Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Uittreksel uit Chris Karsten se Seisoen van sonde


Chris Karsten - 2009-06-29

Chris Karsten is die veelsydige skrywer van onder andere die blitsverkoper-biografie Charlize - Ek leef my droom asook die bekroonde roman Frats. Karsten se nuutste boek, die vreesaanjaende sielkundige riller Seisoen van sonde, is 'n gebeurtenis in Afrikaanse misdaadfiksie. Slim, gedetailleerd en uiters spanningsvol, hierdie verhaal speel af in Suid-Afrika, maar die skryfkwaliteit is ongetwyfeld internasionaal. Lees hieronder die proloog van Seisoen van sonde.

AGT DAE VOOR PASE

Sy prooi is op twee foto's, 'n man, vet en nie meer jonk nie, miskien al sewentig. Op die gesigskoot oë spletig tussen digte wenkbroue en vlesige wange, rossig van die lekker lewe. Op die vollyffoto hang 'n swaar buik.

Die gesig en naam van sy prooi is vir die jagter vaag bekend, maar nie belangrik nie. Wel van belang is adres en gewoontes. Die prooi woon saam met sy vrou in 'n kompleks van tuinhuise, almal boere-Toskaans. Wat die jagter meer beïndruk as dié voorkeurstyl van die nouveau riche, is die omheining - geëlektrifiseerde draad op 'n hoë betonmuur, by die enigste toegang 'n waghuis met elektroniese hek, 24 uur beman.

Een van die prooi se gewoontes is om soggens sesuur op te staan. Waarvan die jagter onbewus is, is die ritueel van die opstaan, affektasies van die prooi wat sy vrou al langer as 'n dekade sedert sy aftrede irriteer. Maar soos dit 'n goeie vrou betaam, verduur sy dit wanneer hy soggens na die bedlig reik en die nag se slym uit sy bors kug. Haar kop is weggedraai wanneer sy luister hoe hy steunend sy logheid uit die bed uitspook, hoe hy kreunend sy bene in die pype insukkel van die sweetpak waarvan sy die buikmaat met 'n nuwe rek moes vergroot, die gehyg om die veters van die duur Nikes te knoop. En immer op sy kop die pet, sy gunsteling, die een met die inskripsie USMC saam met drie sterre outentiek in goue draad gebosseleer.

Wanneer hy uitslof, wag sy op die geklop van die wandelstaf van geelhout teen die kapstok in die portaal, 'n teken vir die drie Corgi's om te begin blaf. Agter die deur van die motorhuis waarin hulle snags slaap, is hulle hees en amegtig, want hulle is, soos hulle baas, oud en plomp van bederf. Sy staptog soggens is op aandrang van sy kardioloog, die drie Corgi's s'n op aanbeveling van hulle veearts.

Die jagter dink en skryf en oorweeg sy opdrag. Diep in die nag begin 'n strategie vorm aanneem. Hy maak 'n inkopielys. Vroegoggend vertrek hy met sy swart Ducati-motorfiets na die park in Nieu-Muckleneuk, na die roetes van drawwers en stappers onder die kameeldorings en kiepersolle en jakarandas deur.

Hy merk die vet man met drie Corgi's. 'n Leiband is onnodig; hulle is nie baldadig nie en dwaal nie af nie. As hulle onder boomstamme snuffel, is dit net vlugtig voor hulle weer hulle baas se spoor vat.

Die jagter maak aantekeninge en bespied die oefenroetes. Die drawwers, jonk en fiks, verkies die uitdaging van die slingerende voetpad hoër op tussen die bosse van die helling. Die stappers, ouer, die plaveiroete onder deur die bome, al langs die fleurige randakkers van die groen grasperke. Wat die jagter opval, so vroeg in die oggend, is die min stappers. Miskien, dink hy, verkies hulle om laatmiddag te gaan wandel, wanneer ou bene kans had vir ontdooi.

Hy hou sy prooi dop, sien hoe die honde die stamme beruik, bene lig.

Die jagter kry die plek vir sy hinderlaag, buite sig van drawwers.

Terug by sy woonplek soek hy op die internet, en met 'n goedkoop selfoon huur hy 'n skeepsvraghouer van twaalf kubieke meter by Mr Box Self-Storage naby Wildernis aan die Suid-Kaapse kus. Die huurgeld vir ses maande, op 'n vals naam en adres, gaan deponeer hy in kontant. Hy vernietig die SIM-kaart en gooi die selfoon langs die pad in 'n stormwatersloot, tussen plastieksakke, bierblikke, bottelskerwe.

