Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Arme King Jors


Pienkes du Plessis - 2009-06-24

Hy moet baie swaar gehad het, hierdie King Jors, daar ver weg in Engeland. Arme man. Dis altyd as ons eet, maar rêrig lékker eet, en as pa Hans sy bord so hoog opskep met die skaap en die hoender en die braai-aartappels, dat hy diep sug en met groot jammerte dan sê: “Arme King Jors”, voor hy wegval.

Ook agterna met ’n diep bord vol souskluitjies en soet kaneelsous voor hom dat ons weer hoor: “Arme King Jors.” En dan val hy weer weg.

Ons sou mettertyd agterkom dat die meeste ooms in ons wêreld doer duskant die Ghaapse plato net so jammer vir King Jors was. Oom Schalk was een, ook oom Tien Linde, en nog ’n paar ander ook, Gert Koester-hulle, en dis altyd as daar groot geëet word dat hulle praat van die arme man. Soos met Dingaansfees op die rivierwal, of met Krismis of Nuwejaar onder die groot bome. En ook op die basaar van die kerk met die baie pannekoeke dat hulle dit sê. Elke keer as ek vir my pa Hans vra nou hoekom hulle die man so jammer kry, sou ons hoor van hierdie King Jors wat nooit as te nimmer so lekker sal kan eet soos ons nie. King Jors moet glo tevrede wees met lawwe Engelse kos uit blikkies of uit winkels of sulke plekke. G’n skaapribbetjie en souskluitjies vir hom nie. Of ’n werfhoender Sondae in Ma se groot pot nie. Niks daarvan nie, net boeliebief uit ’n blik uit.

Moet ook glo heeldag net Engels praat.

Arme King Jors, inderdaad.

En veral ook nog in die oorlogsjare, bedoelende nou Jan Smuts se oorlog daar iewers ver in die noorde dié tyd. Toe het hy éérs swaar gekry, skat ons. Want as dit by ons swaar was sonder wit meel, sonder botter of rys en nog ’n hele ander klomp kosse waarsonder Jan Smuts se goewerment gesê het ons moet klaarkom, hoe moet dit nie met die arme man daar ver in Engeland gegaan het nie. "Het hy darem katbotter met stroop gehad?" wil klein Doors Kriel weet. En sou hy ook op Woensdae sonder vleis moet bly? het ons veral gewonder. Pa Hans en oom Schalk-hulle het gedink miskien bly hy sommer ’n ekstra dag ook sonder vleis, aangesien dat die oorlog so naby sy huis is. Seker op die dag as hulle moet slag.

Op watter dag sou King Jors-hulle slag? Seker ook maar op Vrydae as die meeste van die werk klaar is. En klaar gemelk ook. Laatmiddag, as dit koel raak, en voor die volk strooise toe gaan, skat Driesman de Lange. En hulle slag darem seker nie ’n tweetand én ’n werfhen nie, want hulle kry mos swaar met die oorlog daar naby. Maak nie saak of dit weekeinde is of nie.

Arme man.

Maar toe eendag is die oorlog verby en toe kom hy mos kuier.

En hierdie King Jors is ’n koning, hoor ons tot ons verbystering toe ons uit die Sub B-klas kom en in die groot klasse sit. King Jors ’n koning? Verbeel jou. En sy eintlike naam is George. George die Sesde. Sit heeldag op ’n troon en dink nuwe wette en oorloë uit. Soos oorloë teen ons en teen die Duitsers.

Sê pa Hans en oom Schalk. En oom Tien.

Saam met hierdie George-koning is daar Elizabeth wat sy koningin is en wat haar eie troon het, maar Pa-hulle weet nie wat sy heeldag op haar troon sit en doen nie. Hulle het ook twee meisiekinders, twee prinsesse is hulle, maar niemand weet of hulle prinses-trone het nie. Maar hulle name is Elizabeth en Margareth.

En hulle kom kuier.

Vir ons? Hier onderkant die Ghaapse vlak? Waar sal die koning weet hoe om hier te kom? By Kimberley se groot stasie sê dit nie mooi lekker waar ons is nie. En dan is dit ook nog oorklim op Warrenton. Dan kom die Drie Sewes van die Transvaal af ook dalk nog verby en dan moet almal regstaan, want die Drie Sewes ry duisend myl ’n uur. Dies wat oorklim, het min tyd. Maar die koning gaan nie oorklim nie.

Sê pa Hans.

Dis ’n wit trein waarmee hulle ry. Al die pad van die Kaap af ry hulle, en stop oral om te groet en te waai en persentjies te kry, so by al die stasies. Hulle gaan vir lank so aanhou, ver ook, so ver soos Transvaal dalk, raai party.

