Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Sergei en Anya


Francois Loots - 2009-07-01

Ons het die Oeralgebergte gedurende die nag oorgesteek en die volgende oggend het 'n plat, uitgestrekte wêreld ons ingewag. Moeraslande, plek-plek herfswoude, klein gehuggies. By die wa se deur was 'n rooster met dié plekke waar die trein altyd stilhou. Maar die lug was oortrokke, die hemele het hulle sluise ook oopgetrek en by die daaropvolgende plekke het niemand sy bene gaan strek nie. Van die jong mans het in die eetwa se kroeg gaan sit, maar die res van ons het klein groepies gevorm. 'n Paar vriende, 'n gesin, vreemdelinge wat 'n paar dae lank 'n afskorting met ses beddens moes deel. Kos is uitgepak, geselsies. Sommige het sit en kaart speel, maar met 'n oog op die treinwa se vensters.

Buite het dit aanhou sous.

Die weer het almal aan die praat gehad en met my aankoms het een van my kollegas my met slegte nuus ingewag. "Jou kamer is onder water," het hy gesê.

Ons het nogtans daarna gaan kyk; 'n blyplek op die grondvloer van 'n twaalfverdiepinggebou. Die voorportaal en klein kombuis was klam, terwyl die kamervloer 'n paar sentimeter onder water was.

Dit gebeur altyd gedurende die herfs. Plekke staan onder water, die strate is die ene modder en almal wens dat winter wil aanbreek. Die kollega het my 'n sitkamerbank vir die aand aangebied - en ek het Anya eers die volgende middag ontmoet, vir namiddagtee.

Met pizza, roomkoek - en vodka.

Sy was 'n blondine, maar haar gekleurde hare het my eerste opgeval. En haar groot liggaamsbou: die kragtige, breë heupe wat dit verg om daardie wêreld te tem.

Buite was die strate vol modder, maar binne is ons 'n dik pizza voorgesit; lae kaas, tamatie, ham, salami en mayonnaise. Ons het dit reggekry om die vodka vry te spring en ná 'n tweede sny pizza het ek 'n blyplek gehad. 'n Kamer in Anya se ruim woonstel, op die tiende en boonste vloer van 'n langwerpige grys woonstelblok.

Dit gebeur altyd. Daar was 'n oorstroming, 'n pad is toegesneeu, 'n dak het onder die gewig van ys meegegee, maar 'n plan word gemaak, iemand kom jou tot hulp.

Daardie keer was dit Anya; 'n kamma-blondine met rooi lippe en ligbruin oë. En sy was groot. Swaar maaltye, drie maal per dag. Pap, eiers, gebraaide salami, pasteitjies, kaas en brood vir ontbyt. Middagetes het ek vrygespring, maar wanneer ek saans ná werk huis toe gegaan het, het iets soos borsjt-sop, 'n Siberiese salm-en-aartappelgereg, hoender en tamatie-en-mayonnaise-slaai my ingewag.

"Kom sit," sou sy vanuit die kombuis roep terwyl ek my sambreel weggesit en my jas en modderige stewels uitgetrek het.

Die kos was heeltemal te veel, maar daar was min wat ek daaromtrent kon doen. Ek was immers in Siberië. Daar word nog geglo dat mans die wêreld beheer. Hulle voer oorloë, ontgin olie, jag bere en tiere en raak in kroeë dronk, maar tuis dra die vrou die broek.

En wanneer sy sê dat dit etenstyd is, dan is dit so.

Gelukkig was daar dikwels ander mense. Soos haar twintigjarige seun, alhoewel ek hom ná die aanvanklike ontmoeting vir dae lank skaars gesien het. 'n Niggie of 'n neef. 'n Vriendin wat op die platteland woon en vir inkopies stad toe gekom het. Of iemand wat vir 'n identiteitsdokument of paspoort wou aansoek doen. Hulle was dié wat ná nabygeleë Kazakstan se onafhanklikheid Rusland toe getrek het, maar eers hulle dokumente in orde moes kry. Anya het vryskut gewerk; aan die kombuistafel iets te ete aangebied terwyl sy vrae gevra en die een ná die ander vorm ingevul het. En daarná by Binnelandse Sake gaan toustaan het.

Die voortdurende kom en gaan het dit makliker gemaak om die groot maaltye baas te raak. Sy was te besig om te sien wat jy eet, of daar was iemand anders wat saam moes eet, maar soms het jy geen keuse gehad nie.

En dit gebeur altyd: ek het een aand huis toe gegaan, skaars my mus en serp afgehaal of ek was aangepor kombuis toe. Die ligte was gedemp, die tafel gedek, 'n rooi kers het geflikker - en Anya se niggie het aan tafel gesit en verleidelik geglimlag.