Vir sy inkopies los hy die motorfiets in sy enkelmotorhuis en vertrek met 'n wit VW Caddy-paneelwa. Op sy lys by die hardewarewinkel is 'n industriële slot van tungstenkarbied vir die vraghouer se deur, 'n rol sterk kleefband, 'n plastiekseil, 'n graaf, 'n stel wellingtons, nylonbergklimtou, en 'n Oxytorch met propaangaskannetjie, van die soort wat loodgieters gebruik. By 'n supermark koop hy 'n kilogram wors, volgraanbrood, kaas en ses eiers. By 'n apteek 'n boks met latekshandskoene.

Vir die laaste item op sy lys ry hy na die MultiFlora-blommemark in City Deep. Hy koop dertig bondels vars snyblomme - blou alstroemeria, pers anemone, rooi angeliere, wit dendranthema, geel madeliefies, pienk ranonkels en koningsproteas.

Vroeg die volgende oggend, lank voor ses, doen hy soos gewoonlik sy isometriese oefeninge. Hy oefen tot die lang hare nat in sy nek hang, sweetdruppels in sy swart baard glinster. Onder die stort begin hy ontslae raak van sy hare en baard. Hy knip dit eers met 'n sker, skeer daarna die stoppels van sy kop en gesig af, ook die res van sy liggaamshare. Glad en haarloos tintel die vel oor sy soepel spiere.

Van die ou kisyskas teen die agterste muur van sy motorhuis verwyder hy 'n staander, bedek met 'n ou laken, sodat hy die deksel kan oplig om by sy noodhulphouer uit te kom. Hy meng 'n paar mikrogram carfentanil in vyf stukke wors en trek 'n verdunde oplossing daarvan uit 'n ampul in 'n spuitnaald op.

Kort ná sesuur wag hy naby sy hinderlaag in die park. Hy sit in die Caddy, onbewus van die subtiele geure van die blomme in die paneelwa. Sy prooi kom tussen die jakarandastamme deur, waggelend soos 'n vet eend, agter hom die drie Corgi's, pense laag oor die gras, rooi tonge smagtend na asem. By die stukke wors langs 'n stam steek die skommelende honde ineens vas, sluk dit gulsig op, snuif vir nog. 'n Ent verder draai die prooi sy lyf moeisaam om na die honde onder die bome. Tussen die stamme steier die honde dronk op hulle kort bene, plons neer, probeer orent kom. Die prooi draai terug na sy honde. Die jagter merk die frons op sy prooi se gesig oor die onverwagse traagheid van sy honde, die klaarblyklike loomheid wat hulle langs 'n stam oorval het. Hy steun luid toe hy by die honde hurk, besorg oor die skuimerigheid om die bekke, oë wat wit omdop.

Die jagter kom van die Caddy af nader gestap, asof vir 'n terloopse ontmoeting tussen twee vroegoggendse stappers. Die eienaar van die honde is dankbaar vir die medestapper se aanbod om hulle by 'n veearts te kry. Hulle dra die honde na die Caddy. Eers toe al drie op die gras agter die paneelwa lê, maak die jagter die deur oop en roep sy prooi nader om die blomme te help verskuif vir plek vir die honde. Die man se uitroep agter die handpalm om sy mond is gesmoord toe die spuitnaald sy dik nekrol prik, 'n dosis van net 'n paar mikrogram carfentanil. Met sy bolyf agter in die vragruim van die paneelwa probeer hy hom teensit teen sterk arms wat hom vaspen. Net sekondes, dan verslap die groot liggaam; tien milligram van die opioïed is genoeg om 'n olifant te immobiliseer. Die bakdeur klap toe. Die jagter kyk vir laas rond, sien geen nuuskierige oë van drawwers nie, sien geen stappers nie, en die Caddy vertrek. Die drie bedwelmde Corgi's bly op die gras onder die boom agter.

Die halflewe van die carfentanildosis is negentig minute en in sy motorhuis bind die jagter sy vet prooi se hande en voete agter in die paneelwa met die kleefband vas, plak 'n strook oor sy mond en bedek hom met die plastiekseil, die bosse blomme oor die seil gerangskik.