Partykeer, as dit by ’n groot dorp is soos in Kimberley miskien, klim hulle af ook en ry in ’n perdekoets tot by die pawiljoen van die rugbyveld waar almal van naby af kan sien hoe lyk ’n koning as hy koek eet en tee drink. Die koningin en die prinsesse hou hulle pinkies gekrul en eet min van die baie koek op die lang tafels. Maar King Jors eet darem, seker vir hulle part ook, sê Ma-hulle.

Almal is baie bly oor die kuiery, veral Jan Smuts en die Sappe. Oom Schalk sê hy het gesien dat van die Smelters ook bly is, maar nie almal nie, wat ’n bewys is dat Smelters nie so erg is as Sappe nie.

Maar ons is nie bly nie. Ons gaan nie Kimberley toe om vir King Jors te kyk as hy koek eet nie en ons gaan ook nie stasie toe om te kyk hoe die wit trein verby ry nie. Pa Hans druk sy vinger in oom Gert Koester se gesig en vertel hom van vooraf van die kamp op Koffiefontein. Hy skaam hom in die grond in voor hy afsit stasie toe net om King Jors te sien. Van Kimberley praat hy nie eers nie. Sy oorle pa en generaal De Wet draai in hulle grafte om as so iets moet gebeur.

Oom Schalk sê ook so. En oom Tien. En oom Stefaans. En nog baie ander ooms ook.

Maar hulle het nooit rekening gehou met Mister Fisher nie. Mister Fisher is die inspekteur van ons skool en hy kom van ver af, die Kaap dalk, en hy bring vir ons medaljes van die koning af. Medaljes wat nes goud lyk, so mooi is dit. Dit hoor ons een môre, so ’n ruk voor die koning Kimberley toe kom.

Daar is sowat 300 van ons in ons skool. Dis eintlik nie ’n rêrige skool met steenmure soos in ’n dorp nie, want dis maar drie waenhuise en drie huise met skoolbanke en borde en leie en kryte tussen die rosyntjiebosse en kameeldoringbome. Hardegrasveld hierdie beeskampe, met hier en daar nog ’n rooi duin ook. Maar dis ons skool en ons gaan King Jors se medaljes kry.

En elke kind kry een.

Mister Fisher praat eers ’n lang ruk in Engels van King Jors wat ’n majesteit is en toe sê die prinsipaal dit oor in Afrikaans. Ons loop in ’n ry by Mister Fisher verby en hy deel die koeverte uit met die medaljes binne-in. Dis net so groot soos ’n pennie en daar staan "Royal Visit, Koninklike Besoek 1947" op die een kant en "Unie van Suid-Afrika" op die anderkant. Dit het ook ’n gaatjie in met ’n toutjie en ’n haakspeld waarmee ons dit op ons hempsakke moet vassteek.

Oor sy dooie liggaam sal ’n kind van hierdie skool ’n Engelse koning se kop op sy bors dra, sê meneer Daantjie Dik, die onderwyser van die standerd vyfs toe Mister Fisher in ’n rooi stofwolk so in die pad wegry. Oor sy dooie liggaam sal die koning van Engeland in hierdie skool regeer. En die prinsipaal sê oor sy dooie liggaam ook, en die twee nuwe onderwysers en die juffrouens sê almal oor hulle dooie liggame ook.

Net juffrou Abegail sê niks nie. Pa Hans sê, en oom Schalk sê dit ook, hulle het gehoor haar mense in die Kaap praat Engels by die huis en haar ma-hulle hiekel kouse vir die soldate in Jan Smuts se oorlog.

Haal al daai koningkoppe van King Jors uit die koeverte en kom staan hier agter die skool in ’n ry, gebied meneer Daantjie Dik met ’n groot stem. Die standerd sesse eerste. Dan standerd vyf – dis ons, ek en Doors en Martiens en Pikkie-hulle – dan vier, drie en so tot by die heel kleinstetjies. Nader aan die bosse. Nog nader. Kom ek maak die hek oop, dan is julle mooi tussen die bosse en die hardegrasse.

Hy gaan tot drie tel, sê meneer Daantjie Dik, en dan gooi julle vir King Jors tot by die verste bosse in die rooi sand. Kyk mooi hoe doen ek dit. Nou eerste die standerd sesse, en hulle moet die kleinstetjies help.

Dit vat drie honderd plaaskinders nie baie lank om drie honderd King Jors-koppe in die verste bosse weg te gooi nie, ver weg, want ons skool wil nie die skande oor hom laat kom dat enige kind met King Jors se kop op sy bors rondloop nie.

Darem so jammer, sê van die mense later, dat al daardie medaljes nou onder die sand begrawe lê. En sulke mooi koppe nogal van die arme King Jors en sy koningin.

Maar dis nie ons wat dit sê nie. Seker maar Sap-mense wat so praat. Of Smelters, dink oom Schalk en die ander ooms-hulle.

Hy moet baie swaar gehad het, hierdie King Jors, daar ver weg in Engeland. Arme man.