Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Joan Lötter se dood


Deon Knobel - 2009-07-01

Kaapstad
Sondag 17 Mei 2009, hersien Woensdag 17 Junie 

Liewe Wilhelm

Hierdie slag nie soos eenmaal aan my van jou - “Na ‘n lang tyd van droogte het ek weer vandag 'n gedig geskryf …” – nie, maar "na ‘n taamlik lang periode van hibernasie” sommer so in die laat somer- en herfsmaande het die eerste werklike winterkoue in die Boland en Kaapstad my wel weer laat ontwaak.

Die herontwaking het wel ook te doen met ‘n skielike sterfte in ons vriendekring.

Eerstens moet ek jou vertel van my vriendskap met Joan de Wet-Lötter, jou vriendin – of Moekie, soos jy haar glo genoem het – uit jou Pretoriase dae. Jy het in 1964 by UNISA ‘n aanstelling in die Departement Frans onder prof Haffter gekry. Coenie Rudolph, destyds redakteur van Tydskrif vir Letterkunde, het die inisiatief geneem om die Digtersgroep van Pretoria te stig. Soos Joan my vertel het, het Coenie toe vir André Brink genader vir ‘n lys name en kontakpersone wat dalk in die groep geïnteresseerd sou wees. Onthou jy die stigtingsvergadering op 21 Februarie 1966 aan huis van Wallie Venter se ouers in Anlinn, Pretoria? (Terloops, onlangs het ek via LitNet met De Waal Venter kontak gemaak en hy vertel toe ewe geamuseerd hoedat julle eie tydskrif, Wurm, selfs soms afgerol is in die kantoor en met die afrolmasjien van sy pa wat ‘n offisier was in die destydse SA Weermag. Nogal snaaks, want julle klomp was glo nie te gewild onder die amptenary en regering nie.)

Na die stigting het julle skynbaar een maal per maand bymekaargekom, afwisselend by ‘n ander lid van die groep, om mekaar se gedigte voor te lees en te bespreek en ek neem aan dit is waar jy vir Joan ontmoet het. Ook natuurlik vir Phil du Plessis, Casper Schmidt, Jeanne Goossen, Wilma Stockenström en ander. Onder die belangrikste van die vriende was natuurlik ook vader Ted Bonaventure wat ná Coenie Rudolph se uittrede die leiding begin neem het. Dan was daar ook ene Wessel Pretorius, en wil jy glo, by die pas afgelope Kaapstadse Boekeskou begin ek gesels met ‘n vrou wat langs my sit by ‘n bespreking en sy vertel toe dat sy Wessel se suster is en dat hy stigterslid van julle groep was.

Om terug te kom by Joan, ek het nooit tevore of deur jou van Joan gehoor nie. En na jou onverwagte dood op 4 Januarie 1974 is Mamma deur die leeskring gevra om iets oor jou lewe en werk te kom vertel. Sy het toe ‘n uitgebreide herinneringsdokument oor jou geskryf, maar het nie kans gesien om die voordrag self te doen nie, toe het my matriekklasmaat, Alet Wessels, getroud met Stoffel Ellis, die praatjie gegee.

Wel, in die geskrif meld Mamma toe: “[N]og ‘n vriendin van Wilhelm van wie hy met groot waardering gepraat het, was Joan Lötter.”

Na my aftrede op 30 April 2004, en nadat ek myself vir nege maande bederf het, eers met ‘n toer na Egipte en later een na die Antarktiese skiereiland, het ek op 26 Februarie 2005 begin om jou dokumente-trommels oop te maak en die magdom dokumente te sorteer en te orden.

Ek kom toe af op ‘n uitgawe van Fotobeeld, waarin kort persoonlike inligting met foto's van die digters uit die Pretoria-groep gepubliseer is. Daar is Joan Lötter toe weer genoem.

Dit was vir my belangrik om soveel van jou ou vriende op te spoor om inligting oor die Digtersgroep en oor jou as vriend en digter te versamel. Vir Joan en Karin Skawran, destyds hoof van die Departement Skone Kunste aan UNISA, asook jou vriende Tienie en Aggie van Schoor, kon ek glad nie bereik nie.

Ek dink ek het al vir jou vertel dat ek vir Aggie opgespoor het met die vriendelike medewerking van Johan Botha, wat destyds die aanbieder was van die SAUK se program Dis Opera.