Daar was twee ander, 'n vriendin en haar man, maar ek was veronderstel om net van die niggie notisie te neem en is na 'n stoel langs haar toe aangepor. My oog het op 'n bottel vodka geval. Vodka bied altyd 'n uitweg; 'n manier om tyd te wen en daardeur gebeure in 'n ander rigting te probeer stuur. Dit begin by 'n heildronk, 'n tweede volg, 'n verdere, en voor jy jou weer kom kry, is die beplande romanse waarop julle 'n rukkie gelede 'n heildronk gedrink het, reeds vergete.

Ek onthou min van sulke vodka-aande. Op die een of die ander stadium - dit onthou ek wel - het ek by die woonstel uitgegaan. Daar was 'n portaal, die bure se voordeur, die hysbak - en 'n stel trappe wat na die dak toe gelei het. Net voor die laaste paar trappies op na die luik toe was daar 'n trapportaal en 'n breë venster wat oor die stad uitgekyk het.

En ek onthou hoe iemand sy hand op my skouer gehad het toe ek laataand oor die toiletbak moes buk. Dit was die vriendin se man; toe ek weer orent gekom en hom in die oë gekyk het, was daar 'n kilheid omtrent sy besorgdheid. En ek was bly dat ek naar geraak het; in Siberië is dit altyd 'n aanduiding dat die aand tot 'n einde kom, wanneer iemand naar raak.

Terug aan tafel het ons almal plegtig gesweer dat ons nooit weer soveel sal drink nie.

"Miskien moet jy nog 'n klein slukkie neem," het die niggie nogtans voorgestel. "Om jou maag te kalmeer."

"Elena!" het Anya gemaan, maar ons het almal haar voorstel in ag geneem en die wysheid daarvan ingesien.

Daardie nag ... Ek was opeens wakker en het orent in my bed gesit. Met die onverklaarbare wete dat sy naam Sergei was. Sergei, die man wat ek in 'n droom vir 'n vlugtige oomblik lank langs my gespeur het. Hy't sy hand op my skouer gehad, maar was terselfdertyd so naby aan my dat ek sy asem op my gesig kon voel.

Dit kon nie wees nie. Nie in Siberië nie, en ek het my vererg, opgestaan en in die kombuis 'n glas water gaan drink. Die vermetelheid daarvan! het ek aan die kombuistafel sit en dink. Om my gedurende die nag skrik op die lyf te kom jaag!

Maar die dae daarná was onverwags moeilik. Keer op keer het ek in my geestesoog gevoel hoe iemand my van die toiletbak af help orent kom het en hoe ons twee, steeds gehurk, mekaar reg in die oë gekyk het. Maar dan het ek die kilheid van sy blik onthou en my vertel dat hy nieteenstaande die vodka terughoudend was, selfs 'n greintjie agterdogtig.

Nogtans het ek begin oplet of ek hóm nie dalk tussen die daaglikse gesigte sou kon eien het nie. Vir Sergei; soggens op pad werk toe, maar op die bus weef almal hul altyd in 'n kokon van stilte en introspeksie toe. Ek moes net ná die derde Leninstandbeeld in die lang hoofstraat afklim - en by die werk, die raffinadery se hoofkantoor, het ek hom in die gesig wat my oor my lessenaar aangekyk het, aanhou soek. Maar onder die aanslae van die seisoene verouder die mans in Siberië vinnig en is hulle gesigte moeilik om te lees. Of ná werk saam met 'n paar kollegas by 'n straatkroeg, maar ook dit kon nie wees nie. Soos ek, was my voorganger by die werk ook 'n geskeide man en het eendag in 'n hospitaal met 'n gebreekte neus en ribbes wakker geword.

"Ons was eens 'n groot volk," het 'n kollega gesê toe hy my van hom vertel het. "En 'n internasionale beweging. 'n Mens sou dink omdat hy 'n Oos-Duitser was ..."

Hy't nie sy sin voltooi nie, 'n argelose handgebaar gemaak en my vertel dat hy hom van mense onttrek het.

Ek het niks gesê nie, maar my bly vra of dit die gewone aanval op 'n buitelander was - en of hy, 'n geskeide man, roekeloos opgetree het.

Maar om jou van mense te onttrek?

Nie tuis nie, want Anya was aan die pak vir 'n naweek in die nabygeleë Altaiberge.

Vyf van ons. Anya, haar seun, die niggie Elena en die nuwe man aan haar sy, Joritz, 'n militz, of polisieman. In sy oorvol Toyota, 'n gesogte motor. En daar was 'n tweede motor, 'n Lada, ewe oorvol met vyf ander wat ook saamgegaan het.

Dit was by 'n halfpadstop, 'n garage met 'n koffiekroeg, waar ek besef het wat aan die gebeur was. Daar was koffie en 'n klein glasie vodka, en Anya se aandrang daarop dat ek langs haar moes sit, asook die oordrewe aandag wat sy aan my geskenk het, het boekdele gespreek.

