die nihilisme – soos hy bestempel is deur die Vlaamse letterkundige Luc Renders – gestand. Die beeld van die mens en lewe wat Du Plessis skep, is uiters negatief. Veral die banaliteit en die uitsigloosheid van die lewe gekoppel aan die wreedheid en verdorwenheid van die mens word met onbarmhartigheid oopgevlek. Inderwaarheid is hy nêrens tuis nie.

“Ek het net moeg geraak vir Jozi. Dit is ’n ander lewensuitkyk met ’n ander styl. Dit was nog altyd net ’n plek van trekarbeiders. Aankommers is nooit tuis daar nie. As jy bereid is om jou siel vir ekonomiese redes te verkoop dan bly jy lank daar. Ek wou nie my gewete dood maak nie.”

Dit is bedrywig in Cradock en ons soek-soek na ’n ordentlike eetplek om dié onderhoud te doen. Uiteindelik beland ons in ’n kits-uiteetplek se rookkamer, wat glad nie ideaal was nie, maar tog was daar stilte.

Hier vlak voor my sit hy met ’n wit hemp en ’n kortbroek en hou sy hande gevou. Dit is bedompig in dié rookkamer en Du Plessis beantwoord my vrae ewe gemaklik.

Inderdaad is hy nog steeds die skrywer wat alles bevraagteken en die skrywer wat vier uit ses van sy publikasies “uit sy eie gatsak” uitgegee het. Dit tipeer sy posisie in die Afrikaanse letterkunde. “Hy bevind hom inderdaad op die periferie daarvan, in die yl sone waar daar skaars genoeg suurstof is om te oorlewe,” het Renders destyds geskryf.

Maar dit is juis miskien hierdie posisie wat hom ’n ekstatiese gevoel van vryheid bied, want hy gaan ongesteurd sy eie gang.

Vir die meeste kritici en akademici is Du Plessis grootliks onbekend. Resensies van Du Plessis se bundels bestaan skaars. Die kritikus JC Kannemeyer het wel geskryf Du Plessis se gedigte uit sy eerste digbundel (geloofsbelydenis van ’n kluisenaar) bly “vassteek in ekkerigheid” en dat hulle die “nodige beeldende vermoë mis”. Hierteenoor staan TT Cloete se beoordeling dat dié bundel ’n “debuut” is. André P Brink het geskryf dié bundel moes nooit verskyn het nie. Ironies genoeg het Brink later sy opinie verander deur Du Plessis te vra om gedigte uit dieselfde digbundel in Groot Verseboek te publiseer. Ek keer later terug na Brink se uitnodiging aan Du Plessis.

Maar ten spyte van dié kritiek skryf Du Plessis steeds verder aan ’n eiesinnige, wederstrewige oeuvre. Hy kap af: “Dis lekker om op die rand te wees. Ek verkies dit daar en wil nooit deel van die hoofstroom wees nie.”

Sy kortverhale en gedigte handel meestal oor die seksdaad en nou en dan oor dwelmhandel. Du Plessis verskraal seks tot ’n konsumpsieproduk of plaas dit in ’n moreel laakbare konteks.

Sowat twee jaar gelede het Rapport sy doppie as boekeblad-rubriekskrywer geklink nadat hy die “p-woord” in ’n rubriek gebruik het. Einde verlede jaar was hy met Sonja Cabano in ’n “krapperigheid” op sy LitNet-blog betrokke omdat hy glo – volgens Cabano – ’n kru-beeld van skrywers het. Hy het toe geskryf baie van die skrywers gebruik die web asof hulle besig is om te ontlas, “want daar is soveel snert wat Bloggers skryf. Daar is geen gehalte-beheer nie.”

Destyds het Du Plessis “nee dankie” vir Brink, samesteller van Groot Verseboek, gesê en geweier om in Groot Verseboek 2000 gepubliseer te word. Einde verlede jaar het die nuwe geblikte vorm daarvan verskyn en steeds sê Du Plessis: “As digter het ek nie soos destyds ’n uitnodigingsbrief gekry nie, maar ek is bly, want ek wil nie in die Groot Verseboek gepubliseer word nie.” Hy sê Brink het jare gelede in ’n resensie in Rapport gesê geloofsbelydenis van ’n kluisenaar (1984) moes nooit verskyn het nie. “Die resensie het absoluut niks met ’n resensie te doen gehad nie. As jy ’n boek resenseer kan jy literêre maatstawwe gebruik, maar die manier waarop die resensie oorgekom het, het jou absoluut gemarginaliseer. Toe word ek genader om gedigte uit daardie einste boek in Groot Verseboek te laat opneem. Dit was vir my net lekker om vir Brink nee te sê.

