Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Het die Hendrickse-familie die politieke en kerk-arena nou vaarwel geroep?


Jason Lloyd - 2009-06-25

Is dit miskien ook ’n geval, soos met die Terblanche’e in die sepie 7de Laan wat een-vir-een van die kassie verdwyn, dat die destydse kleurryke Hendrickse-familie die politieke en kerk-arena nou vaarwel geroep het?

Wyle eerw Allan Hendrickse (1927–2005), leier van die destydse Arbeidersparty, se aanvanklike politieke stryd vir die onderdrukte bruin mense in die apartheidsbestel en sy veelbewoë swem by Port Elizabeth se "Slegs Blankes"-Koningstrand in 1987 het aan hom internasionale bekendheid as kleurryke politikus gebring. Maar later jare het die verwerping deur groot dele van die bruin gemeenskap – veral op Uitenhage – gekom. Nie net polities nie, maar ook op kerklike vlak.

Bogenoemde vraag is relevant veral noudat die laaste Hendrickse – mnr Peter Hendrickse (51) – nadat sy pa, eerw Hendrickse, in 1969 tot die destydse Verteenwoordigende Kleurlingraad verkies is – nie weer deur die ANC as parlementslid herkies is nie. Hendrickse (jnr) is “nadat takke my op Uitenhage benoem het oor die hoof gesien”. Gevolglik het hy nie die kandidatelys gehaal nie, maar uit Willowmore sê ’n ANC-lid: “Peter was as LP ’n afwesige in die Baviaanskloof en het niks vir ons gedoen nie. Toe adjunkminister Derek Hanekom verlede jaar hier was, het ons hom van Peter se afwesigheid ingelig en gevolglik is sy loopbaan as LP beëindig.”

Verlede jaar is die Hendrickses ook ’n knou toegedien in die Uitenhage Congregational Kerk toe dié eerwaarde se vrou, Terry, uit die kerk geskop is “weens aanhoudende wangedrag en die ontwrigting van dienste en vergaderings binne die kerk”. Dit volg nadat ’n gemeente-vergadering besluit het om ’n portret en foto’s van Hendrickse uit die kerkgebou te verwyder.

Die vet was in die vuur en die Hendrickses het met mening teruggeveg en geëis dat Hendrickse se “nalatenskap bewaar moet word”. Die verweer van die Isaacs-groep is dat die mens nie afgode moet aanbid nie, maar dat die foto’s wel ’n plek in die konsistorie het; net nie in die kerk waar daar aanbid word nie.

Die Hendrickse-groep beskuldig die Isaacs-groep van outokratiese optrede en so raak albei groepe verstrengel in ’n heen-en-weer-moddergooiery dat dit moeilik is vir enige buitestander om die oorsprong en feite van dié “vieslike broedertwis” te verstaan. Gevolglik is die gemeente middeldeur geskeur en die einde daarvan is nog nie in sig nie.

Dié voorval herinner aan 1986 toe Hendrickse uit die Dalestraat Congregational Kerk op Uitenhage geskop is nadat die sinode van die Verenigde Congregational Kerk besluit het dat geen leraar in hul diens aan apartheidstrukture mag deelneem nie. Hendrickse het geweier om as LP, kabinetslid en voorsitter van die Ministersraad in die Raad van Verteenwoordigers te bedank en gevolglik het die kerk hom afgedank.

’n Klag van diefstal en van saakbeskadiging van die pastorie is deur die polisie ondersoek nadat die Hendrickse-familie dit ontruim het. Skade van tussen R5 000 en R10 000 is aangeteken, maar die Hendrickses het aanspreeklikheid ontken.

Die lewe van die Hendrickse-familie word oorspan deur drama, spanning, dilemmas, konflikte en krisisse wat veral groot eise aan Hendrickse se leierskap gestel het. So bestaan die sentiment by baie bruines nog steeds dat die Hendrickses se deelname aan apartheidstrukture grotendeels om die ontwil van selfverryking was. ’n Voorbeeld daarvan is dat Peter Hendrickse reeds in 1993 in die driekamerparlement beskuldig is dat hy nie sy werk as LP behoorlik doen nie.

Hendrickse (jnr), wat in 1984 as AP-LP vir Addo verkies is en daarna vanaf 1994 tot vanjaar ’n junior ANC-LP was, is destyds deur mnr Basil Cupido (toe NP-LP vir Suid-Kaap) beskuldig dat sy “wange en buike bol” en dat hy niks vir sy kiesers beteken nie. “As ’n mens na Hansard kyk, sien jy wat mnr Hendrickse se bydraes in die Parlement was. Daarby sien sy kiesers hom ook selde,” het Cupido gesê.

Nog ’n voorbeeld is dat Hendrickse destyds van nepotisme beskuldig is omdat hy sy seuns (Peter, toe 26 jaar, in 1984, en 1989; Michael, toe 25 jaar, in 1989) en skoonseun (Desmond Lockey, toe 22 jaar, in 1984, en 1989) in hul vroeë, onervare twintigerjare tot die parlement laat verkies het.

Volgens ’n oud-AP-LP het veral Michael se verkiesing in 1989 as LP ’n groot ontevredenheid in die AP ontketen. “Hy was pas uit die universiteit en jonk en ander ervare persone in die party is geïgnoreer. Hendrickse was ’n outokraat en niemand kon hom teengaan nie. Indien wel, sou hy jou onmiddellik uit die party skop.” Wyle mnr Roy Williams, destyds nasionale trustee van die AP, is in 1989 uit die party geskop omdat hy kapsie as trustee gemaak het omdat R10 000 van die party volgens hom na bewering “onregmatig” misbruik was.