Sergei! het ek behoedsaam gedink. Maar ek kon juis nie aan hom dink nie. En omdraai was daar nie.

Ons het in 'n houthuis gebly, langs 'n diep en vinnig-vloeiende bergrivier. Laatmiddag het ek uitgegaan en op die rivier se wal gaan staan. Ysige water wat vanaf die berge na die onderliggende valleie toe stroom, die lug deels bewolk en 'n bitsige wind wat net sowel dié van die winter kon wees. En ek het 'n arend gewaar, 'n rare bergarend, en toe ek opgewonde omgedraai het, asof daar iemand sou wees vir wie ek dit kon vertel het, het ek Anya se seun, Anton, gesien. Hy en een van die meisies wat saam met die ander motor gekom het, het hande gehou en in die teenoorgestelde rigting geloop.

Dalk was dit die arend wat my later teruggeroep het, want ná aandete het ek ten spyte van die donkerte weer op die wal gaan staan. Die wind was nog bitsiger as voorheen. Op die oorkantste rivierwal het ek vir 'n oomblik lank 'n voertuig se ligte gesien voordat dit die donkerte in verdwyn het, en meteens was Anya langs my. Haar jas se kraag was omhoog geslaan en sy't met een hand haar serp styf teen haar nek vasgedruk; 'n gebaar wat keer en beskerm. Tog het hierdie gebaar, tesame met die glimlag in haar oë, eerder van die teenoorgestelde getuig.

Ek het vermoed dat sy haar beloning vir die aandag wat sy deur die dag aan my geskenk het, kom haal het. Maar ek het van haar af weggedraai; voor ons die rivier met sy vinnige vloei na waarheen ons vandaan gekom het.

"Ek het nou net 'n motor gesien," het ek gesê. "Aan die oorkant."

Dit was 'n sinnelose ding om te sê, maar 'n paar woorde, saamgeryg tot 'n sin, bied net soveel afleiding soos 'n glasie vodka en dis seker hoekom ek weer na haar toe gedraai en haar uit die bloute gevra het of sy ooit 'n man met die naam van Sergei geken het.

Sy moes 'n hele paar Sergeis geken het. Sy kon gesê het dat sy al so baie van hulle raakgeloop het. 'n Ou kameraad, een van Anton se skoolmaats, 'n man iewers in die woonstelblok, iemand vir wie sy om 'n paspoort moes aansoek doen; maar haar gesig het meteens verstrak en haar oë het van my af weggedraai en stroomaf gestaar. Daar dien die berge as oorsprong, die plek van heenkome, en dit het op daardie oomblik gevoel asof ons oor geslagte van voormoeders staan en terugkyk het.

"Hoekom is jy geskei?" het sy gevra sonder om na my te kyk.

Sergei weet hoekom. Pederast! Moffie! 'n Enkele woord en jy verloor alles. Ek was kamma 'n geskeide hetero omdat sy my op straat sou sit, omdat ek onmiddellik my werk sou verloor, omdat ek op die volgende trein sou moes klim. Dis wat ons doen; in 'n oogwink gee jy alles op, gee pad, vlug. Miskien voel jy ná so 'n oogwink so vry soos 'n bergarend, maar daar langs die rivier was die wind ysig, 'n tyding van die komende winter, en ek het haar van my lewe tot tóé vertel, van 'n lewe wat ek nooit gelei het nie. Van my gewese vrou, 'n joernalis, 'n vrou met 'n loopbaan en ambisie, 'n vrou wat altyd daarop uit wou wees om gesien te word.

Ek was bewus daarvan dat die beeld wat ek geskep het, na Anya se wense was. Sy het gefrons wanneer vrouens ambisieus was en opspraakwekkende loopbane gehad het. En dit was regtig koud daardie aand, 'n lang winter het voorgelê en die seisoene laat jou geen keuse nie.

"En jy?" het ek gevra.

Sy't haar kop ontkennend geskud. Om so 'n ruim woonstel op die boonste verdieping van 'n gebou te kon bekom, moes haar gewese man hoog geplaas gewees het. En ek huiwer om dit te sê, maar daardie ontkennende kopskud het my na haar toe laat uitreik. Ek het my arm om haar skouers gesit.

"Die wêreld het verander," het ek gesê.

Sy't haar kop het teen my skouer gelê, maar dit weer ontkennend geskud.

"Kom," het ek gesê, my arm terug getrek en omgedraai. "Die wind is koud."

Daardie aand - en die aande daarná - het die kos onmiddellik meer geword. Vir aandete was daar dikwels 'n vis-en-aartappelgebak, met iets soos sop, boontjieslaai, snye ham en koue vleis, kaas, haring met suurroom. Of koolsop, 'n bredie met rys, hoenderboudjies, pasteie en een van die herfs se laaste komkommers met mayonnaise. Al was daar dikwels iemand om saam te eet, het die meeste van die kos oorgebly. Die volgende aand sou daar nietemin nuwe disse wees.