“Brink het meer met dié resensie reggekry om my te marginaliseer as wat die destydse apartheidsbase gesukkel het om oor ’n lang tydperk reg te kry. Groot Verseboek gaan altyd daai bagasie dra dat hy geprobeer het om polities korrek te wees op ’n stadium nadat Gerrit Komrij se versamelbundel verskyn het. Toe het die Groot Verseboek ook skielik begin bewus word van die bestaan van hierdie ander digters wat Komrij in sy bundel opgeneem het.”

Clinton Vivian Du Plessis is in 1963 in Cookhouse gebore. Sy oorle pa (Robert) was ’n spoorwegwerker en sy ma (Susan, nou 82) kan nie lees of skryf nie. Hy ontvang skoolopleiding aan die destydse Sekondêre Skool Holy Rosary op Cradock. Hy het deur Unisa vir ’n BCom-graad gestudeer, maar voltooi nie sy studies nie. Du Plessis publiseer geloofsbelydenis van ’n kluisenaar (gedigte, 1984), Curriculum vitae (gedigte, 1988), Tussentydse verslag: gatsak-gedigte (1996), Kort van draad (kortverhale, 1997), In God’s country: no 2-21 (gedigte, 1999) en Brunch met Twee saam met Peter Snyders (kortverhale, 2001).

Hy werk tans aan Duplicity, ’n Afrikaans/Engelse bundel met al sy vorige werk, en ’n Afrikaanse digbundel, Gedigte, talk show hosts & reality shows. Hy werk as rekenmeester saam met ’n vennoot in ’n klein rekenmeestersbedryf op Cradock en is ’n rubriekskrywer vir LitNet. Hy is nie getroud nie en sê “die ekonomie is te troosteloos om aan dié luuksheid te dink”.

Ons gesprek skuif aan na die politieke landskap. “Daar is ’n interessantheid rondom die betekenis van die name van die twee mees prominente politieke figure in die land. Mosiuoa (Lekota) beteken iemand wat gebore is om ’n gaping te vul. Jacob Zuma se tweede naam, Gedlehlekisa, beteken die een wat jou met ’n glimlag bedrieg. Dit sê vir ’n mens baie van die huidige politieke opset in die land.”

Hy sê die skrywer en dramaturg Peter Snyders, wat Political Joke I & II geskryf het, kan gerus nou Political Joke III skryf, “want daar is oorvloed politieke materiaal waarmee ’n mens die draak kan steek. Veral die ontkenning waarmee politici hulle besig hou kan vir ’n interessante diskoers sorg. Dit is eintlik ’n grap as ’n mens kyk wat aangaan in die politiek, maar aan die anderkant is dit tragies.”
 
Volgens Du Plessis is skrywers heeltemal te stil in hul deelname aan die openbare diskoers. “Dit is net skrywers soos Breyten Breytenbach wat ’n opinie het oor die politiek. Oor die algemeen het skrywers nie meer ’n stem nie. Hulle het net stil geraak. Destyds was dit ’n opwindende tyd om te skryf. Ons het onreg gepak. Selfs nou moet ons aanhou om onreg te pak.”

Met die afloop van ons onderhoud gaan laai ek hom af by sy huis in Michausdal. “Ek het die reuk van dagga gemis toe ek vir drie jaar in Jozi gewerk het. Hier ken almal vir almal. Ons weet as iemand gesteek word en as iemand sterf treur ons almal saam.”

Toe hy die motorvenster afrol, vat iemand – wat ons in gewone taal sommer die “dronk ou” sou noem – aan Du Plessis se skouer. Die ou was bly want Du Plessis het tuisgekom. Inderdaad, Du Plessis kan nog steeds sê soos Bart Nel gesê het: “En ek is nog hy.