So is daar deur die media beweer dat Hendrickse se twee seuns en skoonseun verhewe was bo party-dissipline, veral omdat Lockey eerw Andrew Julius, toe ’n minister, destyds in die parlement gekritiseer het. Dit het lynreg met ’n koukusbesluit gebots dat AP-LP’s nie mekaar in die huis moet takel nie. Volgens mediaberigte het Hendrickse se swye dié sentiment van ’n familieparty onderstreep.

Kort na dié Lockey-aanval is wyle mnr Willie Dietrich, destyds AP-LP vir Bethelsdorp, na bewering ’n spreekbeurt in die huis geweier omdat hy ’n koukusvoorskrif “oortree” het deur nie op te staan wanneer Hendrickse die koukuskamer binnekom nie.

Die politieke oorgangsjare van die 1990’s het visioenêre leierskap gevra – veral in arm gemeenskappe waar maatskaplike en politieke mag eeue lank so eensydig ingebed was, maar die AP het toenemend vervreemd van die bruin gemeenskap geword.

Dié vervreemding het by die AP se Eshowe-kongres in 1983 begin toe die party besluit het om deel te neem aan die driekamerparlement wat gereserveer was vir wittes, bruines en Indiërs, maar swartes uitgesluit het. Menigte politieke wetenskaplikes het gewaarsku dat die grondwetlike bedeling ’n totale mislukking was. Prof Roy du Pré het dit later so opgesom: “Hendrickse thought it was the beginning of reform, but it turned out to be white domination in another guise. The NP replaced overt white domination with covert domination by using coloured and Indian surrogates to do its work.”

Ten spyte van dié waarskuwing het die AP sy vroeëre onderneming om net vir vyf jaar te dien verbreek en weer aan die 1989-verkiesing deelgeneem. Nie eens die feit dat net 0,4 persent van Mitchell’s Plein – die grootse bruin buurt in die land – se inwoners aan die verkiesing deelgeneem het nie, het hul deelname gestop nie. Ook nie die gewelddadige opstande op die Kaapse Vlakte en aan die Oos-Rand nie.

In 1987 het Hendrickse in die toe wit-gereserveerde Koningstrand in die Baai gaan swem. Hy het die destydse staatspresident, mnr PW Botha, egter na bewering verskoning gevra en so is hy veral deur bruines as ’n verraaier uitgekryt: sy brief op 21 Januarie 1987 aan Botha lui: “ … I offer, on behalf of my colleagues and myself, our apologies to you.” Miskien is dit veilig om te vra: Het dié apologie Hendrickse die (politieke) aspoestertjie van die sogenaamde “bruin politiek” gemaak?

Die dilemma van deelname – van puristiese politieke standpunte teenoor deelname aan ’n onaanvaarbare stelsel ter wille van opheffing van ’n verarmde gemeenskap – het vervolgens moeiliker geword om ontledend te artikuleer. Die Arbeiders was toe in die politieke wildernis, want Hendrickse se “politieke-leierskap-kompas” het na bewering nie lekker gewerk nie.

Ironies genoeg het Hendrickse die ANC in 1990 afgemaak as “lakeie van die SAKP” en gevolglik het die AP-kongres besluit om hom te beywer vir ’n geografiese federasie van state. Dit het lynreg teenoor die ANC se “eenheidstaat-voorstel” gestaan. In 1991 het Hendrickse omgeswaai en by die Patriotiese Front (die ANC, SAKP, Azapo en PAC) aangesluit. Dié skielike ommeswaai het ’n konserwatiewe element in die AP ontketen wat niks van samewerking met die PF wou hoor nie. Die AP het geskeur en het in 1992 die bewind deur ’n mosie van wantroue in die Raad van Verteenwoordigers aan die (bruin) NP verloor.

In 1994 het die AP onder die vaandel van die ANC aan die verkiesing deelgeneem en Hendrickse het hom in sy laaste toespraak in 1993 in die parlement dienstig gestel as “tasdraer” vir Madiba. Hendrickse as senator, Peter Hendrickse, Lockey, Luwellyn Landers, Alwyn Goosen en wyle Miley Richards was die enigste dienende LP’s wat in 1994 herkies is tot die parlement.

Oudpresident Thabo Mbeki het Hendrickse in 2004 vereer met die Orde van die Kremetart (silwer) vir sy “stryd teen apartheid”, en ná sy dood in 2005 het die ANC in ’n verklaring gesê Hendrickse “sal onthou word vir die rol wat hy gespeel het om demokrasie tot stand te bring”. Mail & Guardian het Hendrickse egter bestempel as ’n kollaborateur en ’n opportunis: “It would be dishonest to honour Hendrickse as a soldier in the fight against apartheid …”

In die jare '70 en vroeë '80’s het Hendrickse baie gekleurdes gehelp om klarigheid te kry oor politieke issues en dus om sodoende politieke standpunte te kon formuleer. In 1983 het hy egter besluit om in die driekamerparlement te dien. Miskien is dit veilig om te vra: Het die glans van bekendheid, (bruin) kunsmatige politieke mag, ’n ministeriële en parlementêre salaris en duur Duitse motors (die) Hendrickse(s) perspektief laat verloor?

Bronne:

Mail & Guardian

Die Burger

Klagte ondersoek ná pastorie-skade