Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die Pienk Dossier # 1


Coenie Kukkuk - 2009-07-08

Die Pienk Dossier sal elke twee weke verskyn en word saamgestel deur Coenie Kukkuk, redakteur van Gayspeak.co.za. Ons gaan poog om soveel as moontlik te berig oor wat in die LGBTI (lesbiese, gay-, biseksuele, transseksuele en interseksuele) wêreld gebeur, hier in Suid-Afrika en elders. Bydraes is welkom en kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za.

1. Die Radio Kalahari Orkes het vir ’n opskudding in die kleine gesorg toe hulle op 1 Julie by die gayklub Legends in Pretoria opgetree het as deel van die Legends Live!-aanbiedings, en in volle “drag” op die verhoog verskyn het. Ian Roberts soos niemand hom nog ooit gesien het nie! Soos die advertensie sê: “priceless”. Die Legends-gehoor, wat ’n groot aantal van hul straight ondersteuners ingesluit het, het omtrent tekere gegaan. Dit volg op Stefan Ludik se optrede daar in Junie, toe hy twee manlike ontkleedansers by sy opvoering gevoeg het. As dit is hoe Legends Live! die res van die jaar gaan lyk, kan ek nie wag om te sien wat La Diva op 29 Julie in die mou voer nie! Gaan kyk hier wie nog hier kom optree. Vir meer foto’s van RKO in “drag”, loer hier.

2. Die Mnr Gay Suid-Afrika kompetisie is verlede jaar as handelsmerk en maatskappy geregistreer en die Oos-Kaapse uitdunne het plaasgevind tydens die Pienk Loerie Mardi Gras in Mei, met Chris Macgregor wat as Mnr Mardi Gras gekroon is en daarmee gekwalifiseer het vir die finaal van Mnr Gay Suid-Afrika™. Die tweede en derde plekke is verower deur Tyrone Nell en Leo Jan de Beer, wat beide ook deurgedring het na die eindstryd. Daar word berig dat daar al meer as R400 000 se prysgeld op die spel is, waaronder ’n 7-dae-vakansie in New York, alles ingesluit, asook ’n vliegtuigkaartjie vir die wenner na die Mr Gay World-kompetisie in Oslo, Noorweë in 2010. Die Wes- en Noord-Kaapse uitdunne vind op 15 Augustus by The Glen Boutique Hotel in Kaapstad plaas. Vir meer, lees hier.

3. Die groot nuus op die lesbiese front is natuurlik die uit-die-kas-klim van die Idols-sangeres Melanie Lowe. Lowe, wat onlangs saam met Katie Melua getoer het, het met dié aankondiging behoorlik ’n paar van ons lesbiese susters na hul asems laat snak. Daar was natuurlik ’n hele klomp wat gesê het: “Maar ons het dit al lankal geweet”, maar soos met soveel kunstenaars die geval is, weet ons, maar dit tel nie vir veel totdat die kunstenaar dit self erken nie. Dan is daar natuurlik dié, soos Guillaume, wat weer terugklim in die kas! (Huisgenoot)

Ons byt ook nie lekker daaraan nie … Melanie se nuwe toer, heel gepas getiteld Living The Truth, skop af in Durban met optredes daar op 31 Julie en 1 Augustus, en dan by Legends Live! in Pretoria op 26 Augustus. Sy het ook haar verlowing aan Angela onlangs op Facebook en Gayspeak.co.za bekend gemaak. Vir meer, lees hier en ook hier.

4. Met die heengaan van Michael Jackson kan die gay-gerugte maar ook nie gaan lê nie. Daar is al reeds ’n boek op die rak wat beweer dat MJ wel gay was, maar dat hy jonger mans, en nie seuns nie, verkies het. Unmasked: The Final Years of Michael Jackson is geskryf deur die filmvervaardiger Ian Halperin. Daarin word beweer dat die skrywer twee mans, onder wie ’n kelner wat MJ bedien het, opgespoor het met wie Jackson verhoudings gehad het. Dit terwyl die man nog nie eers behoorlik begrawe is nie! Lees meer daaroor hier. Sprake dat MJ deur ABBA vervang gaan word vir die 50 Londense konserte by die O2-arena, blyk egter vergesog te wees.
Foto en grafika: CNN http://www.cnn.com

5. Annemi O is ’n nuwe lesbiese digteres wat onlangs gedebuteer het met ’n pragtige bundel erotiese gedigte getiteld The Incredible Ripeness of Being. Lara van Rooyen het dit onder oë gehad en skryf daaroor in die Mei-uitgawe van Gayspeak. Kopieë kan direk bestel word by Annemi te annemi@lantic.net of is verkrygbaar by Exclusive Books.

6. Die BBC-realiteitsreeks Any Dream Will Do, aangebied deur die flambojante (en ja, natuurlik gay!) Graham Norton, het so pas ten einde geloop en Lee Mead is as die wenner aangewys. Dit was ’n skouspel van pragtige jong mans wat net so mooi sing ook. Dit sal maar sukkel om ’n kamper program op TV te vind en dit het derhalwe gesorg vir ’n baie groot gay-gehoor. Selfs die laaste nommer deur die wenner is in ’n Josefskleed gelewer, wat niks anders as ’n mooi-gesnyde gayvlag was nie. Ons sien daarna uit om meer van Lee te hoor! Lees meer daaroor hier.

7. Die nuwe Wrapped-tydskrif is op die rakke, met die tema “In search of enlightenment". Die uitgewer, Morné Ebersohn, sê: “While sections of Wrapped are infotainment, we pride ourselves on not being scared of confronting the issues which the gay community deal with and are affected by such as spirituality and religion.” Kry ’n kopie by Exclusive Books of skryf aan willie@wrappedmag.com. Die webwerf is hier:. www.wrappedmag.com

8. Durban se gay-“scene” het uiteindelik weer ontwaak met die opening van ’n nuwe gayklub, Club Barazz. Daar word net goeie dinge gehoor – sover. Kom ons hoop dit gaan goed met dié klub sodat jy darem ’n plek het om te gaan dans as jy besluit om weg te breek van die koue in Gauteng en Durban se strande gaan opsoek. Lees Tyrone Nell se krit oor die klub hier.

9. Daar is geluk by die ongeluk met die sluiting van die deure van Oh! Bar in Melville, Johannesburg. Madison’s Fiasco is die naam van die nuwe “cocktail lounge” wat oopgemaak het waar Oh! Bar was, op die hoek van 4de Laan en Mainstraat, Melville. Die openingsaand was 4 Julie en was glo ’n groot sukses. Gaan kyk op die Facebook-groep vir meer inligting hier.

10. Joburg Pride het die tema vir 2009 bekend gemaak, naamlik “You Need Pride”. Dit sal die 20ste herdenking van die grootste gayfees in die land wees en vind op 3 Oktober 2009 by Zoo Lake plaas. Die organiseerders, die Joburg Gay Pride Festival Company, beloof die grootste gayfees nog in die geskiedenis van Suid-Afrika. Vind meer uit op die webblad http://www.joburgpride.org/ of kontak vir Natasha by natasha@joburgpride.org oor stalletjies en vlotte of algemene navrae.

 

Daarmee die eerste aflewering van die Pienk Dossier op LitNet. Bydraes kan gestuur word aan coenie@gayspeak.co.za vir oorweging. Ons beoog om so elke twee weke te verskyn.