Ek het my kollegas om raad gevra.

"Dis Siberië," het hulle laggend geskerts. "As sy sê eet, dan eet jy."

Een aand toe net ek en Anya tuis was, het haar houding my opgeval. Daar was 'n trots aan haar manier van doen, met die een dis ná die ander op tafel, met haar oë wat goedkeurend oor die tafel gevee het voordat sy onthou het dat sy 'n bordjie agurkies of tandestokkies vergeet het.

Dit was die wêreld wat sy geken het, het ek geraai. 'n Tafel vol kos, met die een ná die ander kameraad wat kom inloer het om 'n ooreenkoms te kom bekragtig. Of vriendinne met hulle honger kroos, soms om 'n gunsie te kom vra en só 'n familielid uit die moeilikheid te probeer kry. Aan tafel het dit vir 'n rukkie lank nie saak gemaak dat haar man van haar geskei en na die Siberiese hoofstad Novosibirsk toe getrek het nie, dat haar dogter in verafgeleë Moskou gaan werk het nie, dat haar seun op 'n meisie vanuit 'n ander stad verlief geraak het en skaars tuis was nie. Aan tafel kon sy haar vir 'n rukkie verlustig aan 'n bekende.

Voordat alles verander het.

Maar selfs ontbyt het die illusie help behou - en wanneer ek nie saam met kollegas iewers was nie, was my naweke meteens gereël. Met die bus saam met Anya winkels toe, sy met een hand voortdurend by my elmboog ingehaak. Ek was 'n chaperone, maar skielik het dit my gevoel dat Sergei orals teenwoordig was. In die manier waarop Anja aangedring het dat ek eerste by die bus moes uitklim, voordat ek moes omdraai om my hand vir haar as stut aan te bied. In die manier waarop ek 'n deur vir haar moes oopmaak, haar eerste by 'n ingang moes laat ingaan. In die koffiekroeë; in die manier waarop die mans daar 'n stoel vir die vrou uittrek en wag dat sy eers gaan sit, in die wyse waarop hulle die spyskaart neem en vír haar bestel. In die spel wat hulle aan die speel was, met hulle aandag op so 'n oomblik net by haar.

'n Gevoel van paniek het my soms soggens werk toe begelei, of skielik deur die loop van die dag opgeduik. Al het ek begin om werk huis toe te neem sodat ek saans 'n verskoning sou kon hê om my na my kamer toe te kon onttrek, het ek die paniek verklaar as 'n gevoel wat deur die komende winter teweeggebring is. Ons was immers vir die winter aan die voorberei. Ons het pelssole vir die binnekant van ons stewels gaan koop, met Anya se hand by my ingehaak. Baadjies met dik voerings is uitgehaal en afgestof en sy het 'n hele paar sakke aartappels by 'n kleinboer bestel. Toe ek een Vrydagaand tuis kom, was die voorportaal vol aartappelsakke. Anton was tuis en ons moes dit die volgende oggend na die kelder toe dra. Juis daardie oggend het die hysbak besluit om mee te gee en ons moes die een sak na die ander trap af dra. Tien verdiepings - en 'n verdere stel trappe af na die kelder toe. 'n Lang gang met afskortings, een vir elke woonstel, elk vol ingelegde kos en aartappelsakke.

Ek het spanning tussen Anya en Anton gespeur. Maar wat ook al die oorsaak van hulle geskil, hulle het dit van my weerhou.

Ek het wel na my veronderstelde blyplek gaan kyk. Dit was per slot van rekening die plek waar ek volgens my registrasiepapiere gebly het. Die voorportaal en kombuis was steeds klam en met die temperature snags reeds onder vriespunt, het die plek se personeel my kamer as koelkamer gebruik.

"As die winter eers hier is," het die opsigter gesê, "sal ons nie meer ons melk en goed hier kan los nie."

"Nee?"

"Dit sal mos vries," het hy met 'n argelose skoueroptrek gesê. En 'n blyplek was dit beslis nie.

Die winter het skielik toegeslaan. Die gewone oorgangsperiode van ysreën en nat sneeu het daardie jaar om die een of die ander rede nie gebeur nie, want in 'n oogwink was die temperatuur minus twintig.

Die geboue se verwarming is onmiddellik by die een of die ander kragstasie aangeskakel en die verskil in temperatuur vanaf die bushalte reg voor ons gebou tot by die woonstel op die tiende vloer was meteens 'n goeie veertig grade.