Op ‘n dag het Amanda Botha, kunskenner en vryskutjoernalis, aangekom om na ons vordering met die werk aan jou dokumente te kom kyk. Sy maak toe so toevallig die opmerking dat sy so pas met Rinie Stead gepraat het om haar geluk te wens met haar 92ste verjaardag. My ore het spits opgespring, want die naam ken ek vir dekades uit jou gedig “Apollo 8”, wat jy op haar versoek geskryf en ook aan haar opgedra het. Ek het haar onmiddellik geskakel en goeie rapport gevoel. Haar handgeskrewe bydrae oor haar herinneringe aan jou het ek enkele dae later in haar pragtige ferm handskrif ontvang. In ‘n later brief sal ek aan jou die interessante inligting oor haar verhouding met jou en haar indrukke oor jou aanstuur.

Rinie kon toe vir my Joan en Karin se telefoonnommers verskaf.

Ek het Joan geskakel en die vriendelike warm stem het my onmiddellik tot haar aangetrokke laat voel. Sy was dadelik bereid om vir my iets te skryf oor jou, en nie lank daarna nie het ek toe die gedig “Wilhelm Knobel ... Herinnering” ontvang. Ek gaan dit tog vir jou hier afdruk, want ek het dit ook geplaas in my eie publikasie van ‘n voordragprogram, "Wilhelm Knobel die ongewapende man … van Kinderytd tot Sterwenstyd”, wat ek nou al heel dikwels landwyd voorgedra het. Sy vang jou hele persoonlikheid en geesteswroegings en soeke wonderlik vas. Toe ek dit vir ons vriend Phil stuur, was sy eerste woorde aan my: “Fok, maar dis ‘n goeie gedig!”

Wilhelm Knobel … Herinnering

Die intellek pols altyd
vlymskerp
maar weerloos stry
die fynbesnaarde psige om balans
want:

verlore in ‘n dwaaltuin
vol verstikkende swart rose
waar drogspieëls meer verwarring kaats
en die enigste verweer
‘n surrealistiese skerm is
asof van glas –

daar word vryvlugte deur die gees
hopeloos, bloot angstige terreur.

Uiteindelik stol die cerebrum,
dan kolk en maal dit
totdat ‘n verborge sneller
die maligne molekuulstring
uit sy quasi-ewewig aktiveer

sodat spasmas pyn ontplof
wat deur die skermglas verskiet
en dit in driehoekprismas breek
waaruit geen reënboog ooit sal blom.

Die dag se son verswart.
Klank en noot verstil.
Bewussyn kwyn in ‘n stom naspel
terwyl die kosmos
tot ‘n groenrooi bloedsteen stol.

Joan de Wet-Lötter
Pretoria: 29 Julie – 4 Augustus

Die verhaal verder is dat ek haar toe persoonlik ontmoet het toe sy vir haar dogter Ilse kom kuier het. Daar het dadelik ‘n warm en heerlike vriendskap uit hierdie ontmoeting gegroei. Kort daarna het sy na die Kaap verhuis en in ’n woonstel in Milnerton kom woon.

Wel ek sê vir jou, klein en beknop soos die ruimte daar is, het sy daarvan ‘n knus en gesellige woning geskep. Sy het haar hele lewe skilderye versamel, en die mure is behang met skilderye, tot drie lae bokant mekaar. Dit het my laat dink aan Mamma met haar familieportrette, en toe sy self op ‘n dag moedeloos moes aanvaar dat daar nou nie meer selfs vir die kleinste foto’tjie plek was nie, het die getroue Piet Motaung, eers haar tuinier en later haar “driving Miss Daisy”-motorobestuurder, haar gerusgestel met: ”Moenie worry nie, Oumies, ek gaan haal net gou die leer. Kyk! Net daarso bo, so onnorkant die ceiling, daar's nog plek, ons sal hom hang daarso.”

Ek en Joan het mekaar met tussenposes gesien en dikwels oor die foon gesels. En toe ek begin om aan die Plakboekbiografie oor jou lewe en werk te skryf, het sy gehelp met proeflees en redigering. Toe sou ek uitvind dat sy nie alleen self digter was nie, maar inderdaad ook self die uitgewer Joan de Wet-Lötter was waaruit ‘n wye spektrum publikasies verskyn het, van religieuse temas, een geskryf deur Frieda Harmse, tot haar laaste werkstuk aan ‘n boek oor holistiese beesboerdery in Suid-Afrika. En ook baie interessant ‘n boekie oor die onverwagte vriendskap tussen Eugène Marais en C Louis Leipoldt. Die korrekte titel gee ek jou later.

Joan en Frieda Harmse was jare lange goeie vriende, en deur haar gesprekke met Frieda kon ek darem nuus opvang. Jy onthou dat Frieda ‘n hele aantal keer saam met jou plaas toe is. Jy het gedigte aan haar opgedra en sy het twee waterverfskilderytjies ter illustrasie van die twee gedigte vir my aangestuur.

