Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Bes Mostert, die jong juffrou


Susan la Grange - 2009-07-02

Bes Mostert, die jong juffrou

Dit was gedurende die Depressiejare. Al wat kind was, wit of bruin, was maar skamel gekleed en kaalvoet. Daar was nie werk vir die ouers nie en dus geen inkomste nie. (Hoe dat ons ouers nog groot gesinne kon grootmaak, weet ek nie.)

Op skool het juffrou Bes altyd die beste presteerder in die klas met ‘n geskenkie vergoed. Die dogters het gewoonlik ‘n selluloïde-poppie gekry.

Malie was min of meer in graad 4 (destyds standerd 2) en so nege jaar oud. Tuis het haar ma haar gereeld aangemoedig om bedags haar skoolwerk te doen sodat sy ‘n kans sou hê om die gesogte poppie te kon wen. Sy het dan ook getrou en met groot ywer haar huiswerk gedoen. En toe kom sy tot haar eie verbasing eerste in die klas!

Juffrou Bes het Malie gelukgewens en beloof om so gou as moontlik vir haar haar poppie te koop.

Malie was nie ‘n beskroomde kind nie, en steek haar hand op.

"Ja, Malie?" vra juffrou Bes. "Wat skort?"

"Juffrou," sê Malie, "ek is nou baie bly dat ek eerste in die klas gekom het, maar gee my liewer ‘n pond wit suiker."

Jufrou se mond val behoorlik oop van verbasing. "Kind, nou hoekom suiker?"

En Malie antwoord: "Juffrou, by ons word net bruin suiker gebruik. Ma sê dis goedkoper. Ek en my broers ken glad nie wit suiker nie. Ons kan dit op pad huis toe alles opeet." (Die bruin suiker van destyds was algemeen bekend as goewermentsuiker.)

Juffrou Bes het dan ook die winkelklerk gevra om vir haar ‘n pond wit suiker af te weeg. Die suiker is met groot vreugde ontvang saam met "Dankie, dankie, Juffrou!"

Daardie middag op pad huis toe sal Malie en haar drie boeties nooit vergeet nie. Dit was November en hul kaal voete het gebrand op die warm sandpad. Hulle het dankbaar onder die naaste boom gaan staan. Malie hou die papiersak suiker vas terwyl Boetman die toutjie loswikkel. Toe staan hulle bakhand en wag dat Malie elkeen se handholte met die heerlike soetigheid vul. Alles opgelek, dan stryk hulle vinnig verder aan tot by die volgende koelteboom. Taai hande het hulle nie gepla nie. Die fyn wit suiker was onbeskryflik heerlik.

Toe hul die papiersak by die laaste koelteboom uitskud, en nogmaals skud om seker te maak dat die laaste korrel wit suiker uit die papiersak is, neem hulle uiteindelik behaaglik die laaste lek in die hand en drafstap vinnig, tevrede en gelukkig huis toe.


Naskrif: Malie is ‘n denkbeeldige naam; ek ken nie haar regte naam nie, en weet ook nie hoeveel broers daar was nie. Ek hoop nie daar is besware nie.

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<