Tuis het jy eers kamer toe gegaan, jou klere uitgetrek en weer in 'n onderhemp en kortbroek verskyn. Anton het in net sy onderbroek rondgeloop; soggens het Anya in 'n half deurskynende japon in die kombuis verskyn. Buite het die temperatuur na die minus dertigs toe gemik, die sypaadjies was glad geys, ys het onder geute en balkonne begin vorm, maar vir die hitte tuis was ek nie voorbereid nie.

Ek het steeds van Sergei bly droom, nag ná nag. Ek het my nie eers probeer teësit nie, want dit het gevoel asof sy verskyning onwillekeurig geskied het, ongeag my samewerking al dan nie. Soos baie Siberiërs van gemengde afkoms, het die man wat snags verskyn het, ook donker hare gehad. Dik wenkbroue, 'n breë gesig met prominente en stoppelrige ken en wangbene, en een keer het ek my in die middel van 'n nag op die trapportaal onder die dak bevind. Buite het 'n ligte wind sneeuvlokke soos motte om 'n kers rondgewaai en ek het my hand keer op keer teen die venster en dan teen my nek gedruk. Oor my gesig, op my skouers ook; kon die hitte net sy lê kry!

Bedags het die koue my wel beetgekry. Vanaf die bushalte na die derde standbeeld werk toe, as jy vir werk moes rondhardloop, vanaf 'n winkel terug bushalte toe - oomblikke wanneer jy gevoel het dat die koue jou energie met elke tree opgevreet het, Anya se maaltye nieteenstaande. En wanneer die wind gewaai het, het dit by elke moontlike opening ingesny en ys- en sneeuvlokke soos growwe sand oor jou gesig bly vee. Maar toe die temperatuur die eerste keer tot onder die minus veertigs gedaal het, het ook die wind sy lê gekry en 'n digte mis sy intrek oor alles geneem. 'n Verdowende stilte ook, asof koue klank nie kan dra nie, met die sypaadjies goed genoeg vir ysskaats, lang ysstange wat van bome, dakke en balkonne af gehang het, en dit het gewoonte geraak om af en toe voor die venster op die trapportaal te gaan staan en oor 'n yslandskap uit te kyk.

En dit het gevoel asof ek Sergei orals begin sien het. Op straat; twee mans het elk met 'n arm om die ander se skouer verby my geloop, hardop gelag, en vir 'n oomblik lank het ek my verbeel dat dit hy was. Sy donker hare en swaar wenkbroue. Ek het in my spore gestol en teruggekyk, maar dit was nie hy gewees nie. Die Sergei wat snags verskyn het, was effens ouer as hulle. En toe ek een Saterdag saam met kollegas in die banya, die munisipale sauna, was, was daar 'n groep soldate wat ook kom sweet, was en skeer het. Hulle het in die eerste vertrek met handdoeke om die heupe om gedroogde vis en vodka sit en skerts en ek het hom tussen hulle gewaar. Dit wás hy, dit móés hy gewees het; sy donker hare, sy van nature gespierde arms, sy harige bors. Ek wou uitroep, maar ek moes my dit verbeel het, want opeens was daar niemand waar hy gestaan het nie. Sergei; in 'n koffiekroeg het ek dikwels 'n stem gehoor en was oortuig daarvan dat dit syne moes wees, maar wanneer ek omgedraai het, was dit 'n blonde Rus of iemand wat glad nie soos hy gelyk het nie.

Sergei; hoe meer ek van hom probeer vergeet het, hoe minder was ek daartoe in staat. Wanneer ek in 'n supermark tougestaan het om te betaal, het ek onwillekeurig omgedraai om na die mansgesigte agter my te kyk; of in die bus opgestaan en na vore beweeg om 'n man van voor te kon sien. Teen my beterwete kon ek die idee van sy bestaan nie afskud nie.

Een aand het ek reguit na die trapportaal toe gegaan voordat ek die woonstel aangedurf het. Ek het oor die yslandskap staan en kyk en my vertel dat ek goed doen. Dat ek my werk te bowe gekom het, die weeklikse sperdatums goed behartig, 'n blyplek gehad het, geld kon spaar, maar my oor hierdie beheptheid met 'n nagtelike droombeeld staan en berispe. Dan kon ek net sowel iets so absurd doen soos om by elke tweede standbeeld in die hoofstraat na 'n oorblyfsel van Vladimir Ilyich te gaan soek - en die luik het van buite af oopgemaak. Dit was Anya. Sy't afgeklim, met haar rug na my toe. Waar sy op die trapportaal omgedraai het, het sy reguit in my vasgekyk. "Ek gaan staan soms hier bo," het sy met ontwykende rooi oë gesê, maar hartseer het haar oorkom en sy het haar woonstel toe gehaas.

In die voorportaal het ek in Anton vasgeloop. "Ek gaan uit," het hy nors gesê.