Tussen jou dokumente en briewe vind ek toe ook ‘n hele bondeltjie briewe aan “Liewe Oom Gideon en Tant Esther”, en ook aan “Liewe Wilhelm”, en later “Liewe Valkoog.” Sy moes op die plaas gehoor het dat jou noemnaam in seSotho Pakwe ("valk") was: “Jy sien hom nie by die dag nie. Hy kruip weg net soos die valk en kom net uit wanneer hy kos soek.”

Joan kon vir my baie inligting oor die stigting en lede van julle Pretoriase Digtersgroep gee. Sy was hoogs ontsteld toe sy ontdek dat sy vir my die verkeerde stigtingsdatum van 6 Februarie 1966, in stede van 21 Februarie, gegee het. Ons het dit maar net met ‘n errata-notatjie in die gepubliseerde boek reggestel. Sy het die koddige gewoonte gehad om ‘n gesprek, as sy nou dink sy het genoeg gesê, af te sluit met “Anyway, whatever.En dit is toe hoe ek haar geheueglips ligtelik afgemaak het.

Ons het nooit veel oor haar eie digwerk gepraat nie. Maar as ek vir haar die jongste digbundel van ’n jonger digter neem, kon sy met fyn begrip vir my sê wat sy van die gedigte en digter se vermoë en potensiaal dink.

En skielik het Joan hier in die laaste paar maande weer vreeslik besig geraak en kon ek nie meer sommer inval en dagsê nie:

“Ek is besig.”

“Waarmee, Joan?”

“Ek het ‘n werk.”

"Watse werk, Joan?”

“Ek doen ‘n boek vir ’n doktor in landbou, met veeteelt as sy vakgebied.” Ek dink sy het dit genoem as ‘n boek oor “Holistiese beesboerdery in Suid Afrika”.

“Is dit interessant?”

“Ja, maar dit is vreeslike harde werk want dit benodig geweldig baie redigering.”

Dit was duidelik dat sy elke jota en titel van die geskrif nagesien het. Ek kan net dink hoe die professor moes voel dat hy herhaaldelik soos ‘n skoolseun huis toe gestuur is om gedeeltes meer as een maal oor te skryf totdat sy absoluut tevrede was. En tot met die ontwerp van die buiteblad het sy haar gesag laat geld en dit laat herontwerp tot sy tevrede was.

Met my 70ste verjaardag op 5 April vanjaar (2009) het sy nie kans gesien om by ‘n klein groepie van ons aan te sit vir ‘n verjaardagmaaltyd nie, want sy was moeg en het ook klagtes gehad van rugpyn en spierpyne. “Seker maar die swine-flu,” sou sy ligtelik spot.

“Joan, het jy ‘n GP?”

“Ja, in Pretoria!”

“Joan, dit help nou veel! Mens moet een hê wat jou kan leer ken sodat daar ‘n dokter is wat geroep kan word as daar dalk ‘n noodtoestand opduik.”

“Ja, anyway, whatever!”

En so het dit vir ‘n maand of ses weke gegaan. Ek het uiteindelik deur ons ou vriend Richard Bell uitgevind van ‘n uitstekende dokterspraktyk in Milnerton, baie naby haar woning, en ook die naam van die dokter. Sy was baie ingenome met die feit dat sy naam ook Wian is, “net soos een van my babies".

Sy het steeds nie gegaan nie, en op Dinsdag 12 (2009) dog ek, nee bokker dit, nou skakel ek vir Joan, sommer onwettiglik op my selfoon in my motor terwyl ek bestuur.

Ek word geskok deur ‘n slapende gemompel van Joan: “Ekkisj in KalBemmel.” Ek het dadelik met Ilse gepraat en verneem toe dat Joan die oggend in die hospitaal opgeneem is. Met my aankoms in Saal 4 B, die einste waarin ek as huisdokter gewerk het en vir ou Griet Brand versorg het (ek het mos my storie oor haar geskryf), Wilhelm … ek kan nie vir jou my skok beskryf toe ek haar sien nie. Bleek, ongemaklik, praat swaar en lyk net dodelik siek. Daar was toe alreeds plate geneem van haar borskas wat net vog gewys het. Ek het maar probeer gesels, en vra toe ewe stuitig: “En hoe gaan dit met jou beesboer?”

Sy het my geantwoord met so ‘n ongeduldige waai van die hand: “Hy’s weg, Bloemfontein toe!!”

“En die boek?”

“Weg, na Bloemfontein.”