Hy vervang die nommerplate en gaan bak die wors wat oorgebly het, saam met die ses eiers, maak ses snye roosterbrood met gesmelte kaas op en geniet sy ontbyt. Nadat hy sy eetgerei gewas en weggepak het, gaan lê hy op sy bed. Sy vingers soek deur die bladsye van die boek op sy bedkassie. Dit is die enigste boek wat hy besit, en die hoeke van die bladsye krul om van die baie vat. Hy kry die hoofstuk wat hy soek. Hy begin dit aandagtig lees terwyl hy met 'n potlood kantaantekeninge maak. Hy lees en skryf byna 'n uur lank voordat hy die boek toevou en sy oë sluit. Hy het die rus nodig; 'n lang pad deur die nag lê voor.

Teen sterk skemer vertrek die jagter na die primordiale vleiegebied by Wildernis. Teen sonsopkoms wys 'n faktotum by die Mr Box-depot, stuurs van die vaakte, sy gehuurde vraghouer aan hom uit, die laaste een in 'n ry, eenkant onder die lae takke van 'n Kaapse es. In die houer laai hy sy vrag uit. In die skemerte van die staalhouer rol die vet man se oë, nou groot en rond, agter elke beweging aan. Die jagter is ongesteurd deur die kreune en hygings agter die kleefband terwyl hy die bosse blomme in 'n hoek opstapel en sy ander inkopies sorgvuldig op die vloer uitpak. Die graaf en waterstewels los hy agter in die Caddy.

Hy sluit die deur met die nuwe tungstenslot, loer na die grafstilte van die faktotum se Wendyhut, en vertrek om die vleie te gaan verken, soos dit 'n toeris betaam. Hy ry ure rond. Op plekke wat sy aandag trek, parkeer hy die Caddy, klim uit, slenter rond en besigtig die omgewing.

Laatmiddag keer hy na die nou verlate vraghouerdepot tussen die ruigtes terug, tevrede met sy toer. Uit die boks haal hy twee handskoene vir die delikate werk wat wag. Die lateks span soos vel oor sy groot hande terwyl hy die klein kannetjie met propaangas aan 'n ligte Oxytorch vasskroef. Die Oxytorch het 'n sproeiklep waaraan die drukking en vlamkonsentrasie verstel kan word wanneer hy die vlam aansteek. Hy wil nie sweis of soldeer of metaal met 'n blaasvlam sny nie. Hy het nie 'n blouwit kern in die vlam nodig nie; 'n rooi vlam is geskik vir sy doel, minder as 120 grade Celsius, vir net enkele sekondes.

Sweet aan die prooi se gesig, kreune gesmoord uit die gesnoerde mond, oë wit op die pragtige stilet wat soos 'n kleinood uit sagte marokynleer oopgevou word. Die lem is uit wootzstaal gesmee tot 'n vlymskerp punt. In die harde, rooi Libanonseder van die greep is die uitbeelding van 'n vreemde soort voël gekerf. Die hef en lem perfek gebalanseer.

Die stilet se lem is dun en sonder snykante, maar lank genoeg vir die skerp punt om agter in die nekrolle in te glip, tussen twee nekwerwels deur, om die rugstring af te steek. Met die onderbreking van die konneksie tussen die brein en spiere is die prooi se liggaam onmiddellik verlam. Die bloedvate vergroot en sy bloeddruk val. Hy verloor binne sekondes sy bewussyn en sterf 'n paar minute later. Weens die lae bloeddruk en hart wat ophou om bloed deur die are te pomp, is daar net geringe bloeding aan die klein ronde wond toe hy die stilet ná 'n paar minute uit die dik nek uittrek. Die jagter het nie 'n weersin aan bloed nie, wel aan mors; dit bemoeilik opruiming en skep risiko's.

Hy druk die kussings van sy voor- en middelvinger teen die slagare van die keel. Die vel warm onder sy vingers, maar sonder polsslag. Op die yl, grys hare plaas hy die pet terug, met die goue USMC en drie sterre (persoonlik deur generaal Alfred M. Gray in Arlington, Virginia, aan sy prooi geskenk, maar dit weet die jagter nie).

Nou lê hy met sy agterkop teen die wand van die staalhouer, die ken sag genestel in die rolle van sy dik keel. Dit lyk of hy net dut, met die pet skuins oor die voorkop, asof hy dalk droom dat hy werklik 'n generaal in die US Marine Corps kon gewees het.

Die jagter trek sy prooi se Nikes en sokkies uit, en ontsteek die Oxytorch se vlam met die druk van 'n rooi knoppie. Hy verstel die lekkende vlammetjie effe groter. In die stil, donker vraghouer sis die gasvlam sag. Die jagter hou van vuur.