Ek en Anya het daardie aand alleen geëet. Vir die eerste keer was daar geen vars gereg nie, maar net oorskietkos. Wat ook al ek probeer regsit het, het geen effek op haar gehad nie, maar vodka het gehelp. Ná 'n paar glasies het sy hardop asem geskep en my vertel dat Anton wil trou. "Dan sien ek hom nooit weer nie," het sy gevrees. "En my man ..." - maar selfs daardie aand het sy nie 'n verdere woord oor hom geuiter nie.

Alhoewel sy daardie aand ná die vodka begin praat het, was dit oor niksseggende goed. Sy't my vertel hoe hulle as kinders huise uit sneeu gebou het ("met 'n kombuis en kamers," het sy gesê), en hoe so 'n pophuis 'n hele winter lank sou staan. En hoe hulle as 'n groep jong pioniere tydens die lente eenkeer op 'n weke lange staptog gegaan het. "Ons het gesing," het sy gesê. "Patriotiese liedere, so ver as wat ons geloop het, maar nou?"

Wat kon ek sê? Dat haar seun haar nie ook sou verlaat nie?

Ek het daardie nag onrustig geslaap. In 'n droom het ek Anton deur die woonstel sien loop, met net sy onderbroek aan, ten spyte van 'n massiewe ereksie. En Sergei was skielik langs my; ek het hom teen my nek gespeur, hygend hoor asemhaal en 'n beer op die bergrivier se wal gesien. Hy't op sy maag gelê, sy heupe teen die wal se harde klip aan die skuur, en ek het hom by my kamerdeur sien inkom. Maar toe ek die volgende oggend wakker word, was ek nie seker of dit die beer was, of Anya nie.

En buite het opnuut 'n storm gewoed. Die ysige wind, ys en sneeu, en voordat jy soggens die pad aangedurf het bushalte toe, het jy eers diep en moedig asemgeskep.

Daar was niks wat ek omtrent Anton se trouplanne kon doen nie en moes dinge doodeenvoudig hulle gang laat gaan. Hulle hét ook, want toe ek daardie aand tuiskom, was haar niggie daar. Hierdie keer gelukkig nie vir 'n kersligete nie, want sy het Joritz, haar militz-vriend, saamgebring. Hy't Anya die Manifes oor Seuns en Trouplanne voorgelees, maar ek kon sien dat sy nie werklik notisie geneem het van wat aan haar gesê is nie. Vodka het ook daardie aand die gemoedere gelig, veels te hoog, want ek het Sergei skielik en onverwags teëgekom. Waar ons twee tydens die naweek berge toe skaars van mekaar notisie geneem het, het ek en Joritz laat daardie aand ons elmboë om mekaar s'n gehaak om elk só 'n glasie weg te slaan. Bloedbroers, dis wat ons ná so 'n ritueel sou wees, 'n broederskap wat met 'n kus geseël moes word. Sy asem was so verrot soos myne, maar op daardie oomblik het dit meteens gevoel asof Sergei reg voor my was.

Dalk het ek net een glasie te veel gehad, want ek het skielik die aand se drank in my keel voel opstoot. Of dalk het ek doodeenvoudig geskrik, want jy word op straat gesmyt en word drie dae later in 'n hospitaal wakker.

"Eet iets!" het Elena geskree en 'n sny brood met 'n dik laag botter op in my hand gestop.

Ek het die brood geëet, verlig omdat hulle my gedrag aan vodka toegeskryf het. Maar daardie nag het ek gedroom hoe Joritz my by 'n goederetrein se leë wa ingelok het. Sergei was daarbinne, daarvan was ek oortuig, maar dit was te donker om hom te kon sien. Iemand het wel 'n hand op my nek gelê, 'n harige bors het teen myne gedruk, ek het 'n warmte teen my voel pols, maar dit het gevoel asof ek in twee geskeur gaan word, en meteens was ek wakker en het orent in my bed gesit.

Ek kon daardie nag nie meer slaap nie en het my weer op die trapportaal bevind. Voor my het die stad lewensloos uitgestrek, buiten vir aanhoudende vlae sneeu. Nietemin kon ek in my geestesoog die swart horisonlyn ver, ver weg sien. Ek het aan die berge staan en dink, aan 'n plek waar ons almal vandaan kom. Ek het moeg gevoel en wou daar wees, weg van alles.

Ek het die volgende oggend beneweld gevoel toe ek aan die ontbyttafel gaan sit het. Ten minste het die aand 'n effek op Anya gehad. Al het Anton die vorige aand nie huis toe gekom nie, was die tafel vir drie gedek, met kos vir vele meer. Eiers, ham, verskeie soorte kaas, gebraaide salami, maaskaas gemeng met suiker, gestoofde vrugte, varsgebakte pasteie. Sy't twee groot borde kos opgeskep en meteens was dit vir my te veel. Die kos, maar ook veel meer as net die kos - en ek het die bord aptytloos aangekyk.