Ek sou later by Ilse uitvind dat sy haar ma gehelp het om Sondagnag 10/11 Mei die laastehersienings aan die manuskrip te doen, sodat Ilse dit Maandagoggend nog kon wegstuur. (Die boek is finaal gepubliseer, keurig en professioneel, op 15 Junie, presies een maand na Joan se dood.)

Wat doen mens, wat sê mens as jy daar langs haar bed staan en as dokter self besef dat jy kyk na iemand wat terminaal siek is, vermoedelik met een of ander onderliggende kwaadaardige gewas? Dan hou jy maar haar hand vas, verneem of sy dalk pyn het, en as jy sien sy is kortasem en ongemaklik, dan vra jy maar of jy die rug van die bed kan hoër draai. Nog tipies van haar presiesheid en effense voorskriftelikheid moes sy eers vra of ek dan nou sal weet hoe om dit te doen, anders moet ek die verpleegster roep. Ek kon my verbeel hoe sy dalk “anyway, whatever” sou prewel. Dan soen jy maar die bleek en koue voorkop en loop met ‘n swaar gemoed daar uit.

By die huis aangekom het ek vir Aggie geskakel, en ook vir Thereschen, ons laatlam-sustertjie wat nou ook al 58 jaar oud is, kan jy dit glo? Jy onthou mos hoe sy vir drie maande in Pappa en Dr Beyers se tuisgemaakte broeikas versorg is en met ‘n pop-tietbotteltjie gevoer is.

Woensdagaand lyk Joan niks beter nie, trouens nog slegter. Sy skei swak urine uit; hulle kan haar nie oorreed om selfs die kleinste slukkie water of mondjie kos in te neem nie.

Ek sien die jong dokter. Ja, sy ken my, want sy was een van my mediese studente. “Dokter Foster,” begin ek baie huiwerend, “vir my lyk dit asof sy terminaal siek is aan ‘n onderliggende maligniteit.”

Sy het met kommer op haar gesig met my saamgestem en bevestig dat hulle met buik- en bekken-X-strale ‘n groot sistiese massa in haar pelvis gevind het. Weer moes ek maar net die bleek, koue voorkop liggies soen en gaan met ‘n hartseer gemoed daar weg.

By die huis gekom skryf ek ‘n rekenaarbrief, wat ons ‘n elektroniese brief of e-pos noem, aan haar seun, dr Wian Lötter, in Kanada. Ilse het gesê dat hy nog sukkel om sy paspoort in die hande te kry. Ek het weer so taktvol moontlik vir hom geskryf om my vermoede van die onderliggende maligniteit en die terminale aard van haar toestand te beklemtoon. Ek het hom aangeraai om aan te dring dat sy paspoort as dringende noodgeval toegestaan en uitgereik moet word.

Donderdagmiddag besluit ek om vir haar twee soorte sop en my eie spinasie-en-sampioengereg, waarvoor sy so lief was, voor te berei. Daar aangekom is haar toestand steeds onveranderd en hoogs kritiek. Gelukkig herken sy my nog, maar ons praat nie eintlik nie. Ten minste, sy praat nie en ek sê so nou en dan 'n bemoedigende woord of twee, waarop sy dalk sal knik as sy saamstem en haar linkerhand se vingers sou oplig en heen en weer beweeg as sy wou sê nee dankie vir die kossies of water wat ek probeer ingee. Ek hou maar hand vas en probeer toe om vir haar iets te laat drink of eet. Nie eers ‘n halwe slukkie energie-drankie nie. Toe willig sy in vir ‘n klein happie spinasie, en sy wys met die duim en voorvinger so ‘n ou kwartsentimetertjie. Dit was nie suksesvol nie. Sy het dit bietjie rondgerol met die tong en toe in ‘n gaasdeppertjie wat sy in haar hand gehad het, uitgespoeg. Die stukkies wat oorgebly het, moes ek versigtig van haar tong en lippe afvee, maar selfs dit het haar seergemaak. Ek het haar gerusgestel met die woorde: “Ag, anyway, Joan, hoekom moet jy ook nou eet en drink as jy geen eetlus, of whatever, het nie!”

Ek het die futiliteit daarvan besef om ‘n sterwende persoon te probeer dwing om iets te eet of drink. Dis net so belaglik as om 'n persoon wat aan longkanker sterf te sê hy moet ophou rook, of soos soms deur verplegingspersoneel (nou nie in Joan se geval nie) gesê sou word: "Ons kan nie vir die pasiënt meer morfien gee nie, sy kan verslaaf raak daaraan." En after all en anyway het sy mos darem ‘n binne-aarse indruppeling in die armvene gehad wat haar gehidreerd moes hou.

