Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Kristin Scott Thomas lewer ʼn kragtoer in I’ve loved you so long


Suzette Kotzé-Myburgh - 2009-07-02

I’ve loved you so long (2008) 
Frans met Engelse onderskrifte
Spelers: Kristin Scott Thomas, Elsa Zylberstein, Serge Hazanavicius, Laurent Greville, Frederic Pierrot
Regisseur: Philippe Claudel
 
 
 


’n Vrou wat vaal en verwaarloos lyk, sit en wag in ’n kleinerige lughawegebou. Sy rook senuagtig, ’n siniese trek om haar mond. ’n Mooi, jong vrou kom vinnig aangery, parkeer en draf die gebou binne. Die twee groet; die atmosfeer is styf en ongemaklik. Die jonger vrou probeer uitreik, terwyl die ouer een koud en onbetrokke is.
 
Só begin die verhaal van twee Franse susters, Juliette (Kristin Scott Thomas) en Lea (Elsa Zylberstein). Hulle het mekaar vyftien jaar laas gesien. Lea was nog ’n tiener toe Juliette tronk toe gestuur is, en hulle het intussen net een keer kontak gehad. Ná haar vonnis het Juliette se ouers haar volkome uit hulle lewe gesny.
 
Die tronkowerheid het gereël dat Juliette na Lea gaan wanneer sy uitkom, en omdat Juliette desperaat en sonder heenkome is, moes sy dit aanvaar. Lea se man wil haar nie daar hê nie (“Sy’s ’n gevaarlike misdadiger!” is sy woedende reaksie) en hulle aangenome dogtertjie van agt vra ongemaklike vrae oor dié tante van wie sy nog nooit gehoor het nie.
 
Die kyker word stadig ingetrek in Juliette se lewe; jy ontwikkel heel ongemerk simpatie met die emosielose vrou wat uit niks, en veral teen die vooroordeel van die gemeenskap in, ’n nuwe lewe moet probeer skep. Vir só lank was sy afgesny van alles en almal – in die tronk het hulle haar “the absent one” genoem.
 
Nou word sy teen wil en dank gedwing om weer kontak met mense te hê. In ’n treffende toneel vroeg in die fliek het sy seks met ’n man wat sy in ’n kafee gesien het – asof hierdie mees basiese (en bykans woordelose) samesyn met ’n totale vreemdeling die enigste interaksie is waartoe sy in staat is. Ook moet dit op ’n manier aan haar bevestig dat sy léwe.
 
Watter misdaad kan so ernstig wees dat ’n vrou tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis word? Dís die tergende vraag wat die spanning vir die kyker tot die einde volhou.
 
Dis al ’n oorwerkte cliché om ’n akteur se vertolking as ’n “kragtoer” te beskryf, maar Kristin Scott Thomas se spel is presies dit. Sy het al in soveel rolle geskitter, maar sy oortuig volkome as ’n vrou wat onbeskryflike ellende gely het, maar alles stoïsyns deurstaan deur haar emosies eenvoudig af te sluit.
 
Elsa Zylberstein gee ’n pragtig simpatieke vertolking as die vrou wat haar suster werklik liefhet en wat op haar beurt veel verloor het. Op haar manier het sy ook gely deur dit wat met Juliette gebeur het. Mense wat berading oor dwelmverslawing doen, sê dat ongeveer negentien lewens rondom die verslaafde geraak word. In hierdie geval is dit nie soveel nie, maar dis tog duidelik dat geen mens volkome op sy eie kan bestaan sonder dat dit enigiemand anders raak nie.
 
Hierdie sensitiewe en veelbekroonde film is fynproewer-rolprentkuns. Pak maar die sakdoeke in …