Ek het haar iets hoor sê en toe ek opkyk, het sy reguit op my afgepyl. Sy't my kop in haar hande geneem en vooroor gebuk.

Ek het gekeer; 'n onwillekeurige refleks van my arm.

En sy het omgedraai en by die kombuis uitgeloop.

Ek het iets probeer eet en ná 'n rukkie besef dat sy nie terugkom tafel toe nie. Ek het dit daar gelaat. Dit was 'n kans om die kos te ontduik en 'n paar oomblikke later het ek gang af geskree dat ek op pad is.

Tog het 'n ongekende gevoel my deur die dag begelei. Ek het daaraan bly dink dat sy van haar kos af weggedraai het. Teen middagete was ek oortuig daarvan dat dit iets moes beteken. En toe ek daardie aand met die bus op pad terug huis toe was, het ek besef dat iets verkeerd moes geloop het. Hoekom sou sy haar rug op 'n maaltyd draai, sy van alle mense?

Anton het my in die voorportaal ingewag en wou my onmiddellik spreek. In die kombuis, sonder sprake van Anya. Alhoewel die gesprek oor haar gehandel het.

"Hoekom het jy my ma geslaan?" het hy kwaad en dreigend gevra.

Ek was verstom.

"Jy het," het hy aangedring.

'n Tirade het gevolg; oor hoe ek my nie by my omgewing wil aanpas nie en voortdurend my neus op sy ma se kos bly draai. Ek het nie teëgepraat nie. Dit sou sinneloos gewees het. Agter Anton het 'n menigte gestaan: die bure, 'n niggie, 'n militz, vriende, en ek het stil na sy teregwysings sit en luister - en daarna het ek my weer voor die venster by die trapportaal bevind.

Ten minste het dit verligting gebring, want die storm het in 'n handomkeer sy lê begin kry. Kol-kol was die lug reeds oop - en ver weg het die berge se swart horisonlyn my lê en terg. Ek wou daar wees; nie in 'n woonstel waar ek opeens paniekbevange gevoel het nie. Het Anton vir Joritz vertel? Wag 'n tweede teregwysing op my? Met 'n vuis, in stede van die outydse swaard? Ek wou afsydig wees, dáár wees om terug te kon kyk. Miskien was ek, want meteens het nóg Sergei, nóg trots saak gemaak.

Ek het omgedraai om die aand agter die rug te kry.

Anya was in die sitkamer. Vir haar was dit 'n spel wat sy reeds gewen het, want sy't op die sofa gesit-lê, geklee in 'n effens deurskynende huisrok en haar gesig het gegloei.

Ek het aan Sergei gedink toe ek na die sofa toe getree het. Hy sou meer moed as ek gehad het, terwyl ek op die rand van die sofa gaan sit het.

"Ek het nou net na die berge staan en kyk," het ek gesê.

"Jy sou nie kon nie," het sy hierop geantwoord. "Buite woed 'n storm."

"Dis besig om op te klaar," het ek haar vertel. "Die lug is plek-plek oop."

"Regtig?" het sy verras gevra en orent gekom. Die opgewondenheid in haar gesig het egter oombliklik verander. Sy't weer agteroor geleun en my met 'n speelse agterdog bejeën. "Maar jy is vol verrassings vanaand?"

Ek onthou min van daardie aand. Miskien het ek daardie aand - en die dae daarop - so goed onderdruk dat net oomblikke daarvan vaagweg in die geheue agtergebly het. Ek onthou wel hoe sy my in die vroeë oggendure gevra het of ek ná die voleinding van my kontrak weer teruggaan Afrika toe.

"Da," het ek haar geantwoord.

Dit was donker, met haar slaapkamer se gordyne toegetrek. Ek het op my rug gelê, sy met haar kop op my bors. My voorarm het oor haar groot naakte borste gelê; haar een hand was by my elmboog ingehaak.

Nadat ek haar vraag beantwoord het, het sy haar hand teruggetrek.

Ek het niks daarop gesê nie - en die volgende oggend het ek die stilte ná die storm met ambivalensie tegemoet gegaan.

Op die bus was daar 'n opgewondenheid; die lug was oop en die skemer gevul met die belofte van son. Ek het 'n jong man sy hande vlugtig teen mekaar sien vee, 'n ouer man binnensmonds sien glimlag, 'n besigheidsman met 'n handskoenvinger aan die venster sien vryf om na buite te kon kyk.

Tog het dit gevoel asof ek Sergei gefaal het. Nie Sergei as sodanig nie, maar die moontlikheid van sy bestaan. En toe die skemer sy vlerke genoegsaam teruggetrek het, het die geboue se kleure begin uitstaan. Grys mure, bruin mure, klipmure. Tien, twaalf, vyftien verdiepings wat my daardie oggend kleurloos voorgekom het.