Ek het gestaan met my hand op die deken oor haar buik-area, so half vertroostend en gerusstellend, om tog nog fisies – en emosioneel – kontak te maak. Skielik het ek besef dat hier ‘n vreeslike uitbulting onder my hand was. En toe gebeur iets waaroor ek bitter jammer is, maar in my tipiese manier om tog maar iets lig te sê en selfs ‘n grappie te probeer maak, vra ek toe, werklik uit belangstelling: “Joan, hoekom sit hulle ‘n kussing op jou maag –is dit om jou warm te hou?”

Toe kom die nugtere, en vir my tog skokkende antwoord, doodluiters: ”Dis nie ‘n kussing nie, dis my maag.” En met die oplig van die deken vind ek dat haar buik massief uitgeset is deur liters vry vog wat trillend onder my hande beweeg.

Ek het besef dat dit dalk my laaste besoek aan haar sou wees en het haar hand vir ‘n rukkie vasgehou en haar op die voorkop gesoen, sonder om ‘n woord te praat – hoe jammer dat ek nie tog maar in woorde vertel het hoe lief ek vir haar was nie en wat sy alles vir my beteken het nie.

Die verpleegsters was besorg oor haar en het sommer die tweede dag al my telefoonnommers op Joan se lêer geskryf, net in geval.

Ek het weer teruggekom en vir Wian probeer voorberei vir haar naderende dood. Ek het baie laat in die bed gekom.

Vrydagoggend 15 Mei, vyf voor agt, lui my foon. “Suster Arendse hier, dokter. Ons wil net laat weet dit gaan baie sleg met mev Lötter. Sy gasp al. Ons kon nie haar dogter Ilse in die hande kry nie en bel toe maar vir u.”

Ek het dadelik per foon vir Ilse ‘n boodskap gelaat om dadelik hospitaal toe te gaan.

Vyf minute later: “Dokter, ons het slegte nuus vir jou. Mev Lötter is nou net oorlede.”

Ilse het later teruggeskakel; was in ‘n Rotariër-vergadering. Ek moes dit so saggies moontlik aan haar oordra, maar hoe anders as om net reguit te sê: “Ilse, ek is vreeslik jammer, maar ons het jou mammie verloor. Sy is nou net dood.” Nie: "nou net weg” nie. Nie: "nou net oorlede” nie. Sommer reguit: "nou net dood".

Ek vertel vir jou later wat verder gebeur het, van die gedenkbyeenkoms by die krematorium vir ‘n paar familielede en vriende en die Saterdagmiddag daarop die gedenkbyeenkoms ("wake” noem Engelssprekendes dit) van vriende en kollegas van Ilse by my aan huis.

Maar tog nog net die volgende. Net voor my vertrek na die krematorium word ek toe deur die muse geprik en skryf sommer gou die volgende gedig:

Gebed – In Memoriam , Joan de Wet-Lötter
15 Februarie 1933 (08h45) – 15 Mei 2009 (08h00)

Ag Here! As U haar dalk êrens sien ronddwaal,
U diensmaagd, en ons ma en vriendin Joan,
op soek na vriende en bekendes,
praat tog met haar en wees goed vir haar.

Sy het triestige rooibruin haartjies
en bruingekleurde wenkbroue
en as daar so iets daar bo te vinde is,
ook lippe gekleur met helder rooi lipstiffie.

Haar maag is nou wel bietjie groter
as waaraan U dalk gewoond is, Here,
maar U self het haar mos geslaan
met daardie sistiese massa aan haar eierstok.

Maar Here, sy was ‘n flukse en voorbeeldige vrou –
tot op die laaste met haar talente gewoeker
al was dit nou ook vir die boek
van die holistiese Vrystaatse beesboer.

So Here, asseblief, gaan kyk of u haar kry
en neem haar aan die hand.
Tot U eer het sy gedigte geskryf –
Na waters waar rus is, lei U haar nou heen.

Deon Knobel, Kaapstad 19 Mei, 12.00–12.15
met erkenning aan Jeanne Goosen

Nou moet ek eers groet om na jou jeugvriend Philip de Vos se vertoning te gaan. Hy het verse geskryf vir Pictures at an exhibition van Mussorgsky en hy en ‘n pianis-vriendin van hom gaan dit nou vir die eerste maal uitvoer in die Welgemeendsaal by die Jan van Riebeeck Hoërskool.

Liefde aan jou, daar waar jy ook al is. Dis sekerlik warmer – maar darem seker nie kokend nie – as tans in Kaapstad waar dit ysig koud en nat en regte wintersweer is.

Jou bejaarde, maar tans nie bebaarde nie

Kleinboet Deon

 

<< Terug na Vintage@LitNet <<