Anya se huis, het ek my probeer wysmaak, was 'n skerm teen die seisoene. En tydens die winter word jy nie drie dae later in 'n hospitaal wakker nie. Lank voordat die nag om is, is jy reeds bevrore.

Tensy die stad se militz op jou afkom. Dis wat met my voorganger gebeur het. Op soek na dronkes wat geval en aan die slaap geraak het, patrolleer hulle snags die state en het op hom afgekom.

Die bus was nog nie eers by die eerste standbeeld nie, maar meteens het dit gevoel asof die militz nie op my voorganger afgekom het nie en dat dit Sergei was wat gesterf het, en ek het by die eerste en die beste bushalte afgeklim. Die koue het soos 'n lem deur my gesny, maar ek moes doodeenvoudig 'n entjie loop om die hartseer wat die gedagte aan Sergei in my gewek het, in toom te hou. Dit het gehelp dat heelwat van die mense op die sypaadjie opgewonde was. Van hulle het vinniger as gewoonweg geloop; hier en daar het iemand ent-ent geskaats, 'n seun het 'n sneeubal van die een hand na die ander loop en gooi.

Die sonnige weer het my daardie dag gehelp om die gedagte aan Sergei in toom te hou, maar toe ek in die aand by die woonstelblok aankom, moes ek 'n rukkie lank voor die hysbak talm. Ek kon nie te lank daar staan nie. Daar was 'n koue sementvloer, die mure 'n neerslagtige donker groen geverf, en die ingangsportaal was nie veel warmer as buite nie. En in die hysbak het ek geweet dat ek eers op die trapportaal sou moes gaan staan het - om te besin voordat ek die vorige nag se konsekwensies sou gaan aandurf het.

Maar toe die hysbak se deur oopgaan, was almal daar. 'n Klomp mense: haar niggie Elena, Joritz en nog 'n man van die militz, haar seun Anton, 'n man en vrou wat ek as geboubewoners kon eien, ander. Joritz het op die trap op dak toe gestaan, omgedraai toe hy die hysbak hoor oopmaak, en na my toe gekom.

"Dis Anya," het hy gesê. "Sy't van die dak af ..."

"Geval?" het ek effens spraakloos gevra.

"Ja," het hy gesê en met sy kop beduie dat ons moes gaan kyk.

Ek het hom gevolg. Die dak was met 'n laag ys en 'n dikker laag sneeu bedek en 'n hele paar mense het reeds 'n pad na die rand van die dak toe oopgetrap. Ek het twee treë gegee, maar kon my nie so ver kry om nader te gaan nie.

Gegly? het ek bly wonder. Of ...? Maar ek kon dié vraag nie uitspreek nie, en nog minder vir Joritz vra.

Hy't omgedraai en reg voor my kom staan. Hy't sy een hand om my kop gehaak en my nader aan hom getrek. "Sy was gelukkig," het hy soos 'n vertroude vriend gesê, self vooroor geleun en sy voorkop teen myne laat lê, sy neus teen myne. "Jy't haar gelukkig laat gaan."

Ek het na asem gesnak, maar ek kon nie 'n woord uiter nie. Nog minder kon ek hom die waarheid vertel.

"Kom," het hy gesê en teruggetree. "Kom ons gaan drink iets. Op haar."

"Da," het ek wel 'n woord kon uiter.

Want so het dit nie gebeur nie.

Sy het my gevra of ek weer na Afrika toe terug sou gaan en ek het "ja" gesê. Ons het met ons klere aan op die sitkamervloer gelê. Ek op my rug, sy met haar kop op my bors. Ek met 'n bottel in die een hand, die ander hand op haar skouer. Sy't haar een hand op myne gehad - en dit ná 'n sekonde se nadenke teruggetrek.

Sy het.

Ek het haar gewese man eers die volgende oggend gesien. Anton het my vroegmôre al kom vertel dat sy pa op pad was.

"Jou pa?"

"Hy moet kom," het Anton verduidelik. "Vir die begrafnis. En om alles te kom reël."

Elena, Joritz en nog 'n paar ander het vroeg opgedaag, maar hy het eers ná tien sy verskyning gemaak.

Ons het aan die kombuistafel gesit toe hy by die woonstel inkom. Hy't in die kombuisdeur kom staan en skaars van my notisie geneem. Hy't 'n besigheidsman geword; 'n pak ten duurste gekoop, 'n grys snor en slape en 'n korpulente lyf.

"Dis alles oor," het hy met 'n wye swaai van die hand gebied. "Oor en verby." Hy't omgedraai, na die sit- en slaapkamers toe geloop, maar was skaars 'n minuut later terug in die deur.

"Dis verby," het hy weer eens gesê, voordat hy omgedraai en uitgeloop het.

Ons het 'n paar oomblikke lank in stilte gesit en Elena het eerste gepraat.

"Demokratiya," het sy saggies gesê.